Walter Sisulu
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Walter Max Ulyate Sisulu (18 Mei, 1912 – 5 Mei, 2003) was 'n Suid-Afrikaanse anti-apartheid aktivis en lid van die African National Congress (ANC).
Hy is in Transkei gebore, die seun van 'n Duitse blanke man en 'n Xhosa-vrou. In 1928 het hy die sendingskool waar hy 'n leerling was verlaat om in Johannesburg te begin werk, eers as arbeider, en later as eiendomsagent.
In 1940 het hy by die ANC aangesluit en in 1943 het hy, Nelson Mandela en Oliver Tambo, die ANC Jeugliga gestig. Hy het ook 'n beplanningsrol gespeel in die militante beweging Umkhonto we Sizwe ("Spies van die Nasie"). Hy was sekretaris-generaal van die ANC van 1949 tot 1954.
In 1952 is Sisulu 'n opgeskorte vonnis opgelê vir sy rol in die beplanning van die Defiance Campaign. Daarna reis hy deur Europa en besoek die VSSR en Sjina as ambassadeur van die ANC. Gedurende die volgende tien jaar is hy sewe keer in die tronk gegooi.
Op 12 Junie 1964, na die Rivoniaverhoor (1963 - 1964), is hy, Mandela, en ander senior ANC-lede tot lewenslange gevangenisskap gevonnis en op Robben-eiland opgesluit.
In Oktober 1989, na 26 jaar in die gevangenis, is hy vrygelaat. Nadat die ANC in 1990 ontban is, is hy in 1991 as onderpresident van die ANC verkies, 'n pos wat hy beklee het tot 1994, toe die eerste ten volle demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gehou is.
In 1992 het die ANC aan hom hulle hoogste eerbewys, die Isitwalandwe Seaparankoe, toegeken vir sy bydrae aan die vryheidstryd in Suid-Afrika.
Hy is in 1944 met Albertina getroud. Die egpaar het vyf kinders van hulle eie gehad en nog vier ander aangeneem. Sisulu se vrou en kinders het ook aktief deelgeneem aan die vryheidstryd teen apartheid. Sedert 1994 is van sy kinders in hoë poste aangestel, onder andere by die SABC en in die kabinet.
Hy is op 5 Mei 2003 oorlede en is op 17 Mei 2003 tydens 'n "spesiale amptelike begrafnis" begrawe.
[wysig] Eksterne skakels
- "Obituary: Walter Sisulu" - BBC News obituary, dated Monday, 5 May, 2003
- "Anti-apartheid fighter Sisulu dies" - BBC News article, dated Tuesday, 6 May, 2003
- "South Africa mourns Sisulu" - BBC News article, dated Tuesday, 6 May, 2003
- "Nelson Mandela's tribute to Walter Sisulu" - BBC News article, dated Tuesday, 6 May, 2003