Jan van Engeland
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
||||||||||||||||||||||
Jan (24 Desember c. 1166 – 18/19 Oktober 1216) het van 6 April 1199 tot sy dood as Koning van Engeland regeer. Hy was die opvolger van sy ouer broer, koning Richard I (bekend as "Richard Leeuehart"). Jan het die byname "sonder land" en "Sagte swaard" gekry. Hy was 'n Plantagenet- of Angevynse koning.
Koning Jan se heerskappy word tradisioneel beskou as een van die rampspoedigste in die Engelse geskiedenis: dit het begin met nederlae—hy het Normandië binne sy eerste vyf jaar op die troon afgestaan aan Filips Augustus van Frankryk—en het geëindig met Engeland gewikkel in 'n burgeroorlog, met hom op die punt om uit sy amp gedwing te word. In 1213 het hy Engeland 'n feodale besitting van die pous gemaak om 'n konflik met die Rooms-Katolieke Kerk te beëindig, en sy opstandige baronne het hom in 1215 gedwing om die Magna Carta te onderteken, die daad waarvoor hy die meeste onthou word. Party het egter gesê dat koning Jan se heerskappy niks beter of slegter was as dié van koning Richard I of Hendrik III was nie. Hoe dit ook al sy, sy reputasie is die rede waarom baie Engelse heersers hulle verwagte opvolgers nie Jan (John) genoem het nie.