Edinburgh
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Edinburgh (uitgespreek [ˈɛdɪnb(ə)rə]; Skots-Gaelies: Dùn Èideann ([tuːn ˈeːtʃən])) is die hoofstad en tweede grootste stad van Skotland met naastenby 440 000 inwoners volgens die sensus van 2001. Edinburgh is die sewende grootste stad in die Verenigde Koninkryk en sy tweede belangrikste toeristebestemming na Londen met jaarliks sowat 13 miljoen besoekers.
Edinburgh lê aan die ooskus van Skotland se sentrale vlakte en aan die suidoewer van die Firth of Forth. Die stad vorm saam met die omliggende plattelandse gebiede die City of Edinburgh council area. Edinburgh dien sedert 1437 as die hoofstad van Skotland en is die setel van die outonome Skotse regering. Die stad was een van die sentrums van die Skotse Verligting, waarby die Universiteit van Edinburgh 'n belangrike rol gespeel het. Danksy sy neo-klassieke boustyl het Edinburgh reeds in die 19de eeu die bynaam "Athene van die Noorde" gekry. Die distrikte Old Town - die historiese stadskern - en New Town - 'n nuwe stadswyk wat in die tweede helfte van die 18de eeu vir welgestelde burgers opgerig is - is deur die UNESCO in 1995 as wêrelderfenisgebiede gelys.
[wysig] Geografie en klimaat
Sowat 320 miljoen jaar gelede het die komme van 'n aantal vulkane in die gebied afgekoel en verdig om vaste vulkaniese basaltproppe te vorm. Gedurende die laaste Ystydperk het gletsers die gebied geërodeer en die prop in die weste as 'n rotspunt blootgelê, terwyl rolstene en ander materiaal in oostelike rigting weggevee is.
Tegelykertyd het die gletser die grond op albei kante uitgebeitel en sodoende die Grassmarket- en Cowgate-ravyne in die suide en die vleiagtige Nor Loch-vallei in die noorde geskep. Die rotspunt vorm nou Castle Rock, terwyl die steil rif in die ooste as Royal Mile bekend staan. Die Royal Mile hel Holyrood toe oor 'n afstand van sowat 1,6 kilometer af.
Hierdie landskap het 'n natuurlike vesting gevorm, en tydens opgrawings is hier onlangs voorwerpe uit die Laat Bronstyd (sowat 850 v.C.) ontdek. Arthur's Seat, 'n berg van vulkaniese oorsprong, bied 'n pragtige uitsig oor die stad.
Alhoewel Edinburgh op dieselfde breedtegraad soos byvoorbeeld Moskou en Labrador lê, het dit 'n gematigde seeklimaat soos die meeste gebiede in Skotland. Gedurende die winter daal temperature gewoonlik nie benede vriespunt nie, terwyl maksimum-temperature in die somer net 23 °C bereik. Weens sy ligging tussen die see en heuwels is Edinburgh 'n baie winderige stad. Die Golfstroom sorg vir wind uit suid-westelike rigting en warm en onstabiele weer met reënval. Uit die ooste kom winde, wat gewoonlik droër, maar ook kouer is. Reënval kom dwarsdeur die jaar voor, en tussen Oktober en Maart kom Atlantiese laedrukgebiede voor, wat soms deur hewige storms gekenmerk word.
[wysig] Ekonomie
Edinburgh en Glasgow is die enjins van ekonomiese ontwikkeling in Skotland. Die Skotse hoofstad is lankal een van die welvarendste stede in die Verenigde Koninkryk en beskik oor die tweede sterkste ekonomiese basis na Londen. Die ekonomiese groeikoers van Edinburgh en sy omgewing behoort tot die hoogstes in Europa en steun veral op die vinnige ontwikkeling van die bankbedryf, finansiële dienste, biotegnologie, inligtings- en mediategnologie en navorsing en ontwikkeling in verband met hoëtegnologie. Ander belangrike sektore is toerisme en onderwys.
Die vestiging van die Skotse parlement in 1999 het 'n positiewe bydrae tot die ekonomiese groei van Edinburgh gelewer, aangesien 'n groot aantal regeringsinstellings ontstaan en nuwe werkgeleenthede geskep het. Ook regsprekende en opvoedkundige instellings lewer 'n groot bydrae tot Edinburgh se ekonomiese groei.
Edinburgh het ook steeds as 'n belangrike handelsentrum gedien, en die stad speel 'n belangrike rol by Skotland se handelsbetrekkinge met die Europese vasteland en Skandinawië. Die tradisionele ekonomie van die stad, wat deur die seehawe van Leith, uitgewerye, brouerye en beskuitfabrieke oorheers is, het in die laaste dekades minder belangrik geword. Die werkloosheidsyfer beloop 3,4 persent.
[wysig] Geskiedenis
Edinburgh was oorspronklik 'n Piktiese nedersetting, wat in die 7de eeu deur Angel-Sakse uit Northumbrië verower is. Volgens oorlewerings het hulle koning Edwin die stad, wat sedertdien sy naam dra, nuut gestig. Hy het ook 'n vesting op die heuwel opgerig, waar later die kasteel van Edinburgh ontstaan het.
Die Wikings het die stad gedurende die 9de eeu verskeie kere verwoes. Sedert die 11de eeu maak Edinburgh deel uit van Skotland. In 1076 laat koningin Margaret (1045-1093) die kasteel in die Normandies-romantiese boustyl herbou. In 1128 is die klooster Holyrood ter ere van Margaret, wat as heilige vereer is, opgerig. Die kasteel en klooster van Edinburgh het die uitgangspunt van die stad se vinnige ontwikkeling geword. Die St. Giles-katedraal is in die 13de en 14de eeu as die godsdienstige sentrum van Edinburgh bygevoeg.
Die oorloë teen Engeland in die laat 13de en 14de eeu het die strategiese ligging van Edinburgh duidelik gemaak, en in 1498 het die stad gevolglik die koninklike hoofstad van Skotland geword.
Tot by die laat 18de eeu het Edinburgh net uit die stadswyk bestaan, wat vandag as Old Town bekend staan. Die ontwikkeling van Edinburgh as 'n ekonomiese en opvoedkundige sentrum het 'n aanvang geneem met die stigting van die Universiteit van Edinburgh in 1583 en die Bank van Skotland in 1695.
Met die Act of Union van die jaar 1707 het Skotland en Engeland saamgesmelt, en die stad het sy rol as wetgewende hoofstad kwytgeraak. Desondanks het die bevolking teen die laat 18de eeu op sowat 35 000 te staan gekom. Die woonkwartiere het meestal uit huise bestaan, waar die welgesteldes die aantreklike boonste verdiepings bewoon het, terwyl die armes net die laer- en grondverdiepings kon bekostig. Baie welvarendes het Edinburgh verlaat om hulle in Londen te gaan vestig. In 1752 is 'n pamflet gedruk wat die welvarende burgers sou oorreed om aan te bly. Tien jaar later is argitekte uitgenodig om aan 'n kompetisie deel te neem en voorstelle vir 'n nuwe stadswyk vir welgestedes, New Town, te maak.
Uiteindelik is James Craig se ontwerp met 'n kenmerkende roosterpatroon as wenner aangewys. Boubedrywighede het in 1767 begin, en die projek, wat as die grootste destydse stadbeplanningsprojek opwinding veroorsaak het, is in 1810 voltooi.
Die Britse koning George IV het in 1822 sy historiese besoek aan die stad afgelê. Edinburgh het toe al bekend gestaan as die tweede belangrikste finansiële sentrum na Londen. Danksy die neo-klassieke boustyl het dit ook die bynaam "Athene van die Noorde" gekry.