Belfast
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Belfast | |
---|---|
Land: | Verenigde Koninkryk |
Deelstaat: | Noord-Ierland |
Provinsie: | Ulster |
Graafskap: | Antrim |
Stadstatus sedert: | 1888 |
Koördinate: | 54°36' N, 5°55' W |
Oppervlakte: | 115 vk km |
Bevolking: | 277 000 (2003) |
Bevolkingsdigtheid: | 2 415 / vk km |
Hoogte: | 3 m bo seespieël |
Burgemeester: | Wallace Browne (DUP) |
Belfast (Iers: Béal Feirste) is die hoofstad en grootste stad van Noord-Ierland, een van die vier deelstate van die Verenigde Koninkryk, met 'n oppervlak van 115 vierkante kilometer en 277 000 inwoners (2003). Die metropolitaanse gebied van Belfast (Belfast Metropolitain Urban Area) het 'n bevolking van 579 276.
Belfast lê naby die Laganrivier en teen die uiterste suidweste van die Belfast Lough, 'n lang natuurlike inham, wat van Belfast een van die belangrikste seehawens en die tweede grootste stad van Ierland gemaak het. Twee uitgestrekte bergreekse lê ten suide en noorde van die stad, die Castlereagh-heuwels en die Antrim-heuwels.
Die naam Belfast is afgelei van die Iers-Gaeliese Béal Feirste ("monding van die Farset"). Die stad lê oorspronklik teen die Farsetrivier, tog is die Lagan nou die belangrikste rivier van Belfast. Die Farsetrivier vloei tans onder die High Street en het byna in vergetelheid geraak.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste nedersettings in die gebied van Belfast het in die bronstydperk ontstaan, en die oorblyfsels van versterkings uit die ystertydperk kan nog steeds besigtig word. In 1177 word 'n Normandiese burg in Belfast opgerig.
Die huidige stad is in 1603 gestig, en die Britse Kroon bevorder die immigrasie van Skotse Presbiterianers. Die stad ontwikkel tot die Ierse sentrum van die Protestantisme. Franse Hugenote-vlugtelinge speel 'n groot rol rol by die stigting van die plaaslike linnenywerheid. Die 500 Franse gesinne, wat hulle in die omgewing van die stad Lisburn vesting, voer moderne spin-, weef- en bleektegnieke in, en die Laganvallei ontwikkel tot 'n Ierse nywerheidsentrum. .
Belfast groei vinnig tydens die 17de eeu en is in die 18de, 19de en 20ste eeu 'n belangrike handel- en nywerheidsentrum. Die stad het teen die jaar 1800 24 000 en in 1850 reeds 100 000 inwoners. Belfast trek naas die linnenywerheid ook voordeel uit die katoenhandel, die tabaknywerheid, die vervaardiging van toue en die skeepsbou. Die eerste spoorwegverbinding tussen Lisburn en Belfast is in 1839 geopen. In 1888 kry Belfast stadstatus, en teen die einde van die eeu styg sy bevolking tot 350 000 mense.
Die hawe is reeds in die 18de eeu vergroot. Die skeepsbounywerheid Harland en Wolff beskik hier oor die grootste droogdok ter wêreld, en in 1912 vertrek die reusepassasierskip RMS Titanic, wat deur Harland en Wolff gebou is, van hier vir sy eerste vaart. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die hawe en stadsentrum in April en Mei 1941 deur Duitse bomaanvalle verwoes.
Met die stigting van Noord-Ierland as 'n deelstaat van die Verenigde Koninkryk in die jaar 1921 word Belfast sy hoofstad. Die stad is in sy geskiedenis dikwels die toneel van onluste in die konflik tussen die Protestants-Britse en Iers-nasionalisties gesinde Rooms-Katolieke bevolking. Die mees onlangse burgeroorlogstoestand, die sogenaamde Troubles, heers in die tydperk tussen 1969 en die laat negentigerjare.
Die politieke situasie en ekonomiese ontwikkeling het sedert die sestigerjare van die 20ste eeu tot die neergang van Belfast se nywerhede gelei. In die laaste jare is daar pogings om die plaaslike ekonomie deur grootskaalse beleggings te stimuleer.
[wysig] Klimaat
Belfast het soos die grootste deel van Ierland 'n matige klimaat met hoë reënval. Die gemiddelde maksimale temperature is 19 °C in Julie en 8 °C in Januarie, met jaarliks sowat 200 reëndae en 'n gemiddelde reënval van 850 millimeter. Sneeuval en nat sneeu kom af en toe in die winter voor.