Jean-Paul Sartre
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Jean-Paul Sartre (21 Junie 1905 - 15 April 1980) is een van die belangrikste Franse filosowe en saam met Simone de Beauvoir een van die hooffigure van die Franse eksistensialisme. As 'n linkse intellektuele skryf hy 'n reeks drama's, essays en romans. L'Être et le Néant is sy vernaamste filosofiese werk. Sy belangrikste drama's is Les Mouches, Huis Clos, Crime passionel, La Putain respectueuse en Les Séquestrés d'Altona. In 1964 word die Nobelprys vir Letterkunde aan hom toegeken, alhoewel Sartre weier om dit in ontvangs te neem.
[wysig] Die literêre werk
Sy eerste roman La nausée (Die mislikheid, 1938), wat talle outobiografiese elemente bevat, en die verhaalbundel Le mur (Die muur, 1939) verseker dat Sartre 'n belangrike plek in die literatuurgeskiedenis inneem. Met die Amerikaanse literêre styl van die montage, waarvan John dos Passos se Manhattan Transfer een van die bekendste voorbeelde is, as sy voorbeeld lei Sartre saam met Albert Camus, André Malraux, Antoine de Saint-Exupéry en Blaise Cendrars 'n nuwe fase van die Franse letterkunde in, wat onder die invloed van die Amerikaanse realisme staan.
Met Les mots (Die woorde), 'n verhaal oor sy kinderdae, lewer Sartre 'n buitengewone bydrae tot die outobiografiese genre.
Die toneelstukke van Sartre geniet minder aandag; dit gee veral uitdrukking aan Sartre se politieke oortuigings.