Franse Rewolusie
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die geskiedkundige term Franse Rewolusie (wat soms ook die Groot Rewolusie genoem word) verwys na die historiese tydperk tussen 14 Julie 1789 en 9 November 1799 in Frankryk, toe Republikeinse magte die absolute monargie afskaf. Die oorgang na 'n republikeinse staatsvorm, die Eerste Franse Republiek, gaan gepaard met die skeiding van staat en kerk, die afkondiging van talle regte soos die reg op persoonlike vryheid, die pers- en meningsvryheid en die gelykheid van alle burgers voor die wet. Met die beginsel van die volksoewereiniteit word 'n grondwet met regspligte waaraan die staat moet voldoen, 'n onafhanklike regstelsel, die algemene stemreg, 'n geregte belastingwetgewing, die beroepsvryheid en ander regte ingevoer.
Die rewolusionêre tydperk in Frankryk word egter ook gekenmerk deur willekeurige geweld, wat in die terreur van Maximilien Robespierre 'n bloedige hoogtepunt bereik.
Hoewel die republikeinse staatsvorm in Frankryk eers in die jaar 1871 gevestig word, is die Franse Rewolusie een van die ingrypendste historiese omwentelings, nie net vir Frankryk en Europa nie, maar in die ganse wêreldgeskiedenis. Die verreikende gevolge wat dit vir die Westerse beskawing gehad het, lê ingegrif op 'n menige terreine wat wissel van die staatkundige tot die maatskaplike en ideologiese.
[wysig] Oogmerke
Die rewolusionêre beweging van 1789 streef daarna om die ou stelsel van die feodalisme, absolutisme en die daarmee gepaardgaande standestaat met sy rigiede klasverskille omver te gooi. Sy leuse is "vryheid, gelykheid, broederskap" (Frans: "liberté, égalité, fraternité"). Die Amerikaanse Rewolusie, die onafhanklikheidsverklaring van die veertien kolonies as die Verenigde State van Amerika (1776) en die Verklaring van Menseregte verskaf 'n belangrike voorbeeld vir die Franse Verklaring van Mense- en Burgerregte van 1789.
[wysig] Voorgeskiedenis
Om die staatsbankrotskap te keer en nuwe belastingswette voor te stel, vergader die Franse State-Generaal (États généraux) op 5 Mei 1789 in Versailles. Die afgevaardigdes sluit 300 verteenwoordigers van die adel, 300 van die stand van die geestelikes (klerus) en 600 burgerlikes in. Nadat die twee bevoorregte stande weier om 'n vrye stemming toe te laat, konstitueer die burgerlikes op 17 Junie as die Nasionale Konstitusionele Vergadering (Assemblée nationale constituante), met graaf Gabriel Honoré Mirabeau (1749-1791) as sy voorsitter. Adel en klerus sluit by die vergadering aan om 'n burgerlik-liberale grondwet uit te werk.
[wysig] Rewolusie
Op 20 Junie lê die verteenwoordigers in die kaatsbaan van Versailles die eed af dat die Nasionale Vergadering nie ontbind sal word nie voordat 'n besluit oor Frankryk se nuwe grondwet geneem is. Die situasie begin egter handuit ruk met die toenemende rewolusionêre geweld op die strate. Op 17 Julie 1789 storm die Paryse burgers die staatsgevangenis Bastille - een van die simbole van die destydse despotisme - om die gevangenes wat daar aangehou word te bevry. Onder die indruk van die onluste neem die adel op 4 Augustus afstand van sy voorregte, die feodalisme word afgeskaf. Op 27 Augustus word die Verklaring van Menseregte uitgereik. Onder die volgehoue druk van die massas verlaat koning Lodewyk XVI sy kasteel in Versailles om weer in die hoofstad Parys te resideer. Danksy gemagtigdes soos graaf Mirabeau word die monargistiese stelsel egter nog nie aangetas nie.
Die rewolusionêre spits hulle maatreëls aanvanklik daarop toe om die kerk en klerus se invloed te verminder; die staat lê beslag op die goedere van die kerk om sy skuldlas te delg. Volgens die Burgerlike Konstitusie van die Klerus van 12 Julie 1790 word van die geestelikheid geëis om 'n eed op die grondwet af te lê. Die besittings van die kerk en van emigrante word konfiskeer en dien as dekking vir die nuwe papiergeld (assignate) wat nou uitgereik word. Die kulturele stryd begin verskerp; uiteindelik word die besluit geneem om die adel af te skaf.
In die jaar 1791 is die posisie van die monargie vinnig besig om te versleg. Met die afsterwe van graaf Mirabeau verloor die aanhangers van 'n konstitusionele monargie hulle vernaamste woordvoerder. Koning Lodewyk XVI probeer op 20 Junie om te vlug en lê op 14 September selfs 'n eed op die nuwe grondwet af wat op 3 September afgekondig word, die stemming word egter al hoe meer radikaler. By die verkiesing van die Wetgewende Versameling (Assemblée législative), wat op 29 September vir die eerste keer vergader, kry die linksgesindes 'n groot aantal stemme; die Republikeinse Girondiste word die leidende groep.
Aangesien die koning en die emigrante deur die Ou Europa ondersteun word, dwing die gematigde Girondiste Lodewyk XVI in April 1792 om teen die anti-rewolusionêre magte oorlog te verklaar. Die sogenaamde bergparty - met Jean Paul Marat, Georges Jacques Danton en Maximilien Robespierre as sy vernaamste woordvoerders - tree steeds radikaler teen emigrante en priesters wat die eed weier op. Na 'n reeks militêre neerlae storm die rewolusionêre die Tuileries, die koning en sy gesin word in die Temple vasgehou. Die massas op straat begin onder die leiding van die Jakobynse terroriste (wat ook die meerderheid in die nuwe Nasionale Konvent het wat op 20 September vergader) hulle skrikbewind van moord en geweld. Die monargie word op 21 September afgeskaf. Die rewolusionêre kondig die nuwe Franse Republiek af (sogenaamde Eerste Republiek). In Januarie 1793 begin die hofsaak teen koning Lodewyk XVI wat nou as "burger Louis Capet" bekend staan. Op 21 Januarie word Capet tereggestel.
Capet se dood gee die aanleiding tot rojalistiese en girondistiese opstande, terwyl die ekonomie ingevolge die hoë inflasiekoers verswak. Die assignate verloor steeds meer van hulle waarde. Die radikale trek voordeel uit die situasie; die nuwe grondwet, wat onder meer die instelling van die nuwe Comité du salut public bepaal, loop op 'n diktatoriese regering onder leiding van Danton en later Robespierre uit. Die verpletterende militêre neerlae lei op hulle beurt weer tot groter verdrukking van iedereen wat as vyandelik gesind teen die vryheid en die republiek beskou word. Die instelling van die eerste algemene diensplig (die Levée en masse) deur Lazare Nicolas Marguerite graaf van Carnot is 'n maatreël wat die gewapende stryd teen buitelandse magte meer trefkrag sou verleen. Die stryd teen die totale aanslag is 'n stryd om oorlewing wat op verskillende fronte gevoer word. Die oorlog word nou teen die paleise gevoer, terwyl die hutte in vrede gelaat moet word. Die nasionale lied Marseillaise en die nuwe vlag, die Trikolore, versinnebeeld die nuwe gesindheid.
Aanhangers van die ateïstiese Jakobyn Hébert (1757-1794) begin streng op te tree teen die Christelike geloof; die "geboue wat as kerke bekend staan" word gesluit, die katedraal Notre-Dame in Parys tot Tempel van die Rede gewy. In Mei 1794 word die Christendom in Frankryk afgeskaf en deur die nuwe Kult van die Rede vervang. In Junie vier Robespierre die Fees van die Hoogste Wese.
Nadat die militêre situasie begin verbeter, word 'n einde aan die Jakobynse terreur gemaak. Georges Jacques Danton word op 5 April 1794, Maximilien Robespierre op 28 Julie onthoof. Geweld en onluste hou egter aan. Op 21 Mei 1795 word 'n Jakobynse opstand onderdruk, die land kry op 22 Augustus sy derde rewolusionêre grondwet. Die Nasionale Konvent word op 26 Oktober ontbind en deur 'n direktorium (Directoire) van vyf lede vervang.
Dit is veral die welgestelde bourgeoisie wat in die laaste fase van die rewolusie 'n einde aan die chaotiese toestande wil maak. Met 'n staatsgreep op 9 November 1799 beëindig generaal Napoléon Bonaparte die rewolusionêre tydperk en verklaar homself tot Eerste Konsul en staatshoof.