Vancouver
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Vancouver [vænˈkuːvɚ] is 'n hawestad aan die Stille Oseaan, in die weste van die provinsie van British Columbia (Brits-Kolombië, Kanada), met sowat 550 000 inwoners (2005). Vancouver is ook die metropool van die Greater Vancouver Regional District (GVRD) met 2,2 miljoen inwoners en die grootste stad in die westelike Kanada.
Die stad is vernoem na die Britse kaptein George Vancouver, wat in die jaar 1792 as opmeter in die gebied werksaam was.
Vancouver is ook die naam van die groot eiland langs die kus, alhoewel dit nie deel van die stadsgebied is nie. Vancouver-eiland is met sy Fort Victoria die voormalige hoofkwartier van die Hudsonbaai-kompanjie (Hudson's Bay Company) in Wes-Kanada, wat later tot die administratiewe hoofstad van British Columbia, Victoria, ontwikkel.
Vancouver lê op 'n skiereiland tussen die Fraserrivier en die inham Burrard Inlet, met pragtige groen berge, wat tot in die somer sneeubedek bly, in die agtergrond.
Vancouver is vandag 'n kosmopolitaanse stad, wat bekend staan vir sy aangename weskus-leefstyl en die vreedsame naasbestaan van 'n verskeidenheid kulture. Die stad met sy gematigde klimaat word dikwels met San Francisco vergelyk en kan danksy die ligging en sy talle parke in baie opsigte met die Kaliforniese metropool meeding, alhoewel die naglewe van Vancouver nog nie regtig ontwikkel het nie.
Die milde klimaat en aantreklike omgewing maak van Vancouver 'n gewilde woonplek in Wes-Kanada, en veral sedert die tagtigerjare van die 20ste eeu begin 'n ongekende ekonomiese groei. 'n Groot aantal nuwe immigrante het hulle in die stad gevestig, waaronder ook tienduisende voormalige burgers van Hongkong.
Vancouver sal die gasheerstad van die Olimpiese Winterspele van die jaar 2010 wees.
[wysig] Geskiedenis
Die sentrum van British Columbia se goudkoors in 1858 is New Westminster, 'n voorstad van Vancouver, wat toe nog 'n groot bosgebied is.
In vergelyking met die Oos-Kanadese metropole is Vancouver 'n taamlik jong stad. Sy bakermat is die stadswyk Gastown, waar Jack Deighton en sy eggenote in die jaar 1866 met 'n whiskeyvat voet aan wal sit en digby 'n saagmeul hul kroeg open. Deighton, 'n egte praatgraag, kry vinnig die bynaam Gassy Jack, en die nedersetting staan voortaan bekend as Gassy's Town (later Gastown).
Toe die spoorwegmaatskappy Canadian Pacific Railroad in 1886 besluit om 'n spoorwegverbinding dwarsoor die vasteland tot by Vancouver se Burrard Inlet op te rig, begin die ekonomiese groei van die stad, wat ter ere van kaptein George Vancouver sy huidige naam kry. 1886 is ook die amptelike stigtingsdatum van Vancouver.
Vancouver se hawe word 'n belangrike voorpos vir die handel met die Verenigde State, Sjina en Japan. Veral koring en steenkool word van hier na oorsese lande uitgevoer. In hierdie tydperk verdubbel die inwonertal elke vyf jaar, en in 1912 is die stad reeds die tuiste van sowat 120 000 mense. In 1930 word Vancouver die derde grootste stad van Kanada, na Montréal en Toronto.
In die jaar 1898 word Vancouver 'n belangrike hawe vir duisende gouddelwers, wat tydens die stormloop na die nuwe goudvelde van die noorde hier ook hulle toerusting en voedselvoorrade koop.
Met die opening van die Panamakanaal in 1914 kry Vancouver 'n maklike toegang tot die Europese markte.
Die wêreldtentoonstelling Expo 1986 bring 'n groot ekonomiese oplewing vir die stad en staan aan die beginpunt van 'n massa-immigrasie uit onder meer Hongkong. Sowat 70 000 welgestelde burgers van hierdie Sjinese hawestad vestig hulle in Vancouver.
Vandag is die stad Kanada se poort na die markte van die Stille Oseaan, en 'n groot aantal immigrante uit die Verre Ooste kom hulle nog steeds hier vestig.