Krieket
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Krieket is 'n spansport. Dit het sy ontstaan in Engeland en word hoofsaaklik gespeel in die lande van die Britse Statebond. In die lande van Suid-Asië, insluitend Indië, Pakistan, en Sri Lanka, is krieket verreweg die populêrste sport. Dis ook 'n gewilde somersport in die Verenigde Koninkryk, Australië, Suid-Afrika, en Nieu-Seeland.
'n Wedstryd kan aanhou vir 6 of meer uur per dag vir 5 dae, in een vorm van die spel, en nog steeds nie 'n uitslag lewer nie - die verskeidenheid intervalle vir middagete en tee, en die ryk terminologie is kenmerkende aspekte wat maklik dié wat nie met die spel vertroud is nie, deurmekaar maak. Vir sy ondersteuners hou die spel uitstaande sportmylpale en intense mededinging tussen topkrieketnasies in. Dit het self al op kere gesorg vir diplomatiese spanning, die mees berugste geval, dié van die "Bodyline"-reeks tussen Engeland en Australië.
Inhoud |
[wysig] Doel en opsomming
Krieket is 'n bal- en kolfsport waarvan die doel is om meer punte (lopies) as die ander span aan te teken. 'n Wedstryd word opgedeel in beurte waartydens die een span boul en die ander span kolf. Tradisioneel bestaan 'n wedstryd uit twee beurte vir elke span, maar sedert die sewentiger jare word ook 1-beurtwedstryde gespeel. Die afgelope twee jaar word daar ook wedstryde gespeel waarvan 'n beurt slegs uit twintig boulbeurte bestaan.
Indien, in 'n 2-beurtswedstryd, die span wat eerste kolf almal uit is in hulle 2de beurt met 'n totaal (1ste en 2de beurt) wat minder is as die 1ste beurt telling van die opponente, dan verloor die span met 'n beurt en n lopies, waar n die verskil is in die tellings tussen die spanne. Indien die span wat laaste kolf uitgeboul word met die totale van altwee spanne se 2 beurte ewe veel dan word die wedstryd gelyk verklaar (baie raar).
Indien die wedstryd slegs 1 beurt per span het met 'n vasgestelde aantal boulbeurte, en die wedstryd word tydelik onderbreek deur slegte weer, dan word daar gebruik gemaak van die Duckworth-Lewismetode om 'n nuwe, verkorte teiken te bereken.
[wysig] Reëls van krieket
Die spel word gespeel met inagneming van 42 reëls van krieket, wat deur die Marylebone Krieketklub in gesprek met die hoofkrieketnasies ontwikkel is. Ander reëls ondersteun die hoofreëls en verander dit sodanig vir verskillende toestande.
[wysig] Spelers en beamptes
Elke span bestaan uit 11 spelers. Afhangende van sy primêre vaardigheid word 'n speler geklasifiseer as 'n bouler of 'n kolwer. 'n Gebalanseerde span het gewoonlik 5 of 6 spesialiskolwers en 4 of 5 spesialisboulers. 'n Speler wat uitstaan as beide 'n bouler en kolwer staan beken as 'n veelsydige speler. Een van die spelers in die span wat besig is om te boul neem die rol van 'n paaltjiewagter, wat 'n spesialisveldwerkposisie is.
Twee beamptes, bekend as skeidsregters, neem toesig or 'n wedstryd. Een skeidsregter staan agter die paaltjies aan die kant van waar daar geboul word en beslis oor die meeste situasies. Die ander een staan naby die posisie wat "regby" genoem word, wat 'n syaansig bied van die kolwer, en beslis oor situasies waarin hy 'n beter aansig het. In party profesionele wedstryde mag hulle beslissings verwys na derde skeidsregter wat nie op die veld dien nie en die bystand het van televisie kyk-weers.
[wysig] Die speelveld
'n Krieketveld bestaan uit 'n ovaalvormige grasveld. Daar is geen vaste regulasies met betrekking tot die dimensies van die veld nie maar die diameter van die veld wissel tussen 130 m en 150 m (daar sal uitsonderings wees). In meeste stadions word die veld afgebaken met 'n tou en staan bekend as die grens.
Die Kolfblad
Meeste van die aksie vind in die middel van die veld plaas op 'n reghoekige kleistrook met kort gras wat die kolfblad genoem word. Die kolfblad se dimensies is 3,05 m by 20,12 m.
Aan beide kante van die kolfblad word drie klein houtpale, genoem die paaltjies, in die grond ingedruk. Twee hout dwarsstukkies, genoem die dwarsbalkies, sit in groewe bo-op die drie paaltjies en raak met hulle punte aanmekaar. Elke stel van drie paalties en twee dwarspaaltjies word saam die paaltjies genoem. Een kant van die kolfblad is waar die kolwer staan en kolf en aan aan die ander kant is van waar die bouler boul. Na elke boulbeurt word die kante omgeruil.
Dele van die veld Vir 'n wedstryd wat bestaan uit een kolfbeurt en beperkte aantal boulbeurte (eendag-wedstryd) is daar twee addisionele veldmerke. Die binnering is 'n sirkel met radius van 27 m gemeet vanaf die middel van die kolfblad. Die nabye-binnering is 'n sirkel met radius van 13,7 m wat getrek word vanaf die paaltjies waar die kolwer staan. Hierdie dele word gebruik in veldbeperkings tydens 'n eendag-wedstryd.
Plasing van veldwerkers
[wysig] Wedstrydstruktuur
Die loot
Op die eerste dag van die wedstryd ondersoek die kapteins (en hulle raadgewers) die blad en bepaal watter spelers beste gepas sal wees vir die spesifieke blad en kies dan hulle 11 spelers. Die kapteins van die twee spanne loot dan deur 'n muntstuk op te skiet. Die kaptein wat die loot wen mag dan besluit of sy span eerste gaan boul of kolf.
Die loot in krieket is gewoonlik van baie meer belang as in ander sporte. Omdat die spel so lank is en die gedrag van die kolfblad oor die bestek van 5 dae dramaties kan verander, is dit 'n geweldige voordeel om te kan kies om eerste te boul of te kolf, na gelang van de omstandighede.
Boulbeurte
Die wedstryd word onderverdeel in boulbeurte. Elke boulbeurt bestaan uit ses agtereenvolgende aflewerings deur dieselfde bouler. Geen bouler word toegelaat om agtereenvolgende boulbeurte te boul nie. Na die voltooiing van 'n boulbeurt neem die bouler 'n veldwerkposisie in, en 'n ander speler neem die boulwerk oor. Die kant van waar daar geboul word, ruil ook aan die einde van elke boulbeurt. Die skeidsregter wat dan aan die bouler se kant van die kolfblad gestaan het, beweeg na regby, en die skeidsregter wat op regby gestaan het, beweeg na die kant van die nuwe bouler.
Einde van 'n kolfbeurt
'n Kolfbeurt eindig wanneer:
- tien uit elf van die kolwers uit is,
- 'n span wat 'n teiken (lopies) jaag dit vermag het,
- die voorafbebaalde aantal boulbeurte geboul is (in eendag wedstryde is dit gewoonlik 50), of
- 'n kaptein die kolfbeurt verklaar (dit is nie van toepassing in eendagwedstryde nie).