Sterrebeeld
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Sterrebeeld (die Engelse term constellation gaan terug op die Latynse constellatio, "'n klompie sterre") is 'n groep sterre wat 'n patroon in die naghemel vorm, maar anders nie in enige verband met mekaar staan nie. Die tradisie om bepaalde beelde in die sterrehemel te sien bestaan by alle volkere, en by die vorming van sterrebeelde is daar soms verbasende ooreenkomste dwarsoor die wêreld.
Die huidige sterrebeelde is 'n erfenis van die Mesopotamiese, Griekse en Arabiese sterrekykers, wat 'n ryk universele mitologie geskep het. Van die sterrebeelde het baie ook Afrikaanse name, alhoewel die meeste sterrekundiges voorkeur aan die wetenskaplike Latynse benamings gee.
In 1928 en 1930 lê die Internasionale Sterrekundige Vereniging in Leiden (Nederland) die 88 sterrebeelde en hulle koördinate vas en besluit tegelykertyd om geen nuwe beelde meer by te voeg nie. Sterrekundige voorwerpe, wat in die toekoms ontdek sou word, sal as dele van die bestaande sterrebeelde beskou word.
Presies die helfte van die moderne sterrebeelde is al in die Griekse antieke tyd bekend, sommige van hierdie 44 beelde is selfs nog ouer en dateer uit die tydperk van die Babiloniërs.
[wysig] Die begin van die sterrekunde
Die geskiedenis van die sterrekunde begin moontlik saam met 'n ingrypende verandering in die menslike leefwyse - die oorgang van die jag na die landbou. Terwyl die vroeë mense plante net insamel, word die bepaling van die juiste tydstip vir die saad en oes 'n noodsaaklikheid vir beskawings wat boerdery as 'n ekonomiese basis het. Die mense begin natuurverskynsels soos reën noukeurig dophou.
Met die verfyning van die landboumetodes word wetenskappe ontwikkel, wat 'n oriëntasie in tyd en ruimte moontlik maak, soos wiskunde en sterrekunde. Dit is dus nie ongewoon dat volke soos die Babiloniërs, die Maya en Inka onafhanklik van mekaar en in verskillende lande en tydperke dieselfde wetenskaplike ontwikkelingspeil bereik het nie.
Ongelukkig is daar geen argeologiese vondse of oorlewerings wat uit die vroeë geskiedenis van die sterrekunde nie. Die vroegste bronne van sowat 5 000 jare gelede, byvoorbeeld uit Mesopotamië, is van beskawings wat reeds 'n baie hoë standaard van sterrekundige kennis het. Die groot aantal sterrebeelde wat as dierefigure gesien word, dui daarop dat hulle in dié periode van die mensheidsgeskiednis afgebaken is toe die mens diere nie meer jag nie, maar begin teel en beheers.
Verder kan 'n mens 'n verbintenis tussen godsdiens, astrologie en die vroeë sterrekunde aanwys. Die sinchronisiteit van hemelse gebeurtenisse en oestye, wat vir die landbou uiters belangrik is, lei tot die verering en aanbidding van die son, die maan en die sterre.
Aangesien die meeste vroeë kalenders op die maanjaar met 354 dae berus, word die sterre ook as 'n maat gebruik om die wentelbaan van die maan noukeurig te kan bepaal.
Om die sterre as oriëntasie in die tydsverloop, op see en in die woestyne te kan gebruik, begin mense hulle as beelde beskou. Sterre word in twee kategorieë sterrebeelde saamgevat - groepe van sterre, wat die silhoeët van 'n dier, mens of voorwerp uitbeeld, soos byvoorbeeld Orion, die jagter, en enkele sterre, wat op sigself 'n figuur simboliseer, soos byvoorbeeld die sewe sterre van die Plejade.
Om die hemels dop te hou, word in die antieke Mesopotamië, Egipte en Griekeland as die edelste van al die wetenskappe beskou. Die priesters van Assirië en Babilonië behoort tot die hoogs ontwikkelde sterrekykers; hulle slaag selfs daarin om die skynbare wenteling van die hemel waar te neem.
Griekse sterrekundiges begin vanaf die sesde eeu v.C. elemente van die Mesopotamiese, Persiese en Egiptiese hemelkunde, astrologie en mitologie saam te smelt en verder te ontwikkel. Die idee van die tekens van die diereriem, wat later die grondslag van die Westerse astrologie en sterrekunde vorm, gaan terug op die 5de eeu v.C.
Endoxus, 'n student van Plato, is die eerste Griekse sterrekundige wat die bekende beelde stelselmatig begin oplys. Claudius Ptolemeus (2de eeu n.C.) verwerk die bekende kennis van die hemelkunde, onder meer die navorsing van Hippokrates (2de eeu v.C.), in 'n katalogus, waarin hy sowat 1 000 sterre, wat in die Mediterreense lande waargeneem kan word, oplys. Hy stel 48 sterrebeelde saam, wat naas die twaalf beelde van die diereriem ook 21 noordelike en vyftien suidelike sterrebeelde insluit. Sy werk bly tot by die vyftiende eeu die mees belangrike bron vir die sterrekunde en dien ook vandag nog steeds as 'n astronomiese standaardbron.
Dit is die Europese ontdekkingsreisigers, wat 'n aantal suidelike sterrebeelde soos Crux (die Suiderkruis) waarneem en beskryf. Wetenskaplikes soos Johann Bayer (1572-1625), Johannes Hevelius (1611-1687) en Abbé Nicolas de Lacaille (1713-1762) voeg hulle by die bekende katalogus.
De Lacaille beoefen sy wetenskap in die gees van die Verligting, en hy baken veertien van die moderne sterrebeelde af. Hy vernoem hulle volgens die sterrekundige tradisie van die 17de en 18de eeu na voorwerpe, wat in noue samehang met die wetenskaplike vooruitgang staan. Daar is dus sterrebeelde soos Telescopium (die teleskoop), Microscopium (die mikroskoop), Circinus (die kompas van die opmeters), Octans (die oktant, voorloper van die sekstant), Fornax Chemica (die chemiese oond) en Horologium (die klok) in die suidelike hemel.
Ander moderne sterrebeelde versinnebeeld volke en eksotiese diere, wat deur die Europeane in oorsese gebiede ontmoet en ontdek word, soos byvoorbeeld Indus (die Indiër) en Chamaeleon, wat in die jare 1595-1597 deur die Nederlandse seevaarders Pieter Keyser en Frederik de Houtman vasgelê is. Die Poolse sterrekundige Johannes Hevelius noem die beeld Scutum (die wapenskild) ter ere van die Poolse koning Jan Sobieski III oorspronklik selfs Sobieski se Skild.
Vandag word die sterrebeelde veral as 'n soort kartografiese stelsel gebruik, waarmee nuwe astronomiese voorwerpe met koördinate voorsien kan word. Sterre binne 'n sterrebeeld word volgens die rangorde van hulle helderheid met die letters van die Griekse alfabet genoem, Alpha Centauri is gevolglik die helderste ster in die beeld Centaurus.
Maar ten spyte van die astronomiese nugterheid het die bekoring van die antieke mitologiese beelde in die hemel bewaar gebly, en hulle name is nooit aangetas nie.
[wysig] Lys van die 88 sterrebeelde
Latynse naam | Afrikaanse naam | Afkorting | Latynse genitief | Hoofster | Vasgelê deur |
---|---|---|---|---|---|
Andromeda | Andromeda | And | Andromedae | Alpheratz (Sirrah) | Ptolemeus |
Antlia (Pneumatica)* | Lugpomp | Ant | Antliae | Lacaille | |
Apus | Paradysvoël | Aps | Apodis | Bayer | |
Aquarius | Waterman | Aqr | Aquarii | Sadalmelik | Ptolemeus |
Aquila | Arend | Aql | Aquilae | Atair | Ptolemeus |
Ara | Altara | Ara | Arae | Ptolemeus | |
Aries | Ram | Ari | Arietis | Hamal | Ptolemeus |
Auriga | Voerman | Aur | Aurigae | Capella | Ptolemeus |
Boötes | Beerwagter | Boo | Bootis | Arcturus | Ptolemeus |
Caelum [Caela Sculptori]** | Bytel** | Cae | Caeli | Lacaille | |
Camelopardalis | Kameelperd | Cam | Camelopardalis | Plancius | |
Cancer | Kreef | Cnc | Cancri | Acubens | Ptolemeus |
Canes Venatici | Jaghonde | CVn | Canum Venaticorum | Cor Caroli | Hevelius |
Canis Major | Groot Hond | CMa | Canis Majoris | Sirius | Ptolemeus |
Canis Minor | Klein Hond | CMi | Canis Minoris | Prokyon | Ptolemeus |
Capricornus | Steenbok | Cap | Capricorni | Deneb Algedi | Ptolemeus |
Carina | Skeepskiel (Sterrebeeld) | Car | Carinae | Canopus | Lacaille |
Cassiopeia | Cassiopeia | Cas | Cassiopeiae | Schedir | Ptolemeus |
Centaurus | Centaurus | Cen | Centauri | Rigil Kentaurus | Ptolemeus |
Cepheus | Kepheüs | Cep | Cephei | Alderamin | Ptolemeus |
Cetus | Walvis | Cet | Ceti | Menkar | Ptolemeus |
Chamelaeon | Chameleon | Cha | Chamaeleontis | Bayer | |
Circinus | Sirkel | Cir | Circini | Lacaille | |
Columba | Duif | Col | Columbae | Phakt | Plancius |
Coma Berenices | Haar van Berenike | Com | Comae Berenices | Diadeem | Ptolemeus |
Corona Australis | Suidelike Kroon | CrA | Coronae Australis | Alfecca Meridiana | Ptolemeus |
Corona Borealis | Noordelike Kroon | CrB | Coronae Borealis | Alphekka (Gemma) | Ptolemeus |
Corvus | Kraai | Crv | Corvi | Alchiba | Ptolemeus |
Crater | Beker | Crt | Crateris | Alkes | Ptolemeus |
Crux (Australis)* | Suiderkruis | Cru | Crucis Australis | Acrux | Hevelius |
Cygnus | Swaan | Cyg | Cygni | Deneb | Ptolemeus |
Delphinus | Dolfyn | Del | Delphini | Sualocin | Ptolemeus |
Dorado | Swaardvis | Dor | Doradus | Bayer | |
Draco | Draak | Dra | Draconis | Thuban | Ptolemeus |
Equuleus | Vul | Equ | Equulei | Kitalpha | Ptolemeus |
Eridanus | Eridanus | Eri | Eridani | Achernar | Ptolemeus |
Fornax (Chemica)* | Chemiese oond* | For | Fornacis | Fornacis | Lacaille |
Gemini | Tweeling | Gem | Geminorum | Castor | Ptolemeus |
Grus | Kraan | Gru | Gruis | Al Nair | Bayer |
Hercules | Herkules | Her | Herculis | Ras Algethi | Ptolemeus |
Horologium | Horlosie | Hor | Horologii | Lacaille | |
Hydra | Waterslang | Hya | Hydrae | Alphard | Ptolemeus |
Hydrus | Klein Waterslang | Hyi | Hydri | Bayer | |
Indus | Indiër | Ind | Indi | Bayer | |
Lacerta | Akkedis | Lac | Lacertae | Hevelius | |
Leo | Leeu | Leo | Leonis | Regulus | Ptolemeus |
Leo Minor | Klein Leeu | LMi | Leonis Minoris | Praecipua | Hevelius |
Lepus | Haas | Lep | Leporis | Arneb | Ptolemeus |
Libra | Weegskaal | Lib | Librae | Zuben el-Djenoebi | Ptolemeus |
Lupus | Wolf | Lup | Lupi | Ptolemeus | |
Lynx | Tierkat | Lyn | Lyncis | Hevelius | |
Lyra | Lier | Lyr | Lyrae | Wega | Ptolemeus |
Mensa | Tafelberg | Men | Mensae | Lacaille | |
Microscopium | Mikroskoop | Mic | Microscopii | Lacaille | |
Monocerus | Eenhoring | Mon | Monocerotis | Hevelius | |
Musca | Vlieg | Mus | Muscae | Hevelius | |
Norma | Winkelhaak | Nor | Normae | Lacaille | |
Octans | Oktant | Oct | Octantis | Lacaille | |
Ophiuchus | Slangdraer | Oph | Ophiuchi | Ras Alhague | Ptolemeus |
Orion | Orion | Ori | Orionis | Beteigeuze | Ptolemeus |
Pavo | Pou | Pav | Pavonis | Joo Tseo (Peacock) | Bayer |
Pegasus | Pegasus | Peg | Pegasi | Markab | Ptolemeus |
Perseus | Perseus | Per | Persei | Mirphak (Algenib) | Ptolemeus |
Phoenix | Feniks | Phe | Phoenicis | Ankaa | Bayer |
Pictor [Equuleus Pictoris]** | Skilder | Pic | Pictoris | Lacaille | |
Piscis Austrinus | Suidelike Vis | PsA | Piscis Austrini | Fomalhaut | Ptolemeus |
Pisces | Visse | Psc | Piscium | Alrischa | Ptolemeus |
Puppis | Agterdek van die Skip | Pup | Puppis | Naos | Lacaille |
Pyxis (Nautica)* | Skeepskompas (Kompas van die Seevaarder)** | Pyx | Pyxidis | Lacaille | |
Reticulum | Net | Ret | Reticuli | Lacaille | |
Sagitta | Pyl | Sge | Sagittae | Sham | Ptolemeus |
Sagittarius | Skutter | Sgr | Sagittarii | Rukbat | Ptolemeus |
Scorpius | Skerpioen | Sco | Scorpii | Antares | Ptolemeus |
Sculptor [Apparatus sculpturis]** | Beeldhouer (se ateljee)* | Scl | Sculptoris | Lacaille | |
Scutum | Skild | Sct | Scuti | Hevelius | |
Serpens | Slang | Ser | Serpentis | Unukalhai | Ptolemeus |
Sextans | Sekstant | Sex | Sextantis | Hevelius | |
Taurus | Stier | Tau | Tauri | Aldebaran | Ptolemeus |
Telescopium | Teleskoop | Tel | Telescopii | Lacaille | |
Triangulum Australis | Suidelike Driehoek | TrA | Trianguli Australis | Atria | Bayer |
Triangulum | Driehoek | Tri | Trianguli | Metallah | Ptolemeus |
Tucana | Toekan | Tuc | Tucanae | Bayer | |
Ursa Major | Groot Beer (Groot Wa) | UMa | Ursae Maioris | Dubhe | Ptolemeus |
Ursa Minor | Klein Beer (Klein Wa) | UMi | Ursae Minoris | Polaris | Ptolemeus |
Vela | Seil van die Skip | Vel | Velorum | Suhail al Muhlif | Lacaille |
Virgo | Jonkvrou | Vir | Virginis | Spica | Ptolemeus |
(Piscis) Volans* | Vlieënde Vis | Vol | Volantis | Bayer | |
Vulpecula | Vos | Vul | Vulpeculae | Hevelius |
Sterre wat met 'n '*' gekenmerk is, het vandag 'n verkorte naam sonder die gedeelte tussen hakies.
'**' dui name aan wat geheel gewysig is. Die oorspronklike naam word tussen hakies aangedui '[ ]'
Kleure: | Noordelike sterrehemel | Suidelike sterrehemel |