Los Angeles
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Los Angeles |
|
---|---|
Land: | Verenigde State |
Deelstaat: | Kalifornië |
Koördinate: | 33°56′ N, 118°24′ W |
Gestig in: | 4 September 1781 |
Oppervlakte: | 1290,6 vk km |
Landoppervlakte: | 1214,9 vk km |
Bevolking: | 4 097 340 (2006) |
Bevolkingsdigtheid: | 3 174,8/vk km |
Metropolitaanse gebied: | 17 545 623 inwoners |
Hoogte: | 32 m bo seevlak |
Burgemeester: | Antonio Villaraigosa |
Amptelike webwerf: | lacity.org |
Los Angeles is 'n groot, uitgestrekte metropool aan die weskus van die Verenigde State en die administratiewe setel van die Los Angeles-distrik (Los Angeles County).
Die stad is in 1781 deur die Spaanse kaptein Rivera y Moncada onder die naam El Pueblo de Nuestra Señora Reina de los Ángeles de la Porciúncula ("Stad van Onse Dame, Koningin van die engele van die Porciúncularivier") gestig, maar dit is eers op 4 April 1850 - vyf maande voordat Kalifornië amptelik tot die Unie toegelaat is - as 'n munisipaliteit geïnkorporeer. Die naam word soms afgekort na "L.A.".
Dit is die grootste stad in Kalifornië, en op een na die grootste stad in die Verenigde State, met 'n inwonertal van 4 100 000 (2006). In die metropolitaanse gebied van Los Angeles (wat Los Angeles, San Bernardino, Riverside, Ventura en Orange County bevat) woon meer as 17 miljoen mense met uiteenlopende etniese en ekonomiese agtergronde.
Die stad geniet 'n gematigde en sonnige klimaat, ook in die winter. Die filmindustrie is sterk verteenwoordig: Beverly Hills, Hollywood met die Hollywood Walk of Fame en Grauman's Chinese Theater asook Universal Studios. Los Angeles is bekend vir sy oënskynlik eindelose snelweë. Die strande van Venice- en Huntington Beach is baie gewild. Disneyland is ook in die buurt van Los Angeles en was die eerste vermaaklikheidspark van sy soort.
Inhoud |
[wysig] Geografie
[wysig] Geografiese ligging
Die stadskern en voorstede van Los Angeles lê in 'n heuwelagtige kusgebied teen 'n gemiddelde hoogte van 32 meter bo seevlak. Die stad grens in die weste en suide aan die Santa Monicabaai van die Stille Oseaan. Los Angeles word in die ooste en noorde deur bergreekse omring. Noord van Los Angeles lê ook die San Fernandovallei, wat sowat een derde van die inwoners huisves. Die vallei word deur die Griffithpark en die Santa Monicaberge afgesny van Hollywood en die stadsentrum.
Die stadsgebied van Los Angeles strek oor 1 290,6 vierkante kilometer (71 kilometer in noord-suidelike en 47 kilometer in oos-westelike rigting), en die stadswyke en voorstede word deur 'n moderne stelsel van snelpaaie met mekaar verbind. Los Angeles se bevolking is die mees gemotoriseerde ter wêreld, en die skadelike uitlaatgasse van motors en nywerhede is een van die kwellendste probleme van die stad.
Soms word na Los Angeles as 'n "horisontale stad" verwys, aangesien daar min wolkekrabbers is en die stadsgebied oor 'n groot oppervlakte uitgebrei het. Grondpryse begin nou egter ook in die stadsentrum die hoogte inskiet en bevorder die oprigting van 'n groter aantal wolkekrabbers.
Daar is 173 onafhanklike stede in die metropolitaanse gebied van Los Angeles, wat die counties (distrikte) Los Angeles, San Bernardino, Riverside, Ventura en Orange bevat. Die gebied strek tot by die grens van die deelstaat Nevada en het 'n totale oppervlak van 87 972 vierkante kilometer. Slegs 'n klein gedeelte hiervan is beboude gebiede. Die grootste deel van die oppervlak word deur onbewoonde gedeeltes van die Mojavewoestyne en die Nasionale Joshua Treepark in die counties Riverside en San Bernardino beslaan.
[wysig] Geologie
Teen die oostelike rand van die metropolitaanse gebied loop die San Andreas-breuklyn. Die gevaar van aardbewings, wat hieruit voortspruit, het tot strenge bouvoorskrifte in Suid-Kalifornië gelei. Los Angeles is sedert 1800 deur nege groot aardbewings met 'n intensiteit van ses of meer op die Richterskaal en duisende kleiner bewings geskud. 'n Groot aantal geboue is versterk om aardbewings te kan weerstaan, om sodoende die getal van slagoffers as gevolg van aardbewings te beperk.
Tot 1958 is geboue beperk tot 'n maksimale hoogte van 45 meter of 14 verdiepings. Die enigste uitsondering was die raadsaal uit die jaar 1928 met 'n hoogte van 128 meter. Veiliger geboue het hierdie wet later oorbodig gemaak. Naas die bedreiging deur aardbewings was ook die konsep van 'n tuinstad en minder verdigte stadswyke die dryfveer agter hierdie wet. Uiteindelik het dit die bestendige uitbreiding van die stadsgebied bevorder.
[wysig] Klimaat
Los Angeles lê in die subtropiese klimaatsone. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 16,5 °C en die gemiddelde jaarlikse reënval 295 millimeter. Augustus is die warmste maand met 'n gemiddelde temperatuur van 20,8 °C, Januarie die koudste met 'n gemiddelde van 12,5 °C. Reënval is gewoonlik beperk tot die tydperk tussen November en April. Die maande tussen Mei en Oktober word deur droë weerstoestande gekenmerk.
Die ligging digby die Stille Oseaan en winde, wat vanuit die see waai, skep 'n aangename klimaat in die somer, wanneer die kwik tot by 28 °C styg. Die wintermaande is kouer, alhoewel temperature gewoonlik nie benede 15 °C daal nie. Nagtelike temperature is sowat 10 °C laer, en die lugvogtigheid beloop tussen 50 en 75 persent.
Hittegolwe met temperature tot by 40 °C kom gereeld elke twee jaar voor en word veroorsaak deur die sogenaamde Santa-Ana-winde, wat uit die gelyknamige woestyn oos van die stad waai.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Stigting
Los Angeles is op 4 September 1781 deur die Spaanse goewerneur van Kalifornië, Felipe de Neve, met 44 setlaars op die gebied van die Tongvá-Indiane gestig. Destyds was veeteelt die hoofbron van inkomste vir die bewoners.
Die naam Los Angeles is van Spaanse oorsprong en beteken letterlik "die engele". Dit is 'n verkorting van die oorspronklike El Pueblo de Nuestra Señora la Reina de los Ángeles de Porciuncula (Afrikaans: „Die Dorp van Onse Liewe Vrou, die Koningin van die Engele van Porciúncula").
In 1835 het Los Angeles stadstatus gekry en is gelyktydig verhef tot hoofstad van Alta California, die mees noordelike gewes van Meksiko. Die bevolking het tot by die jaar 1836 tot 2 228 mense gegroei, maar daarna weer 'n tyd lank gekrimp. Los Angeles was tot by die middel van die 19de eeu 'n Meksikaanse munisipaliteit met 'n bevolking, wat oorwegend uit Amerikaanse setlaars, arm Sjinese werkers en 'n klein aantal welvarende Meksikaanse landbesitters bestaan het. Tydens die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog tussen 1846 en 1848 is die stad saam met Alta California deur Amerikaanse soldate beset en by die VSA ingelyf.
[wysig] Industrialisering
Los Angeles het op 4 April 1850 Amerikaanse stadstatus in verband met die stigting van die deelstaat Kalifornië gekry; destyds was die inwonertal 1 610. Ná die aansluiting by die spoorweg van die Union Pacific Railroad in 1876 en die spoorweglyn na Santa Fé in die jaar 1885, asook die begin van die steenkoolontginning in 1890 en die ruolie-produksie in 1892 het die groei van die stad 'n aanvang geneem. Teen hierdie tyd is besproeiingstegnieke getoets en die geskikte landbouprodukte vir die gebied bepaal. Die stad was destyds sinoniem met goeie gesondheid, 'n skoon omgewing, sonskyn volop en eindelose sitrusplantasies.
Die grootste groep van migrante het uit die Middel-Weste (deelstate soos Iowa en Indiana) gekom en die ou Meksikaanse elite as nuwe politieke klas vervang. Die uitgestrekte ou landgoede is in persele verdeel, en die bevolking het vinnig begin groei. In die jaar 1900 was daar 100 000 inwoners, en hierdie getal het tot 1910 verdriedubbel. 'n Groot seehawe is in die tydperk tussen 1899 en 1914 gebou. Toe die plaaslike watervoorrade nie meer toereikend was nie, is in 1913 'n waterleiding in die noorde opgerig. In die twintigerjare het Los Angeles se olievelde sowat 'n kwart van die wêreldproduksie van ruolie opgelewer.
Ná die inlywing van aangrensende voorstede het Los Angeles se stadsgebied ook 'n aantal stede soos Wilmington (1909), San Pedro (1909), Hollywood (1910), Sawtelle (1922), Hyde Park (1923), Eagle Rock (1923), Venice (1925), Watts (1926), Barnes City (1927) en Tujunga (1932) ingesluit. Santa Monica en Beverly Hills, wat in ekonomiese en kulturele opsig as dele van Los Angeles beskou word, het nogtans tot vandag toe hulle onafhanklike status bewaar.
[wysig] Ekonomiese groeipunt
Vanaf 1910 het die rolprentbedryf 'n sterk groei beleef, en in 1932 was Los Angeles die gasheerstad van die Olimpiese Somerspele. Die grootskaalse ekonomiese groei het met die Tweede Wêreldoorlog begin, toe die lug- en ruimtevaartnywerhede hulle in die stad gevestig en 'n groot aantal migrante gelok het. Die stad het die grootste groei van alle gebiede in Kalifornië vertoon, en in die dekade tussen 1940 en 1950 het sy bevolking met 49,8 persent toegeneem. Teen hierdie tydperk het ook die klein voorstadhuis met swembad en dubbelmotorhuis 'n simbool van Los Angeles geword, en die stad het in die rigting van die San Fernandovallei begin uitbrei.
Die stadshorison is in 1960 met die oprigting van die eerste wolkekrabber, 'n kantoorgebou, vir die eerste keer sedert die bou van die raadsaal in 1928 duidelik verander. Maar die sestigerjare is ook gekenmerk deur etniese en sosiale spannings. Die rasseonluste, wat op 11 Augustus 1965 in die Swart woonbuurt Watts uitgebreek het, was van die ergstes in die geskiedenis van Amerika. Tydens die geweldpleging het 34 mense hulle lewens verloor, en honderde is beseer. Die skade, wat berokken is, het VSA-$ 200 miljoen beloop.
In 1984 was Los Angeles vir die tweede keer die gasheerstad van die Olimpiese Somerspele, wat deur die boikotaksie van die Oosbloklande oorskadu is.
Nadat in April 1992 vier blanke polisiemanne vrygespreek is op aanklag dat hulle 'n Swart burger, Rodney King, mishandel het, het onluste in Los Angeles uitgebreek, wat by die die ergste in die geskiedenis van die Verenigde State gereken word.
Sedert die negentigerjare is Los Angeles deur 'n aantal natuurrampe soos bosbrande en oorstromings getref. 57 mense het as gevolg van die Northridge-aardbewing gesterf, wat die stad op 17 Januarie 1994 geskud het, en duisende geboue is beskadig of verniel.
Die einde van die Koue Oorlog het in dié dekade 'n nadelige uitwerking op die plaaslike lug- en ruimtevaartnywerhede, wat onder meer op militêre uitrusting gespesialiseer was.
[wysig] Bevolkingsgroei
Los Angeles, wat in 1900 slegs 100 000 inwoners gehad het, het tydens die 20ste eeu 'n ware bevolkingsontploffing beleef, sonder dat daar enige stadsbeplanning plaasgevind het. Die vinnige bevolkingsgroei duur nog steeds voort, en sowat 'n derde van die inwoners is in die buiteland gebore. 'n Groot rol by die bevolkingsgroei speel immigrante uit Latyns-Amerika, veral Meksiko, en Asië.
Die inwoners van Los Angeles kom uit 140 lande en praat 224 tale. Sowat die helfte van die bevolking of twee miljoen mense is immigrante uit Latyns-Amerika (Latinos), en daar word beraam dat Spaans weens die hoër geboortesyfers en groot aantal immigrante Engels as belangrikste huistaal sal oorvleuel.
'n Ander etniese groep, wat hoë groeisyfers toon, is Asiate en immigrante van eilande in die Stille Oseaan. Hulle verteenwoordig net soos Swartes sowat tien persent van die totale bevolking. Die grootste groepe is Japannese, Sjinese, Koreane, Viëtnamese, Thais, Filipinos en Iraners. Indiane speel 'n kleiner rol met sowat 100 000 mense. Sowat dertig persent van die inwoners is Blankes (sonder Latinos).
[wysig] Ekonomie
Los Angeles is een van die belangrikste nywerheids-, handel-, vervoer- en finansiële sentrums van die Verenigde State. Sy vernaamste nywerhede is chemie, elektroniese uitrusting, tekstiele, voedselverwerking, metaalverwerking, die boubedryf en die uitgewersbedryf. Maar die stad staan veral bekend as die wêreld se grootste sentrum van die lug- en ruimtevaartnywerhede, die rolprent-, televisie-, radio- en musiekbedryf. Daarnaas is ook die toerisme 'n belangrike bron van inkomste.
'n Groot aantal ondernemings, banke en navorsingsinstellings het hulle hoofkwartiere in Los Angeles, waaronder bekende maatskappye van die vermaaklikheidsbedryf soos 20th Century Fox, DreamWorks SKG, Paramount Pictures, The Walt Disney Company en Warner Bros., die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (bekend deur sy jaarlikse Oscar-toekennings), die speelgoedvervaardiger Mattel, vervaardigers van rekenaarspele soos Activision en THQ, die lug- en ruimtevaartonderneming Northrop Grumman, die ruimtevaart-konsortium Sea Launch, die olie- en gasverskaffer Unocal, die RAND Corporation ('n navorsingsinstelling vir die VSA se Weermag), die ICANN (wat name en adresse op die internet beheer), die hotelgroep Hilton en die uitgewery Tokyopop.
Die hoë vlakke van lugbesoedeling in die stad is een van sy sorgwekkendste vraagstukke, aangesien die plaaslike nywerhede en motorvervoer hoë konsentrasies van osoon, stikstofoksied en koolwaterstof veroorsaak. Die lugsirkulasie in die gebied word deur die bergreekse, wat die stad omring, duidelik beperk, en die seewind bereik net die bekken van Los Angeles, sodat dit nouliks 'n skoonmaak-effek kan uitoefen nie. Die gebrek aan 'n effektiewe openbare vervoerstelsel bly een van die hoofprobleme by die bestryding van lugbesoedeling.
[wysig] Mediabedryf
Hollywood, 'n stadswyk van Los Angeles, het lankal 'n sinoniem vir die Amerikaanse rolprentbedryf (die "droommasjien") geword. Die plek is op 1 Februarie 1887 deur die Wilcox-gesin gestig en het vroeër bekend gestaan vir sy Presbiteriaanse kerk, die grootste in die land. Oorspronklik was Hollywood sowat dertien kilometer van Los Angeles af geleë, en die vinnige groei het eers met die oprigting van die eerste rolprentateljee deur David Horsley se Nestor Company in 1911 begin. Die ateljee huisves nou 'n museum en vertoon 'n versameling van voorwerpe uit die tydperk van die stomfilm.
In 1911 het 'n verdere vyftien onafhanklike filmateljees (Independents) van New York, die destydse sentrum van die rolprentbedryf, na Los Angeles verhuis. Hulle is veral deur die aangename klimaat en die langer dae gelok - destyds was daar nog geen kunslig beskikbaar nie, en rolprente is dus buite of in ateljees met 'n glasdak geskiet. Daarnaas het die groot afstand van New York ook teen voordeel van kleiner filmmaatskappye gestrek, wat nie by die magtige, New York-gebaseerde Motion Pictures Patents Company (MPPC) wou aansluit nie en as gevolg hiervan met hoë boetes en lisensiegelde bedreig is.
Die nuwe filmbedryf het vinnig gegroei. en sy ekonomiese sukses het welvaart vir die stad gebring. Talle regisseurs en produsente soos Cecil B. DeMille, Samuel Goldwyn, Jesse L. Lasky en Adolph Zukor hatten het kantore in Hollywood geopen. Maar eers met David Griffith se epiese stomfilm The Birth of A Nation (1915) het die bedryf tot 'n selfstandige nywerheid met sy eie tegnieke en spesialisering ontwikkel. Teen hierdie tyd was baie kleiner maatskappye besig om bankrot te gaan of is deur groter filmateljees oorgeneem, wat hulle in die dertigerjare byna almal in voorstede soos Culver City, Burbank of West Los Angeles gevestig het. Paramount Pictures was die enigste groot rolprentateljee wat in Hollywood aangebly het.
Die nuwe wetgewing teen kartelle (deur die sogenaamde Paramount-wet van die jaar 1948 is filmateljees onder meer gedwing om van hulle rolprentteaters ontslae te raak), die groei van die buitelandse filmnywerhede ná die Tweede Wêreldoorlog en veral die gewildheid van televisie het tot die ekonomiese neergang van Los Angeles se filmbedryf in die vyftigerjare gelei, en eers in die 1970's en 1980's het die rolprentnywerheid danksy regisseurs soos Steven Spielberg en George Lucas 'n nuwe opswaai beleef. Hulle het die konsep van die trefferrolprent (Engels: blockbuster) ontwikkel - monumentale filmproduksies, wat met hulle spesiale effekte talle besoekers na die rolprentteaters gelok het. Danksy hierdie konsep het Hollywood die sinoniem van die Amerikaanse rolprentbedryf met sy professionele en vermaaklike rolprentproduksies gebly, wat op bekende akteurs en 'n gelukkige slot steun.