Static Wikipedia February 2008 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu

Web Analytics
Cookie Policy Terms and Conditions Vermont - Wikipedia

Vermont

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

State of Vermont
Vlag van Vermont Staatseël van Vermont
Vlag van Vermont Seël van Vermont
Bynaam: The Green Mountain State
Map_of_USA_highlighting_Vermont
Ander VSA-deelstate
Hoofstad Montpelier
Grootste stad Burlington
Goewerneur Jim Douglas (R)
Amptelike tale Geen
Oppervlakte 24 923 km² (45ste)
 - Land 23 974 km²
 - Water 949 km² (3,8%)
Bevolking (2000)
 - Bevolking 608 827 (49ste)
 - Bevolkingsdigtheid 25,41 /km² (30ste)
Toelating tot die Unie
 - Datum 4 Maart 1791
 - Rangorde 14de
Tydsone UTC -5 / Somertyd -4
Breedtegraad 42°44'N tot 45°0'N
Lengtegraad 71°28'W tot 73°26'W
Wydte 130 km
Lengte 260 km
Hoogte
 - Hoogste punt 1 340 m
 - Gem. hoogte 300 m
 - Laagste punt 29 m
Afkortings
 - VSA-poskantoor VT
 - ISO 3166-2 US-VT
Webwerf www.vermont.gov

Vermont [vɚˈmɑnt] is 'n deelstaat in die noordooste van die Verenigde State van Amerika met 'n oppervlakte van 24 923 km² en 623 000 inwoners (2005). Vermont is ten opsigte van sy bevolking die tweede kleinste VSA-deelstaat na Wyoming. Sy hoofstad is Montpelier (7 945 inwoners, 2003), die grootste stad is Burlington.

'n Uitsig oor die Champlainmeer
'n Uitsig oor die Champlainmeer
Die skioord Killington
Die skioord Killington

Vermont is die tweede grootste, maar ook enigste landgebonde deelstaat in Nieu-Engeland en spog met 'n natuurskoon, wat onder meer die Green Mountains-bergreeks in die weste en die Champlainmeer in die noordweste insluit. Die staat is bekend vir die pragtige kleure wat sy bosgebiede in die najaar (Indian Summer) vertoon, en sy eersterangse skioorde. Die staat lok jaarliks sowat agt miljoen toeriste.

Vermont word begrens deur Massachusetts in die suide, New Hampshire in die ooste, New York in die weste, en die Kanadese provinsie Québec in die noorde. Vermont is 'n oorwegende landelike deelstaat, maar is nogtans strategies geleë tussen die metropolitaanse gebiede van Montréal, Boston en New York.

'n Aantal stamme van die Eerste Nasies soos die Abenaki, Algonkin en Irokese was die eerste bewoners van die gebied. Later het Frankryk aanspraak gemaak op die gebied van die huidige Vermont, maar uiteindelik het dit ná die Franse se neerlaag in die koloniale oorloë teen Brittanje 'n Britse besitting geword.

Vermont het 'n tyd lank 'n omstrede gebied gebly, maar danksy hulle Green Mountains Boys-burgermag het setlaars uit die destydse Province of New Hampshire uiteindelik die oorhand gekry. Ná veertien jaar se onafhanklikheid as Republiek van Vermont was Vermont die veertiende staat wat by die Verenigde State aangesluit het. Vermont is een van slegs vyf state of dele van state wat vroeër as 'n onafhanklike nasie bestaan het - naas Kalifornië, Hawaii, Texas en die Florida-parogieë van Louisiana. Vermont se geskiedenis pronk met 'n lang lys van onafhanklike denkers en liberale politikusse soos Ethan Allen, Matthew Lyon, George Aiken, Jim Jeffords en Bernie Sanders.

Naas sy natuurskoon en liberale denkers staan Vermont ook bekend vir sy suiwelprodukte. Die staat is ook die vernaamste produsent van esdoringstroop in die VSA.

Landbou, veeteelt, bosbou, steengroewe, werktuig- en tekstielnywerheid is die belangrikste bronne van inkomste. Die marmergroewe van Vermont het in die 19de en 20ste eeu die stene vir baie van Amerika se mees bekende geboue opgelewer, soos byvoorbeeld die Jefferson-gedenkteken, die Hooggeregshof en die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. In die sewentigerjare het baie ondernemings uit die Franstalige Kanadese provinsie Québec hulle in Vermont gevestig.

Inhoud

[wysig] Geografie

Mount Ellen in die Groen Berge
Mount Ellen in die Groen Berge

Vermont lê in die Nieu-Engelandstreek van die oostelike Verenigde State en beslaan 'n oppervlak van 24 902 vierkante kilometer (9 614 vierkante myl), wat van die deelstaat die 45ste grootste maak. Die staat se landoppervlak beslaan 23 955 vierkante kilometer (9 250 vierkante myl) en sy wateroppervlak 948 vierkante kilometer (365 vierkante myl). Sy landoppervlak is die 43ste grootste in die VSA en sy wateroppervlak die 47ste grootste.

Die wesoewer van die Connecticutrivier vorm die oostelike grens van die deelstaat met New Hampshire, terwyl die rivier self deel uitmaak van dié buurstaat. Champlainmeer, die grootste meer in Vermont, is die sesde grootste varswatermeer in die Verenigde State en skei Vermont in die noordweste van die buurstaat New York.

Vermont se lengte in noord-suidelike rigting is 256 kilometer (159 myl), en sy grootste wydte in oos-westelike rigting naby die Kanadese grens 143 kilometer (89 myl). Sy kleinste wydte is 60 kilometer (37 myl) naby die grens met die buurstaat Massachusetts. Die staat se geografiese sentrum is Washington, vyf kilometer (drie myl) oos van Roxbury.

Volgens hulle geologiese en fisiese besonderhede is daar ses verskillende fisiografiese gebiede in Vermont: Die Noordoostelike Hoogland, die Groen Berge (Green Mountains), die Taconic-berge (Taconic Mountains), die Champlainvlaktes (Champlain Lowlands), die Vermontvallei en Vermont se Piedmont.

'n Kaart van die noordoostelike Appalaggegebied
'n Kaart van die noordoostelike Appalaggegebied

Die oorsprong van die naam Groen Berge (Engels: Green Mountains, Frans: les Monts verts) is onduidelik. Dit verwys moontlik na die feit dat hulle meer bebos is as die hoër geleë Wit Berge (White Mountains) van New Hampshire of die Adirondack-gebergte van die deelstaat New York. 'n Ander aanleiding vir hierdie benaming is moontlik die groen leisteen van die omgewing, 'n mika-agtige kwarts-chloriet-gesteente. Die bergreeks van die Groen Berge loop in noord-suidelike rigting deur die hele Vermont, effens wes van die staat se sentrum.

Die Taconic-berge lê in die suidwestelike hoek van Vermont, die Granitiese Berge (Engels: Granitic Mountains) in die noordooste. Die vrugbare Champlainvallei lê naby die Champlainmeer in die noordweste van Vermont. Die Bomoseenmeer lê in die suide van die vallei.

Vermont beslaan veertien distrikte (Engels: counties). Vyf van hulle grens in die noorde aan Kanada, en twee in die suide aan die deelstaat Massachusetts. Die deelstate New York in die weste en New Hampshire in die ooste begrens elk vyf distrikte. Net twee distrikte - Lamoille en Washington - word slegs deur ander Vermontse distrikte begrens.

Sowat 77 persent van Vermont se oppervlak, waaronder ook die bergspitse Mount Mansfield, die hoogste in die staat, en Killington, is bebos. Die res van die gebied is weilande, hoogland, mere, poele en moerasgebiede.

Vermont se Nasionale Parkdiens (National Park Service) beheer gebiede soos die wandelpad Appalachian National Scenic Trail en die Nasionale Historiese Marsh-Billings-Rockefellerpark in Woodstock.

[wysig] Klimaat

Een van Vermont se oordekte brûe in die winter
Een van Vermont se oordekte brûe in die winter
Die Champlainvallei in die herfs
Die Champlainvallei in die herfs

Vermont het 'n vogtige kontinentale klimaat met warm en vogtige somers en koue winters. Die hoogste temperatuur wat ooit in Vermont aangeteken is, was 41 °C op 4 Julie 1911 in Vernon; die laagste -46 °C op 30 Desember 1933 in Bloomfield.

As die sneeu in die lente smelt, begin Vermont se "modderseisoen", maar die tydperk tussen laat Februarie en April is ook die tyd wanneer die esdoringstroop "geoes" word. Op die warm somers volg die kleurryke herfs. Sodra die eerste koue front nader, spog Vermont se heuwels met die pragtige rooi, oranje en goue kleure van die esdoringbome. Vermont het die blarekleurspel van die Indian Summer aan sy unieke bodem- en klimaattoestande te danke.

Die baie koue winters in die noorde van Vermont laat temperature 'n gemiddelde 6 °C laer daal as in die suide. Afhangende van die hoogte bo seevlak, kry die verskillende gebiede van Vermont tussen 150 en 250 sentimeter sneeu in die winter en maak van die deelstaat 'n eersterangse wintersportbestemming in Nieu-Engeland.

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Prehistoriese en Voor-Columbiaanse tydperk

'n Abenaki-egpaar (waterverfskildery uit die 18de eeu)
'n Abenaki-egpaar (waterverfskildery uit die 18de eeu)

Vermont was vanaf die Kambriese tot by die Devoniese tydperk bedek met die vlak waters van die destydse oseane. Die sedimentêre gesteente van hierdie seegebiede is later deur die bergreekse, wat hier ontstaan het, vervorm. Desondanks is fossiele volop in die Champlainmeer-gebied.

Laer geleë streke van die westelike Vermont is ten die einde van die laaste ystydperk, toe die land nog steeds onder die gewig van die gletsers geswig het, nog eens deur die waters van die sogenaamde Champlainsee van die Sint-Laurensvallei oorstroom. Daar is onder meer skulpe van soutwater-weekdiere en gebeentes van beloega-walvisse in die Champlainmeer-gebied gevind.

Min is bekend oor die Voor-Columbiaanse geskiedenis van Vermont. Die weste van die huidige deelstaat was die tuisland van Algonkinstalige stamme van die Eerste Nasies, waaronder Mohikane en Abenaki. In die tydperk van die Champlainsee, tussen 8500 en 7000 v.C., is Vermont deur jagterstamme van die Eerste Nasies bewoon.

Die tydperk tussen die 8ste eeu v.C. en 1000 n.C. staan as die Argaïese Periode bekend. Die Eerste Nasies was destyds nomadies. In die Woudlandperiode tussen 1000 en 1600 is dorpe aangelê en handelsbetrekkinge gesmee. Ook keramiese en pyl-en-boog-tegnologieë is in hierdie tydperk ontwikkel.

Tussen 1500 en 1600 het die Irokese baie van die kleiner stamme uit Vermont verdryf en dit as hulle jaggebied gebruik. Teen die oorblywende Abenaki het die Irokese-stamme steeds oorlog gemaak. Die bevolking omtrent 1500 word op sowat 10 000 mense beraam.

Die eerste Europeër, wat Vermont verken het, was vermoedelik Jacques Cartier in die jaar 1535. Die Franse ontdekkingsreisiger Samuel de Champlain het op 30 Julie 1609 aanspraak gemaak op die gebied van die huidige Champlainmeer en die berge van die omgewing les Monts Verts ("Groen Berge") genoem.

[wysig] Die koloniale tydperk

Frankryk het die gebied van Vermont as 'n deel van sy kolonie Nieu-Frankryk beskou en aanspraak daarop gemaak. As deel van die versterking van die Champlainmeer is in 1666 die fort Sainte-Anne op die eiland La Motte opgerig. Dit was die eerste Europese nedersetting in Vermont.

Gedurende die tweede helfte van die 17de eeu het ander Europese setlaars die gebied van Vermont begin verken. 'n Groep van Nederlandse en Britse setlaars onder die leiding van kaptein Jacobus de Warm het in 1690 die handelspos De Warm Stockade by Chimney Point opgerig, sowat dertien kilometer wes van die huidige Addison. Hierdie nedersetting was aan die anderkant van Champlainmeer en dus maklik toeganklik vanaf Crown Point (Frans: Pointe à la Chevelure) in New York.

Die Franse Fort Carillon in die huidige deelstaat New York is ná sy verowering deur Britse troepe hernoem tot Ticonderoga en huisves ná sy restourasie tans 'n museum, wat die Amerikaanse militêre geskiedenis van die gebied behandel
Die Franse Fort Carillon in die huidige deelstaat New York is ná sy verowering deur Britse troepe hernoem tot Ticonderoga en huisves ná sy restourasie tans 'n museum, wat die Amerikaanse militêre geskiedenis van die gebied behandel

Die Franse het die nedersetting in 1731 oorgeneem en 'n klein voorlopige houtverskansing, Fort de Pieux, op die plek van die voormalige Chimney Point opgerig. In 1734 is met die bou van Fort Saint-Frédéric begin, wat sowat twintig jaar lank die enigste permanente fort in die gebied was en Franse oorheersing oor die grensgebied van Nieu-Frankryk en Vermont verseker het. Die owerhede het die stigting van klein Franse nedersettings in die vallei bevorder. 'n Tweede Franse versterking, Fort Carillon, het in 1755 ontstaan.

Die Britte het in die tydperk tussen 1755 en 1758 vier keer geprobeer om Fort Saint-Frédéric oor te neem. In 1759 het 'n Britse strydmag van 12 000 soldate, wat uit Britse en provinsiale troepe onder die bevel van Sir Jeffrey Amherst bestaan het, die fort verower. Die Franse is uit die gebied verdryf en het hulle teruggetrek na ander forte langs die Richelieurivier. Een jaar later het 'n groep Mohawk-Indiane die nedersetting aan die brand gesteek, en net die skoorstene (Engels: chimneys) het oorgebly en die aanleiding vir die benaming Chimney Point gegee.

In 1724 is Fort Dummer onder die bevel van luitenant Timothy Dwight in die suidooste van Vermont as die eerste permanente Britse nedersetting opgerig. Die fort het die nabygeleë dorpe Dummerston en Brattleboro teen aanvalle beskerm. Dié twee dorpe is deur die Provinsie van Massachusettsbaai gestig om sy setlaars in die westelike grensgebied langs die Connecticutrivier te beskerm. 'n Tweede Britse nedersetting, Bennington in Suidwes-Vermont, het in 1761 ontstaan.

Gedurende die Britse koloniale oorlog teen die Franse en Indiane het sommige setlaars uit Vermont, waaronder ook Ethan Allen, by die koloniale burgermag aangesluit om aan die Britse kant teen die Franse te veg. Die Franse Fort Carillon in die grensgebied van Vermont en New York was die toneel van twee Britse offensiewe onder die bevel van Lord Amherst. Ná die eerste mislukte aanval in 1758 is die grootste deel van die Franse garnisoen in die volgende jaar onttrek om Québec, Montréal en die Franse forte in die weste teen aanvalle te beskerm. Die Britte het die fort sonder erge weerstand ingeneem en hernoem tot Ticonderoga. Ná Frankryk se neerlaag in die koloniale oorlog het die Verdrag van Parys in 1763 Groot-Brittanje se oorheersing oor die gebied bevestig.

Ná die einde van die oorlog het nuwe setlaars hulle in Vermont kom vestig. Naby Crown Point is 'n fort opgerig, en die militêre pad van hierdie vesting, wat deur Vermont se wildernis geloop het, was 'n maklike roete, wat Vermont met die aangrensende Britse kolonies verbind het. Van hierdie kolonies het egter drie aanspraak gemaak op die gebied. Die Provinsie Massachusettsbaai het die land op grond van die Massachusettsbaai-Kolonie se oktrooi uit die jaar 1629 opgeëis. Nadat die Hertog van York en latere koning James II in 1664 land aan die Provinsie New York toegeken het, het ook hierdie kolonie Vermont as sy besitting beskou. 'n Derde kolonie, die Provinsie New Hampshire, het sy aanspraak op Vermont op 'n dekreet van koning George II uit die jaar 1740 gesteun.

Die vlag van die Green Mountain Boys-burgermag se infanterie is later deur die onafhanklike Republiek van Vermont aangeneem
Die vlag van die Green Mountain Boys-burgermag se infanterie is later deur die onafhanklike Republiek van Vermont aangeneem

In 1741 het koning George II egter besluit dat Massachusetts se landeise in Vermont en New Hampshire ongeldig was, en Massachusetts se grenslyn is volgens sy huidige loop vasgestel. Die botsende aansprake van New Hampshire en New York was hiermee egter nog nie afgehandel nie.

Die konflik het uiteindelik in die sogenaamde New Hampshire Grants gekulmineer, waarin die koloniale goewerneur van New Hampshire, Benning Wentworth, in die tydperk tussen 1749 en 1764 135 landerye aan setlaars toegeken het. As 'n reaksie op hierdie toekennings het die goewerneur van New York self ook Vermontse landerye aan burgers van New York toegeken.

In 1770 het Ethan Allen saam met sy broeders Ira en Levi, asook Seth Warner, 'n informele burgermag gerekruteer, die sogenaamde Green Mountain Boys, om die belange van die oorspronklike New Hampshire-setlaars teen die nuwe aankomelinge uit New York te beskerm. Toe 'n New Yorkse regter in Maart 1775 saam met 'n groep setlaars in Westminster aangekom het, het onluste uitgebreek. Woedende burgers het die geregsgebou beset en een van die sheriff se adjunkte ontbied. In die sogenaamde "Westminster-bloedbad", wat gevolg het, is Daniel Houghton en William French dood.

[wysig] Die Republiek van Vermont

Op 18 Januarie 1777 het afgevaardigdes van die New Hampshire Grants in Westminster vergader en die onafhanklikheid van die Republiek van Vermont verklaar. In die eerste ses maande van sy bestaan het die republiek, wat destyds omtrent 10 000 inwoners getel het, nog as New Connecticut bekend gestaan.

Op 2 Junie het 72 afgevaardigdes 'n tweede vergadering in Westminster bygewoon, wat as die Westminster-Konvensie bekend staan. Tydens hierdie byeenkoms het die afgevaardigdes die naam "Vermont" aanvaar, wat deur Dr. Thomas Young uit Philadelphia voorgestel is. Young was 'n ondersteuner van die vergadering en het 'n brief aan hulle gerig, waarin hy advies oor 'n moontlike toetreding van Vermont tot die onafhanklike Verenigde State as hulle 14de staat voorsien het. Die afgevaardigdes het besluit om een maand later nog eens te vergader.

Die Republiek van Vermont se Grondwet is in die Old Constitution House in Windsor onderteken
Die Republiek van Vermont se Grondwet is in die Old Constitution House in Windsor onderteken

Op 4 Julie is die Grondwet van die Republiek van Vermont tydens 'n hewige donderstorm in Elijah West se "Windsor"-kroeg ontwerp en ná vier dae se debatte op 8 Julie goedgekeur. Dit was een van die eerste geskrewe grondwette in Noord-Amerika en onbetwisbaar die eerste wat slawerny afgeskaf het, die algemene stemreg aan mans toegeken en die owerhede verplig het om openbare skole te befonds. Die Windsor-kroeg is as die Old Constitution House bewaar en word as 'n historiese monument van Vermont bestuur.

Die jong republiek is deur New York, New Hampshire, Groot-Brittanje en die Verenigde State bedreig, wat almal nie sy onafhanklikheid erken het nie. In die somer van 1777 het 'n Britse leër onder die bevel van generaal John Burgoyne Vermont vanuit Kanada binnegeval en in suidelike rigting na die Hudsonrivier beweeg. Die Britse troepe het die strategies belangrike Fort Ticonderoga ingeneem en die desperate Kontinentale Leër het na die suide onttrek. Groepe van Britse soldate en Indiaanse krygers het grensdorpe in die Champlainvallei aangeval, geplunder en aan die brand gesteek en sodoende ook nedersettings in die suide bedreig. Die Vermontse grensgebied het onder die Britse aanvalle geswig.

Die parlement van New Hampshire het dié deelstaat se burgermag onder die bevel van generaal John Stark gemobiliseer, om 'n Britse aanval vanuit die ooste af te weer. Generaal Burgoyne het berigte ontvang dat Bennington, die grootste nedersetting in die Grants-gebied, toegerus was met groot hoeveelhede krygsvoorrade, voedsel en perde. Burgoyne het 2 600 mans, sowat 'n derde van sy troepe, gestuur om beslag te lê op die voorrade en perde. Hy was egter nie daarvan bewus dat generaal Stark se New Hampshire-troepe intussen op pad na Bennington was nie. Stark en sy mans het teen dié tyd reeds deur die Groen Berge getrek om by die Vermontse Kontinentale Regimente onder die bevel van kolonel Seth Warner en die burgermagte van Vermont en Wes-Massachusetts aan te sluit.

Die Act of Congress uit die jaar 1790, waarmee Vermont tot die Unie toegelat is. Vermont het op 4 Maart 1791 amptelik 'n deelstaat van die Veenigde State geword
Die Act of Congress uit die jaar 1790, waarmee Vermont tot die Unie toegelat is. Vermont het op 4 Maart 1791 amptelik 'n deelstaat van die Veenigde State geword

Die verenigde Amerikaanse troepe het onder die bevel die Britse kolom naby Hoosick (New York) aangeval, net oorkant die grens vanaf Bennington. Die Amerikaanse boere het hulle huise, gesinne en besittings verdedig, en ondanks die ondraaglike somerhitte die hele dag teen die Britte geveg. Volgens oorlewerings het generaal Stark sy mans uitgedaag om tot by die dood vir hulle vryheid te veg: "Daar is julle vyande. Ons gaan hulle in die geveg verslaan, of Molly Stark gaan vannag as 'n weduwee bed toe!"

Die Amerikaanse boerevegters het byna die hele Britse afdeling gedood of gevange geneem. Generaal Burgoyne het van die verliese nooit meer herstel nie en op 17 Oktober met die res van sy oorspronklik 6 000 troepe in Saratoga (New York) oorgegee.

Die Slag van Bennington op 16 Augustus 1777 was dus 'n uiters belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Vermont. Die klein staat het in die oë van sy wyd verspreide setlaarsgemeenskap (volgens die VSA se Sensusburo was daar in 1780 47 600 inwoners) legitimiteit ontleen uit sy vermoë om die aanval van 'n groot vyandelike strydmag van 1 250 Duitse huursoldate, Kanadese, Lojaliste en Indiane af te weer, en die Republiek van Vermont was in staat om sy onafhanklike status vir 'n tydperk van veertien jaar te bewaar, om uiteindelik in 1791 as 14de deelstaat by die Unie aan te sluit.

Die Slagte van Bennington en Saratoga word as 'n keerpunt in die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog beskou, aangesien die Britte hulle eerste vernederende neerlae gely het, terwyl die Franse die Amerikaners nou waardig geag het om militêre steun te ontvang. Stark het bekendheid verwerf as die "Held van Bennington", en die Slag van Bennington word in Vermont nog steeds met 'n openbare vakansiedag, die Bennington Battle Day, herdenk. 'n Britse Koperkanon, wat tydens die Slag van Bennington in Amerikaanse hande geval het, word onder die portiek van die Vermont Statehouse, langsaan 'n heroïese standbeeld van Ethan Allen, bewaar.

Vermont het nog veertien jaar lank 'n selfregerende staat gebly, met die oostelike stad Windsor as sy regeringsetel. Die Republiek van Vermont het sy eie geldeenheid ingevoer en 'n posdiens ingestel. Thomas Chittenden, wat in 1774 uit Connecticut na Vermont gekom het, het die amp van staatshoof beklee en homself liewer goewerneur as president genoem. Chittenden het die republiek tussen 1778 en 1789 en vanaf 1790 tot 1791 geregeer. Formele diplomatieke betrekkinge is gevestig met Frankryk, Nederland en die Amerikaanse regering in Philadelphia. In 1791 het Vermont as die 14de deelstaat by die Unie aangesluit - en ook as die eerste deelstaat ná die oorspronklike dertien kolonies. Vermont was 'n soort teengewig teen die staat Kentucky, wat kort daarna tot die Unie toegelaat is en waar slawerny nog wettig was. Volgens die sensus van dieselfde jaar was daar 85 341 inwoners. Thomas Chittenden het ook ná Vermont se toelating tot die Unie tot by die jaar 1797 as goewerneur gedien.

[wysig] Die vroeë 19de eeu

Die eerste generasie van Vermont se politieke leiers is vervang deur veterane van die Rewolusionêre Oorlog, wat regsopleiding ontvang het, en nuwe setlaars uit die suide van Nieu-Engeland vervang. In 1810 het die bevolking reeds 217 895 beloop. Maar die ekonomiese en bevolkingsgroei het met die Amerikaans-Britse konflik en die Oorlog van die jaar 1812 tot stilstand gekom. Vermont, wat as die eerste landgebonde deelstaat van die VSA onder meer oor die Champlainmeer handel met Kanada gedryf het, is swaar getref toe die VSA hulle handelsbetrekkinge met Brits-Noord-Amerika in 1808 verbreek het. Veral burgers in die weste van die deelstaat was sterk gekant teen die Jefferson-regering en sy oorlogsvoering, en oorgrens-smokkelary het duidelik toegeneem. Vermonters oos van die Groen Berge het danksy die Connecticutrivier oor 'n waterweg-verbinding met die res van Nieu-Engeland beskik, maar die oorlog teen die Britte was hier eweneens ongewild.

Teen die middel van die 1820's het die Amerikaanse konsul in Lissabon tweehonderd merinoskape na Vermont gebring en sodoende 'n nuwe bedryf gestig, wat vinnig begin floreer het. Tot by die jaar 1840 was daar reeds sowat 1,7 miljoen skape in Vermont, wat tot een van die belangrikste wolprodusente in die VSA ontwikkel het. Skaapteelt het as 'n minder intensiewe vorm van landbou die herverdeling van land en emigrasie bevorder. Ná 1840 het mededinging van die westelike deelstate en 'n verlaging van die invoerbelasting tot die neergang van die bedryf gelei.

Die Champlain-Hudson-verbinding met die Eriekanaal, 'n afkorting wat in 1823 geopen is, is aanvanklik vanweë sy uitvoerpotensiaal vir Vermont se landbou- en nywerheidsprodukte verwelkom, maar dit het uiteindelik die plaaslike mark vir koring uit die westelike deelstate geopen en Vermont se ekonomie op tekstielvervaardiging en melkboerdery laat konsentreer. Daarnaas het die nuwe waterweg ekonomiese bande met Kanada laat verslap en emigrasie na die weste vir Vermontse burgers vergemaklik.

[wysig] Standpunt teen slawerny en Amerikaanse Burgeroorlog

'n Manuskrip van Vermont se grondwet (1777)
'n Manuskrip van Vermont se grondwet (1777)

Tot by die jaar 1836 het Vermont se parlementêre stelsel net oor een kamer beskik. Die Senaat van Vermont, wat later tot stand gekom het, het in 1854 in 'n verslag oor slawerny die standpunt bevestig, wat Vermont met die eerste artikel van sy grondwet ingeneem het. Die artikel het die belangrikheid van gelyke regte vir alle mense beklemtoon, en die Senaat het die bevoorregting van een volk en die benadeling van 'n ander bevraagteken. Die verslag het die groei van die anti-slawernybeweging in Vermont aangespoor, maar tegelykertyd die Algemene Vergadering van Georgia uitgedaag, wat 'n resolusie ten gunste van politieke optrede teen Vermont goedgekeur het.

In die laat 1850's het die openbare mening in Vermont, wat tot dusver eerder die status quo gesteun het, ten gunste van sterk teenkanting teenoor slawerny geswaai. Een van die mees uitgesproke kritici van die slawernystelsel in die Suide was die Radikale Republikein Thaddeus Stevens. Met die krimpende steun vir die Whig-party en die groei van die Republikeinse Party het Vermont se kiesers hulle met geesdrif agter die Republikeinse kandidate geskaar. Aanvanklik net in Vermont self, maar later ook in die nasionale presidentsverkiesing. In 1860 het Vermonters met die grootste meerderheid van alle deelstate vir President Abraham Lincoln gestem.

Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het meer as 34 000 Vermonters diens in die Verenigde State se weermag gedoen en 18 infanterie- en kavallerieregimente, 3 ligte artillerie-batterye, 3 kompanies van skerpskutters, 2 kompanies van die Grenskavallerie (Frontier Cavalry) en duisende ander soldate in die leër en vloot, asook in die eenhede van ander deelstate opgelewer. Byna 5 200 Vermonters het op die slagvelde gesneuwel, is dodelik gewond of het aan siektes beswyk. Vermontse eenhede of soldate het in al die belangrike slagte van die oorlog geveg.

[wysig] Die na-oorlogse tydperk en jongste geskiedenis

Vier voet se sneeuvalle is gedurende die Valentynsdag-blizzard in Februarie 2007 in Monkton, VT aangeteken
Vier voet se sneeuvalle is gedurende die Valentynsdag-blizzard in Februarie 2007 in Monkton, VT aangeteken

Die twee dekades, wat op die oorlog gevolg het, was deur periodes van ekonomiese op- en afswaai en maatskaplike veranderings gekenmerk. Vermont se spoorweë is met die nasionale spoorwegstelsels verbind, landbouproduksie en uitvoere het net soos die inkomste van die bevolking duidelik gestyg.

Die nadelige gevolge van resessies en finansiële krisisse, veral die paniek van die jaar 1873, het baie jong Vermonters gedwing om die staat te verlaat. Die veldtogte ter beskerming en uitbouing van burgerregte is aangespoor deur die Vermontse Senaat se verslag oor slawerny en later deur president Abrahalm Lincoln se Gettysburg-toespraak. Vermonters het onder meer aangedring op die vrouestemreg. Die eerste verkiesings in Vermont, waarin vroue 'n beperkte stemreg geniet het, was die munisipale verkiesings (town elections) op 18 Desember 1880. Later het Vermontse vroue ook stemreg in die parlementêre verkiesings van die deelstaat geniet.

As 'n gevolg van die Vermontse Hooggeregshof se beslissing in die regssaak van Baker teen Vermont het die Algemene Vergadering van Vermont op 25 April 2000 die wetsontwerp H.0847 goedgekeur, wat die burgerlike verbintenis tussen mense van dieselfde geslag in Vermont moontlik maak.

[wysig] Ekonomie

Volgens die verslag van die Verenigde State se Buro vir Ekonomiese Ontleding het Vermont se bruto geografiese produk (BGP) in 2004 VSA-$ 22,1 miljard (ZAR 158,5 miljard) beloop en die persoonlike per-capita-inkomste was VSA-$ 32 770 (ZAR 235 091).

[wysig] Landbou

Die regstreekse en onregstreekse bydrae van die landbousektor, wat in 2000 slegs drie persent van die totale arbeidsmag verteenwoordig het, het VSA-$ 2,6 miljard of sowat 12 persent van die BGP beloop. Die totale landbougrond in Vermont beslaan sowat 1,5 miljoen akkers.

'n Roomysfabriek in Waterbury
'n Roomysfabriek in Waterbury

Vermont se demografiese ontwikkeling was in die afgelope twee eeue sowel deur bevolkingsontploffings asook deur skerp dalings van die inwonerstal gekenmerk. Met die groot trek na die Groot Vlaktes, waar landbougrond volop was en maklik bewerk kon word, het die staat 'n groot deel van sy bewoners kwytgeraak. Ook die belangrikheid van Vermont se bosse het vanweë die oormatige houtontginning en sterk mededinging van ander houtprodusente geleidelik afgeneem. Landbougronde en woude het weens die krimpende bevolking egter die kans gekry om te herstel. Die gebrek aan nywerhede, wat met die negatiewe demografiese ontwikkeling gepaard gegaan het, het verseker dat die plaaslike bosgebiede ook in die 20ste eeu in 'n ekologies gesonde toestand verkeer het.

Vandag is melkboerdery die belangrikste bron van landbou-inkomste, en Vermont lewer sowat die helfte van die melk op wat in Nieu-Engeland verbruik word. Ander belangrike landbouprodukte is appels, aartappels, groente, eiers, heuning, kersbome, timmerhout, papierpulp en 'n verskeidenheid kweekhuisprodukte. Die plaaslike voedselbedryf lewer in 'n toenemende mate spesialiteite van hoë gehalte op, wat gedeeltelik onder die "Vermont"-handelsmerk bemark word. Produkte sluit onder meer Cabot-kaas ('n soort sterk cheddar), botter, bier, ginseng, sjokolade, meelblom en roomys in. Vermont se Agentskap vir Landbou, Voedselverwerking en Bemarking handhaaf ten opsigte van die suiwelbedryf die hoogste standaarde in die Verenigde State. Die standaarde ten opsigte van bottervetgehalte is net so hoog soos dié van Frankryk, die wêreldleier op die gebied.

Vermont is ook die vernaamste produsent van esdoringstroop in die land, wat in 2001 275 000 gellings (1,04 miljoen liter) of sowat 'n kwart van die totale produksie in die VSA opgelewer het. Vermont se gradering van esdoringstroop verteenwoordig die hoogste standaard in Noord-Amerika.

[wysig] Steengroewe en steenmakerye

Long Pond-meer naby Eden (Lamoille-distrik)
Long Pond-meer naby Eden (Lamoille-distrik)

Die eerste marmergroef in die Verenigde State is in 1785 in South Dorset geopen. Die dorpe Rutland en Barre is die tradisionele sentrums van steenmakery, en hulle steengroewe lewer nog steeds groot hoeveelhede marmer en graniet vir die binnelandse en buitelandse markte op. Vermont het sodoende die boumateriaal vir 'n aantal bekende geboue in die Verenigde State opgelewer. Vermontse marmer is onder meer vir die Jefferson-gedenkteken, die Hooggeregshof en die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York gebruik. Die plaaslike bedryf vervaardig daarnaas ook grafstene.

[wysig] Toerisme

Die toerismebedryf het lankal die belangrikste sektor van Vermont se ekonomie geword. In die winter lok skioorde soos Stowe, Killington Ski Resort, Mad River Glen, Sugarbush, Stratton, Jay Peak, Okemo, en Bromley skiërs uit Boston, Montréal en New York, maar ook van dwarsoor die wêreld. In die somer lok bestemmings soos Stowe, Manchester, en Woodstock, asook talle somerkampe toeriste wat in bergvakansies, staptoere en hengelsport belang stel. Vakansieoorde, hotelle, restourante, winkels en besienswaardighede is dwarsdeur die jaar belangrike werkverskaffers.

[wysig] Demografie

Ascutney Mountain (Windsor-distrik)
Ascutney Mountain (Windsor-distrik)

Volgens skattings van die Verenigde State se Sensusburo het Vermont se bevolking in 2005 623 050 mense beloop. Sowat 98 persent van Vermont se inwoners is Blankes, met klein minderhede Swartes, lede van die Eerste Nasies (Indiane) en Asiërs. 23,3 persent van Vermonters is van Franse of Frans-Kanadese afkoms, 18,4 persent van Engelse afkoms, 16,4 persent van Ierse afkoms, 9,1 persent van Duitse afkoms en 6,4 persent van Italiaanse afkoms. Volgens die sensus van 2000 praat 2,54 persent van die bevolking, wat ouer is as vyf jaar, Frans as huistaal en een persent Spaans.

Burgers van Britse, veral Engelse afkoms, het hulle dwarsoor die deelstaat gevestig, terwyl die bevolking van Frans-Kanadese afkoms in die noorde van Vermont gekonsentreer is. Veral in die gebied van Burlington het hulle in die laaste twee dekades ook vlugtelinge en immigrante uit Suidoos-Asië, Bosnië, Soedan en Tibet gevestig.

67 persent van Vermonters is Christene, waarvan 38 persent Rooms-Katolieke en 29 persent Protestante. Twee persent is aanhangers van ander godsdienste, waaronder sowat 5 000 Jode, en meer as twintig persent ongebonde, die tweede grootste persentasie van enige deelstaat.

In die koloniale tydperk was die Kongregasionalisme (of Independentisme) die belangrikste Christelike stroming in Vermont en sy buurstate. In 1776 was 63 persent van Vermonters aanhangers van een van hierdie kerke, alhoewel lidmaatskap in 'n kerkgemeente in die yl bevolkte gebied beperk was tot nege persent van die bevolking.

[wysig] Vervoer

'n Amtrak-trein in die stasie van Brattleboro
'n Amtrak-trein in die stasie van Brattleboro

Motors is die belangrikste vervoermiddel in Vermont. Die munisipaliteite en distrikte beskik oor openbare vervoerstelsels, wat egter net 'n gedeelte van die gebiede dek. Greyhound Lines se busdienste bedien 'n aantal stede en dorpe.

Twee Amtrak-spoorwegdienste bedien Vermont: Die Ethan Allen Express bedien Rutland en Fair Haven, terwyl die Vermonter Saint Albans, Essex Junction, Waterbury, Montpelier, Randolph, White River Junction, Windsor, Bellows Falls en Brattleboro bedien.

Die nasionale paaie (Interstates) 89, 91 en 93, asook U.S. Routes 5 en 7, is die belangrikste grootpaaie in Vermont.

Vermont beskik oor twee kommersiële lughawens:

  • Burlington International Airport is die grootste lughawe in die deelstaat, met gereelde verbindings na Atlanta, Boston, Chicago, Cincinnati, Cleveland (Ohio), Detroit, New York Stad, Philadelphia, Plattsburgh, and Washington, DC.
  • Rutland State Airport is die enigste ander kommersiële lughawe in Vermont, met gereelde verbindings na Albany en Boston.

[wysig] Kultuur

Die kulturele lewe en vermaaklikhede was tot by die laat 19de eeu beperk tot die dorpsgrense en oorheers deur die feeste van 'n tipiese boerderygemeenskap. Mense het fees gevier tydens die oestyd van die esdoringstroop, wanneer "suiker-in-die-sneeu-partytjies" plaasgevind het, of in die mielie-oestyd, wanneer die mieliestronke geskil is. Ander gewilde sosiale aktiwiteite, waartydens die dorpsbewoners byeengekom het, was die kitchen junkets (gemeenskaplike smul-partytjies), quilting bees (die gemeenskaplike vervaardiging van komberse) en barn raisings (die gemeenskaplike oprigting van 'n nuwe skuur. In die somermaande was parades, sirkusse en landbouskoue gewilde vermaaklikhede, en hulle vind deesdae nog gereeld plaas.

[wysig] Musiek

Die Simfonieorkes van Vermont, wat in 1934 gestig is, was die eerste van sy soort wat deur 'n deelstaat befonds is. Vermont se Jeugorkester is in die middel van die negentigerjare gestig. Plaaslike komponiste van klassieke musiek word deur die Konsortium van Vermontse Komponiste bevorder. Phish, 'n internasionaal bekende rockgroep, is in 1983 in Vermont gestig.

Die Vermont Mozart Festival, wat vir die eerste keer in 1974 plaasgevind het, is die grootste fees van klassieke musiek in Vermont, wat in die somer ook talle besoekers uit ander deelstate lok. Ander belangrike musiekfeeste sluit die Marlboro Musiekfees (sedert 1950), die Folkmusiekfees van die Champlainvallei en die One World, One Heart Festival in. Die laasgenoemde word deur 'n bekende plaaslike roomysvervaardiger geborg.

[wysig] Filmkuns

Die bekende Green Mountain-filmfees het vir die eerste keer in 1997 plaasgevind en is sedert Maart 1999 'n jaarlikse instelling, wat danksy die gehalte van die rolprente en sy besonderse atmosfeer filmgeesdriftiges na Montpelier lok. By die vorrbereidings is net plaaslike vrywilligers betropkke. Die filmfees is egter geen kompetisie nie, maar eerder 'n gewilde toonvenster vir nuwe films, waarvan sowat die helfte dokumentêre rolprente, en 'n geleentheid om met sommige van die filmmakers te kan gesels.

Flag of Vermont State of Vermont
Onderwerpe

Grondwet | Kultuur | Geografie | Regering | Geskiedenis | Ekonomie | Stede | Dorpe in Vermont

Hoofstad

Montpelier

Streke

Champlainvallei | Groen Berge | Mount Mansfield | Northeast Kingdom

Distrikte

Addison | Bennington | Caledonia | Chittenden | Essex | Franklin | Grand Isle | Lamoille | Orange | Orleans | Rutland | Washington | Windham | Windsor

Stede

Barre | Burlington | Montpelier | Newport | Rutland | South Burlington | St. Albans | Vergennes | Winooski

Dorpe

Bennington | Calais | Stowe | Williston

Static Wikipedia 2008 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -

Static Wikipedia 2007 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -

Static Wikipedia 2006 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu