Elsas
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
![]() ![]() |
|
---|---|
![]() |
|
Départements | Bas-Rhin (67) Haut-Rhin (68) |
Prefektuur | Straatsburg |
Bevolking | 1 794 000 inw. (2004) |
Bevolkingsdigtheid | 217 inw./vk km |
Oppervlakte | 8 280 vk km |
Arrondissemente | 13 |
Kantons | 75 |
Munisipaliteite | 904 |
President van Gewestelike Raad |
Adrien Zeller (UMP) |
Elsas, (Frans: L'Alsace, Elsasser Duits: s'Elsass, Duits: das Elsass), is 'n administratiewe streek (Frans: région) van Frankryk wat bestaan uit die départements: Bas-Rhin in die noorde en Haut-Rhin in die suide. Elsas is geleë aan die oostelike grens van Frankryk aan die wesoewer van die Ryn langs Duitsland en Switserland. Die streek se hoofstad is Straatsburg wat ook die grootste stad is gevolg deur Mulhouse (onderhoofstad van Haut-Rhin), en Colmar, hoofstad van Haut-Rhin. Elsas het verskeie oorgange tussen Duitse en Franse beheer ondergaan en die Argitektuur en kultuur het steeds 'n sterk Germaanse karakter.
Histories het die gebied ook vroeër die Territoire de Belfort, vandag deel van Franche-Comté, ingesluit.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
In prehistoriese tye is Elsas deur nomadies jagter bewoon, maar teen 1500 v.C. het Kelte hulle in Elsas begin vestig en die grond begin bewerk. Teen 58 v.C. het die Romeine die gebied ingeval en Elsas as 'n wynboustreek gevestig. Om die waardevolle nywerheid te beskerm het die Romeine fortifikasies en militêre kampe gebou wat ontwikkel het in verskeie gemeenskappe wat kontinu tot vandag toe bewoon is.
Met die ondergaan van die Romeinse Ryk is Elsas deur die Alemanni ingeneem. Die Alemanni was 'n landbou volk en hulle taal vorm die basis van die hedendaagse Elsasser dialek. Die Alemanni is in 496 deur die Franke onder Clovis verwower en Elsas het 'n Frankiese hertogdom van die Koninkryk van Austrasië geword. Elsas het onder Frankiese beheer gebly totdat dit in 843 volgens die Verdrag van Verdun in drie verdeel is. Die kleinseuns van Karel die Grote – formeel bekend as die stigter van die Frankiese Ryk – het die ryk in drie dele gedeel. Die Benelux state, Elsas en Lotharinge het die Frankiese Middel Ryk gevorm wat deur die jongste kleinseun Lothar geheers is. Louis die Duitser het die Oostelike deel gekry wat sou ontwikkel tot die Heilige Romeinse Ryk en later tot vandag se Duitsland. Karel die Kale het die westelike gedeelte wat later Frankryk geword het gekry. Pepin II, 'n kleinneef van die drie broers, is die koninkryk van Aquitaine, vandag 'n région in die suidweste van Frankryk, toegeken maar dit was onder die outoriteit van Karel. Lothar is in 855 vroeg dood en sy ryk is weer in drie gedeel. Die deel wat as Lotharinge bekend saat is aan Lothar se seun gegee. Die res is verdeel tussen Lothar se broers Karel die Kale (heerser van die Wes-Frankiese ryk) en Ludwig die Duitser (heerser van die Oos-Frankiese ryk). Lotharinge is later deur die Heilige Romeinse Ryk geannekseer.
Nadat dit vir 'n tydlank deel was van die Koninkryk van Boergondië het Elsas in die 15de eeu deel geword van die Heilige Romeinse Ryk as die westelike deel van die Hertogdom van Swabe en later onder die administrasie van die Oostenrykse huis van Habsburg. Elsas het 'n bloeitydperk beleef in die 12de en 13de eeue onder die Hohenstaufen Keisers, maar die tydperk van voorspoed is in die 14de eeu deur 'n reeks velle winters, misoeste en die Swart Dood tot 'n einde gebring. Die blaam vir die beproewings is voor die deur van die Jode gelê wat gelei het tot die pogroms van 1336 en 1339. 'n Verdere natuurramp was die Ryngrabenaardbewing van 1356, een van die ergste in Europa se geskiedenis.
Tydens die Renaissance het voorspoed na Elsas teruggekeer onder die Habsburg administrasie, to met die Dertigjarige Oorlog wat groot dele van suidelike Duitsland swaar getref het. Die grootste deel van Elsas is aan Frankryk afgestaan met die Vrede van Westfale in 1648, wat die begin aandui van Elsas en Lotharinge, as 'n bestrede gebied tussen Frankryk en Duitsland.
Die stad Straatsburg is tydens die heerskappy van Louis XIV van Frankryks deur Frankryk geannekseer, op 'n stadium toe Habsburg en ander Duitsers betrokke was in gevegte met die Turke, by die Slag van Wene. Sedert 500 is die gebied oorwegend deur Germaanssprekende mense bewoon en hulle het pogings om Franse taal en gebruike wat op hulle afgedwing is teëgestaan.
Beide Alsace en Lotharinge het as "Reichsland Elsaß-Lotharingen" (Elsas-Lotharinge), deel geword van die nuwe Duitse Ryk onder Bismarck na die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871. 'n Geskatte 50 000 mense (uit 'n totale bevolking van omtrent 1.5 miljoen) het geëmigreer, onder andere na Frankryk en Amerika. Frans is in skole verban en alle koerante moes in Duits gepubliseer word.[1] Elsas het deel gebly van Duitsland tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog toe Duitsland dit in terme van die Verdrag van Versailles afgestaan het. VSA President Woodrow Wilson het egter aangedring dat die région wetlik selfregeringstatus moes hê aangesien die grondwet daarvan gestel het dat dit alleen deur die outoriteit van die Keiser gebind is en nie aan die Duitse staat nie.
Gevolglik het die regering van Elsas-Lotharinge onafhanklikheid verklaar as die Republiek van Elsas-Lotharinge, maar dit kon nie die Franse teëstaan wat dit 'n week later oorgeneem het nie. Frankryk het nie 'n plebissiet geduld soos op daardie stadium deur die Volkebond toe gestaan is in sommige Duitse gebiede nie.
Na die Eerste Wêreldoorlog is die vestiging van Duitse identiteit in Elsas omgekeer. Duitsers wat hulle na 1871 in Elsas gevestig is verban. Frans het die amptelike en onderwys taal geword. Die région is nie gesien as onderworpe aan sommige van die veranderinge in Franse reg van 1871 tot 1919, soos die Wet op die Skeiding van die Kerk en die Staat nie.
Die Maginotlinie wat tussen 1930 en 1939 deur Frankryk gebou is het deur Elsas geloop. In September 1939 toe Hitler Pole binne geval het, is een derde van Elsas se bevolking summier na Perigord aan die ander kant van Frankryk geëvakueer. In Junie 1940 is die Maginotlinie maklik omseil en die région is in effek deur Nazi Duitsland geannekseer en heropgeneem in die Großdeutsches Reich (Groot-Duitse Ryk). Elsas is verenig met Baden, en Lotharinge met Saarland. Die Duitse regering het nooit oor die vraagstuk onderhandel of formeel anneksasie verklaar nie. Hoogduits was die enigste geoorloofde taal. 'n Honderd en veertig duisend mans tussen die ouderdom sewentien en agt-en-dertig, wat as die Malgré-nous(teen ons sin) bekend gestaan het, is deur die Duitse leër opgeroep en gedwing om teen hulle landgenote te veg.[1]
Frankryk het weer beheer oor die oorloggeteisterde gebied verkry in in 1944 en die beleid om Frans aan te moedig voortgesit. Van 1945 tot 1984 is die gebruik van Duits in koerante byvoorbeeld beperk tot 'n maksimum van 25%.
Meer onlangs is taal en kulturele vryheid geleidelik herstel. Verskeie burger inisiatiewe om die leer van Duits in kleuterskole en skole aan te moedig word byvoorbeeld deur die regering in Parys toegelaat.
[wysig] Geografie

Elsas dek 'n oppervlak van 8 280 km² (190 km lank by 50 km wydt 1,5% van die oppervlak van Frankryk), wat dit die kleinste région van metropolitaanse Frankryk maak. Korsika het omtrent die selfde oppervlak. Dit strek van suid na noord langs die Rynwat dit in die ooste begrens. Dit word in die noorde deur die Lauterrivier begrens waar die Duitse palts begin, en in die ooste deur die Ryn met Baden-Württemberg aan die anderkant van daarvan, in die suide deur Switserland, in die suidweste deur die région Franche-Comté en in die weste deur die région Lotharinge.
Die streek word in 'n aantal verskillende landskappe verdeel:
- in die Ooste die Elsasvlakte (wat saam met Baden in Duitsland die Fossé rhénan vorm) wat deur die Illrivier gedreineer word en toegewy is tot grootskaalse graanboerdery; woude beklee steeds 'n belangrike posisie (die Haguenauwoud in die noorde en die Hardt in die suide) ;
- tussen die Ryn en die Ill, le Ried, van die Alemannies vir riet. Die nat moerassige sone behou sy natuurlike karakter wat op merkwaardige wyse deur die ou vroeër wilde rivier gevorm is (woude deurkruis deur die sytakke van die Ryn, oorspoelde vleie, fonteine, riviere), waar natuurreservate en beskermde gebiede mens met wonder vervul.
- in die Weste oorheers die Vogese met groot valleie met die slik van die Ill; hier is daar hooglandweivelde (Hautes Chaumes) wat afgewissel word met woude; die Grand Ballon 1424 m , geleë in die Haut-Rhin, is die hoogste punt van Elsas;
- die Vogese voetheuwels vorm die skakel tussen beide groepe. Die Vogesheuwels bevat die Elsasiese wynlande.
- Sundgau, heuwelgebied suid van Mulhouse.
- Elsas-Jura in die suidelike punt van die gebied .
Elsas het 'n half-kontinentale klimaat met koue droë winter en warm somers. Daar is min neerslag aangesien die gebied in die weste deur die Vogese beskerm word. Dia stad Colmar het 'n sonnige mikroklimaat en is die tweede droogste stad in Frankryk met 'n jaarlikse neerslag van slegs 550 mm, wat dit ideaal maak vir vin d'Alsace (Elsas wyn).
[wysig] Taal
Teen die begin van die 21ste eeu is die taal wat die meeste in Elsas gepraat word Standaard Frans. Die tradisionele taal van die région is egter Elsasser Duits (Elsasser Duits: Elsässer-Ditsch), 'n Nederalemanniese dialek van Opperduits. Elsas is nou verwant aan sommige van die dialekte wat in Switserland gepraat word, soos Baselduits, en oorkant die Ryn in Duitsland. In die heel noordelike gedeelte van Elsas word daar ook Frankiese dialekte van Wes-Middelduits gepraat. Nie Elsasser Duits nog die Frankiese dialekte het enige amptelike status nie. Beide word egter tans erken as tale van Frankryk en kan as skoolvakke gekies word. In 2001 het 61 persent van die inwoners van Elsas hulleself as Elsasser Duitssprekendes beskou. Slegs 'n kwart van die jongmense in Elsas gebruik egter nog af en toe die Alemanniese streektaal, en slegs vyf persent van skoolbeginners het 'n kennis van die Elsasser dialek. Anti-Duitse gevoel na die Tweede Wêreld Oorlog het 'n skerp afname in geskrewe Duits tot gevolg gehad[2]. Vandag is straatborde in Elsas is dikwels tweetalig in Frans en Elsasser Duits; soms word ook die ou Duitse straatname naas die nuwe Franse gebruik. Daar is nou ook dikwels plekname in Elsasser Duits naas die amptelike Franse name, soos in die geval van Steinbourg ("Steiweri" in Elsasser Duits).
In 'n paar valleie in die weste van Elsas teen die grens met Lotharinge, wat altyd buite die Germaanse invloed gebly het, word Lotharingse dialekte sedert die Middeleeue gepraat.
Sedert 1945 het die invloed van Standaard Frans in Elsas al hoe groter geword en die streek is vandag 'n hoofsaaklik Franssprekend. Hoewel Elsas baie keer gesien word as 'n tweetalige (Frans/Elsasser Duits), is standaard Frans al hoe meer die taal wat tuis en by die werk gepraat word met al hoe meer mense wat goeie kennis van Standaard Duits het. Duitsland is 'n belangrike buurman van Elsas en daar is meer as 70 000 oorgrens werkers wat bydra tot ouers se keuse om kinders eerder Standaard Duits as die plaaslike dialek te leer. Standaard Duits word ook op skool as 'n vreemde taal aangebied. Sedert 1994 word tweetalige onderwys aangebied, insmoigge gevalle voilgense 'n volledig tweetalige model wat berus op drie beginsels: vroeë leer (van 3-jarige ouderdom), gelyke blootstelling aan beide tale (13 ure Duits, 13 ure Frans), wissel-stelsel, een taal, een onderwyser. Daar is wel 'n paar skole, veral kleuterskole, wat Elsasser Duits as onderrigtaal gebruik. Hoewel Duits by twee van Elsas se vier universiteite gestudeer kan word, word geen vakke in Duits aangebied nie.[2]
[wysig] Kookkuns, wyn en bier
Elsas se kostradisie word gekenmerk met gasvryheid en groot porsies. Elsas se kookkuns word sterk beïnvloed deur Duitse tradisies en varkvleis word in verskeie vorme gebruik. Tradisionele disse sluit in baeckeoffe (aartappeldis wat in 'n bakker se bakoond gebak word), tarte flambée of flammekueche (vlamkoek), choucroute (Sûrkrût of sauerkraut met wors en charcuterie), en fleischnacka (vleis en pasta rol). Die suide van Elsas, wat ook as Sundgau bekend staan, is bekend vir carpe frite (gebraaide karp). Soos in ander Alemanniese streke, Suid-Duitsland, die Duitstalige Switserland en die westelike word spätzle,'n bekende soort vermicelli, ook in saam met sous as 'n hoofgereg bedien.
Soetgoed sluit in 'n groot verskeidenheid koekies genaamd brédalas en pain d'épice (germmerbrood) wat in die fees tydperk in Desember gebak en van Sint Nicholaasdag voorgesit word. Kougelhopf is so te sê die embleem van Elsas en Elsas appeltert La tarte au fromage blanc (kaaskoek) is ander bekende disse.
Elsas is 'n wynbou gebied wat hoofsaaklik witwyne produsseer. Die streek se wyne, wat 'n sterk Duitse invloedhet staan beledn as vins d'Alsace. Die streek produseer van die hoogsaangskryfde Rieslings. Dit is die enigste région in Frankryk wat meestal varietal wyne produseer, meestal van druifsoorte wat ook in Duitsland verbou word soos Gewürztraminer, Riesling, Muskaat, Savagnin, Pinot Blanc, Klevener de Heiligenstein en Pinot Gris wat ook as Tokay d'Alsace bekend staan. L'Edelzwicker is 'n versnit wyn wat uit verskeie variëteite gemaak word. Le Crémant d'Alsace is 'n wit vonkelwyn. Pinot noir is die enigste rooiwyn wat in die streek geproduseer word.
Elsas is ook die hoof bier-produserende région van Frankryk veral danksy die brouerye in en om Straatsburg. Biere sluit in Kronenbourg, Fischer, Heineken, Météor, en Kanterbräu. Hops word in Kochersberg en in noordelike Elsas verbou.
Schnapps word ook tradisioneel in Elsas vervaardig maar dit is aan die afneem aangesien die aantal distilleerders minder algemeen is en die verbruik van tradisionele, sterk alkoholiese drankies aan die fa neem is.
Elsas is verder bekend vir sy vrugtesappe mineraalwater.
[wysig] Verwysings
- ↑ 1,0 1,1 Visit Alsace, A Little History, Besoek op 10 Maart 2007
- ↑ 2,0 2,1 Mercator The German language in education in Alsace, France, Besoek op 10 Maart 2007
Die administratiewe gebiede van Frankryk | ![]() |
---|---|
Aquitaine | Auvergne | Bourgogne | Bretagne | Centre | Champagne-Ardenne | Elsas | Franche-Comté | Île-de-France | Korsika | Languedoc-Roussillon | Limousin | Lorraine | Midi-Pyrénées | Nord-Pas-de-Calais | Basse-Normandie | Haute-Normandie | Pays-de-la-Loire | Picardie | Poitou-Charentes | Provence-Alpes-Côte d'Azur | Rhône-Alpes | |
Oorsese gebiede: | |
Frans-Guayana | Guadeloupe | Martinique | Réunion |