Brussel
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Bruxelles / Brussel / Brüssel | |
---|---|
![]() |
![]() |
Land: | ![]() |
Gewes (deelstaat): | ![]() |
Koördinate: | 50°51'N, 4°21'O |
Oppervlakte: | 32,61 vk km (km²) |
Bevolking: | 144 790 (2006) |
Bevolkingsdigtheid: | 4 440 / vk km (km²) |
Metropolitaanse gebied: | 1 018 029 (01/01/2006) |
Hoogte: | 15-100 m bo seespieël |
Burgemeester: | Freddy Thielemans (PS) |
Tale : | Frans en Nederlands |
Brussel (Nederlands en Afrikaans), Frans: Bruxelles, Duits: Brüssel, Engels: Brussels) is die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België met 'n oppervlakte van 32,61 vierkante kilometer en 144 790 inwoners (2006).
Saam met 18 ander stede en gemeentes vorm dit die metropolitaanse gebied (agglomération de Bruxelles) van Brussel met sowat een miljoen oorwegend Franstalige inwoners. Dit is na Montréal ook die tweede grootste Franstalige agglomerasie buite Frankryk. Openbare instellings is egter twee- of drietalig.
Die stad vervul sowel nasionale funksies as administratiewe hoofstad van die Gewes Brussel-Hoofstad (Région de Bruxelles-Capitale) en die Franse en Vlaamse Gemeenskappe van België, asook internasionale funksies as die administratiewe hoofstad van die Europese Unie, as die setel van 120 internasionale organisasies en 159 ambassades met meer as 2 500 diplomate, wat van Brussel die tweede belangrikste stad vir diplomatieke betrekkinge na New York maak.
Brussel huisves ook die hoofkwartiere van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Sekretariaat-Generaal van die Benelux-Unie van België, Nederland en Luxemburg, en sowat 1 400 nie-regeringsorganisasies (NROs). Die stad word deur twee moderne lughawens bedien, Brussel-Nationaal in die Vlaamse voorstad Zaventem en Bruxelles-Sud (Brussel-Suid) in Gosselies naby Charleroi.
Brussel beskik oor een van die mooiste markpleine ter wêreld (die Grote Markt), tientalle musea en voorbeelde van historiese boustyle. Terselfdertyd is dit 'n stad wat steeds vernuwing ondergaan, en daar is nou moderne stadswyke wat deur administratiewe en sakegeboue oorheers word.
Uitgestrekte parke en bosgebiede in die stad self en in die omgewing is rusplekke vir die besige Brusselaars. Besienswaardighede buitekant Brussel sluit die reusagtige Zoniënwoud (Frans: Forêt de Soignes) en die Koninklike Museum vir Sentraal-Afrika in Tervuren ('n oostelike Vlaamse voorstad) en die dorpie Waterloo (in die provinsie Waals-Brabant) in, waar met die historiese slag van die jaar 1815 die tydperk van Napoléon Bonaparte tot 'n einde kom.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die naam Brussel is 'n samestelling van die Oud-Nederlandse woord bruoc ("broek" of "moeras") en sella ("kapel")
Volgens die legende word Brussel in die 7de eeu deur die heilige Gérald, biskop van Cambrai, op 'n eiland in die Zennerivier gestig.
Die stad Bruocsella word vir die eerste keer in 'n dokument uit die jaar 966 genoem. In 977 laat hertog Karel van Nederlotaringe 'n kapel en 'n burg op 'n eiland in die Zenne oprig.
Sedert die 12de eeu is Brussel die woonplek van die Brabantse hertoë en 'n sentrum van die middeleeuse lakennywerheid. Die vesting van Brussel dien as beskerming van die ou handelsroete tussen Brugge en Keulen. Die stad word in die 12de eeu aansienlik vergroot en gedurende die 14de eeu word die verskillende stadswyke deur 'n gemeenskaplike stadsmuur verenig.
In die jaar 1383 word die hoofstad van die Hertogdom Leuven na Brussel verskuif. Hoewel 'n groot aantal adellikes en ampenare van die hof hulle in die stad vestig, word Brussel nog steeds deur die koopmansgildes regeer. Sedert 1421 is ook ambagsmanne lede van die stadsraad. Brussel beleef die hoogtepunt van sy ontwikkeling onder die heerskappy van die Hertoë van Boergondië en word die hoofstad van die Nederlande. Die Grote Markt (Frans: Grand Place) met die statige Raadsaal en sy pragtige gildehuise word die trotse simbool van die plaaslike bestuur. Danksy die hof van die hertoë word Brussel ook 'n belangrike sentrum van die renaissance in die noordelike deel van Europa. Met sowat 45 000 inwoners teen die jaar 1455 is Brussel een van die grootste Europese stede.
Tydens die 16de eeu is Brussel die sentrum van die Nederlandse opstand teen die Spaanse heerskappy; 1585 verower Alessandro Farnese, stadhouer van die Nederlande, die stad.
Brussel word hoofstad van die Habsburgse Nederlande en vanaf 1830 die hoofstad van België met destyds meer as 100 000 inwoners. In 1835 ontstaan die eerste spoorweg op die Europese vasteland, wat Brussel met die nabye Vlaamse stad Mechelen verbind.
Danksy die nuwe rol as die hoofstad van 'n onafhanklike staat en die aansienlike groei van die Belgiese nywerhede lei tot 'n vinnige aanwas in die bevolking, onder meer deur immigrasie uit die Franstalige Wallonië en Frankryk. Die plattelandse dorpies van die omgewing smelt saam met die historiese stadskern van Brussel. In hierdie tydperk verloor die stad sy voormalige Vlaamse karakter.
Na die Tweede Wêreldoorlog kry Brussel 'n nuwe rol as 'n internasionale sentrum en hoofkwartier van belangrike Europese instellings. Die wêreldtentoonstelling van 1958 vind hier plaas. Sedert 1967 is Brussel ook die hoofkwartier van die NAVO.
Brussel het sy internasionale karakter aan vier historiese tydperke te danke. In 1550 verskuif Maria van Hongarye, 'n heerseres van die huis Habsburg, die administrasie van die Spaanse Nederlande van Mechelen na Brussel. Koning Leopold II, wat tussen 1865 en 1909 regeer het, oornem die neoklassisistiese boustyl van Parys vir sy geboue, onder meer die Triomfboog van die jare 1904-1905. Sy koloniale beleid in Afrika lei tot die stigting van die kolonie Belgies-Kongo, en vandag huisves die Belgiese hoofstad nog steeds 'n gemeenskap van Kongolese burgers. Met die heropbou en die modernisering van die ekonomie vestig 'n groot aantal gasarbeiders uit Italië en later ook Arabiese lande hulle in Brussel. Die ontwikkeling van Brussel tot een van die politieke sentrums van die Europese Unie lei tot die vestiging van duisende Europese amptenare in die stad.
[wysig] Taalkundige situasie
Die oorspronklike tale van Brussel is die Brabantse dialekte van Nederlands. Eie aan Brussel was Marollien (Frans: "Die taal van die stadswyk Marollen"), 'n Brusselse dialek wat sterk deur die Waalse taal beïnvloed is. Marollien word oorspronklik in die Marollen (Frans: Marolles), 'n stadswyk in die binnestad van Brussel, gepraat. Frans en Nederlands is in die geskiedenis van die stad as amptelike tale gebruik en deur die bolaag van die bevolking gepraat.
Met die vestiging van geletterdheid onder die bevolking word die dialekte geleidelik deur die standaardtale teruggedring. In Brussel neem die grootste deel van die bevolking eerder die meer prestigieuse Franse taal, wat hulle ook as nuttiger ag, as Nederlands as hulle kulturele taal aan. Vandag word die Brusselse dialekte deur uitwissing bedreig, alhoewel daar pogings onderneem word om hulle te bewaar.
Tans is Brussel as die nasionale hoofstad van België amptelik tweetalig. Daar is geen amptelike statistieke aangaande die huistaal van die bevolking nie. Volgens 'n studie van Rudi Janssens, 'n sosiolinguïs by die Nederlandstalige Vrije Universiteit van Brussel (VUB), is sowat 8,5 persent van die Brusselse bevolking Nederlandse moedertaalsprekers, terwyl 10,2 persent Nederlands en Frans as huistale praat. Die res van die bevolking is óf Franse moedertalsprekers óf anderstaliges wat oorwegend Frans gebruik wanneer hulle met mense van 'n ander taalgroep praat.
Die groei van Brussel lei tot die vestiging van groot getalle Franstaliges in die Vlaamse voorstede van Brussel, waar hulle dikwels al die meerderheid (soms sewentig persent van die bevolking) vorm.
Die feit dat Brussel 'n hoofsaaklik Frankofone metropool geword het en deur middel van die verfranste voorstede nou 'n veral Franse taalgebied in voormalige Vlaamse dorpe begin ontwikkel, wat administratief en territoriaal direk verbind (corridor) sou kon word met Wallonië, skep 'n probleem vir die twee groot taalgemeenskappe van België.
Na die Tweede Wêreldoorlog is die status van die stad 'n twispunt van die Belgiese politiek. Brussel is sedert die jare 1932 tot 1938 offisiëel tweetalig, terwyl die ses Vlaamse randgemeentes (voorstede net buite Brussel) Drogenbos, Kraainem, Linkebeek, Sint-Genesius-Rode, Wemmel en Wezembeek-Oppem fasiliteite moet aanbied vir frankofone Brusselaars wat na hierdie voorstede verhuis het. Daar is nog steeds 'n geskil of hierdie instellings soos skole en biblioteke slegs 'n tydelike oplossing gaan wees of permanente status moet kry. Pogings van Franstaliges om hierdie randgemeentes by die agglomerasie van Brussel in te lyf en sodanig die taalgrens deur die geografiese verbinding met Wallonië vir goed af te baken, is deur die Vlaamse bevolking (60 persent van die Belgiese bevolking) gekeer.
Die aantreklikheid van die Franse taal en leefwyse, alhoewel gepaard met maatskaplike druk, het sedert die 19de eeu steeds verseker dat baie Vlaminge Nederlands as omgangstaal laat vaar het, en daar is geen aanduiding dat hierdie proses nog gestu kan word nie. In die laaste tyd begin Franstalige ouers egter hul kinders ook na Nederlandstalige skole stuur; die groot persentasie van minderbevoorregtes (veral kinders van immigrantegroepe) wat Franse skole toe gaan maak hulle nou minder aantreklik.
[wysig] Ekonomiese basis
In die Middeleeue is Brussel se ekonomie deur die gildes van die verskillende ambagte oorheers, en naas die meer as veertig lewensgrote bronsstandbeelde op die Place du Petit Sablon (Kleine Zavel), wat hierdie gildes versinnebeeld, is daar nog 'n aantal straatname soos Beenhouwersstraat, wat aan die ambagsmanne se oorspronklike kwartiere herinner. Net soos Gent en Brugge het Brussel destyds as 'n sentrum van die lakenbedryf, die gobelinfabrieke, die timmermans, silwersmede en meubelmakers bekend gestaan.
Ná die onafhanklikheidsverklaring van België in 1830 het 'n aantal banke en nywerhede hulle hoofkwartiere in die stad gevestig, en Brussel speel 'n belangrike rol by die industrialisering van die land. Die grootste ondernemings, wat hier gestig is, is Solvay, 'n chemiese onderneming, en die Société Générale de Belgique, 'n bank en eiendomsmaatskappy, wat sowat 'n derde van die Belgiese ekonomie oorheers het en in 1989 deur die Franse maatskappy Suez oorgeneem is. Sy hoofkwartier lê in die rue Royale (Koningsstraat).
Intussen is die dienstesektor die belangrikste bedryf in Brussel, naas die nasionale en internasionale administrasies en organisasies. Die dienstesektor en die internasionale organisasies gee op hulle beurt die aanleiding tot die vestiging van besighede, wat aanvullende dienste lewer, soos onder meer hotelle en restourante.
Ten opsigte van die nywerheidsbedryf is die farmaseutiese en elektroniese nywerhede die belangrikste werkgewers, en Brussel is nog steeds die tweede belangrikste nywerheidstad in België na die hawestad Antwerpen. Die Duitse motorvervaardiger Volkswagen het 'n aanleg in die voorstad Forest (Vorst) opgerig, wat tans die grootste fabriek in Brussel is. Brusselse kant en tapyte is gewilde tradisionele kunshandwerk.
Meer as 2 000 buitelandse ondernemings het hulle hoofkwartiere in Brussel, waarvan 1 400 maatskappye uit Noord-Amerika, wat van hier die Europese mark bedien, en sestig buitelandse banke. Brussel is tans die sewende grootste finansiële sentrum ter wêreld. Daar is ook meer as 1 000 internasionale organisasies en verenigings, wat hulle hoofkwartiere in Brussel het. Brussel tree as gasheerstad vir jaarliks meer as 1 000 sakekonferensies op.
[wysig] Kuns en kultuur
Brussel se ryk verskeidenheid van kulturele instellings sluit talle Frans- en Nederlandstalige teaters, waaronder die eersterangse operateater Muntschouwburg (Frans: Théatre de la Monnaie), en musea in.
Net soos Parys staan Brussel as een van die Europese hoofstede van die strokiesverhaal bekend. België is die tuisland van wêreldbekende tekenaars soos Hergé (eintlik Georges Remi, "Die avonture van Kuifie"), Morris (eintlik Maurice de Bevère, "Lucky Luke") en Peyo (eintlik Pierre Culliford, "Les Schtroumpfs", Afrikaans: Die "Smurfe"). Daar is meer as 650 aktiewe tekenaars, en Belgiese strokiesverhale het 'n wêreldwye oplaag van jaarliks 40 miljoen. Reusagtige beelde van gewilde strokiesverhaal-figure word dikwels gebruik om huismure te versier (tans is 32 huisfasades op hierdie manier verfraai), en kunstenaars word ook uitgenooi om kunswerke vir die Brusselse metrostasies te ontwerp.
Die Belgiese Strokiesverhaal-museum (Belgisch Centrum voor het Beeldverhaal, Centre Belge de la Bande Dessinée) verbind twee leidmotiewe van die stad se kunslewe: Sy gebou is die voormalige afdelingswinkel Waucquez, wat deur Victor Horta in die Art nouveau-styl ontwerp en in 1906 opgerig is.
Die historiese stadskern bied pragtige voorbeelde van Vlaamse burgerhuise; opvallend is die Art nouveau-argitektuur. Victor Horta, die pionier van die Art nouveau-boustyl in Brussel, speel 'n leidende rol in die argitektoniese geskiedenis van die stad.
Die Palais Stoclet in die Tervurenlaan, wat deur die Weense argitek Josef Hoffmann ontwerp is, word as een van die pragtigste voorbeelde van die Art nouveau-styl beskou. Voorstede soos Schaarbeek, Sint-Gillis (Frans: Saint-Gilles), Elsene (Frans: Ixelles) en Etterbeek, wat in die bloeitydperk van die Art nouveau-styl ontstaan, vorm 'n interessante kontras teen die moderne stadswyke van Leopoldwijk (Frans: Quartier Léopold) en Noordwijk (Espace Nord).
[wysig] Besienswaardighede
- Die Zoniënwoud (Frans: Forêt de Soignes) is 'n beukeboomwoud wat sowat 4 300 hektaar grond dek. Die woud, wat nou nog 'n derde van sy oorspronklike oppervlakte van die jaar 1830 beslaan, behoort tot die mooiste bosgebiede van die land. Die reusagtige bome word soms met die pilare van 'n katedraal vergelyk.
- Die Grote Markt (Frans: Grand Place) behoort tot die mooiste markpleine ter wêreld. Dit is reeds in die 13de eeu die middelpunt van die Brusselse handel, en 48 gildes het destyds hulle hoofkwartier in die stad. Die oorspronklike plein is in 1695 onder Franse geskut verniel, net die raadsaal is gespaar. Met die heropbou ontstaan 'n harmoniese groep van geboue in die Vlaamse barok-styl met sy kenmerkende goue en ryk versierde voorgewels. Die Stadhuis of Raadsaal van Brussel (Frans: Hôtel de Ville de Bruxelles) is die pronkstuk op die plein. Die gebou ontstaan in die tydperk tussen 1402 en 1455 as 'n simbool vir die rykdom van die stad; sy toring van 97 meter, wat deur Jan van Ruusbroec ontwerp is, is met 'n standbeeld van die Heilige Michael bekroon, die beskermheilige van die stad. Die toring word as een van die mooiste voorbeelde van die wêreldlike gotiese boustyl beskou. In 1998 word die Grote Markt as een van die UNESCO se wêrelderfenisgebiede gelys.
- Die Broodhuis (Frans: Maison du Roi) dateer uit die jare 1515 tot 1525 (heropgerig in die tydperk tussen 1860 en 1885) en dien vandag as 'n stedelike museum. Historiese dokumente oor die geskiedenis van die stad Brussel, kantwerk, tapyte, porselein en 'n groot versameling kostuums en uniforms van Manneken Pis kan hier bewonder word.
- Die gotiese katedraal St-Michel (vroeër Ste-Gudule) is tussen die 13de en 15de eeu opgerig en aan die aartsengel Michiel, die beskermheer van Brussel, en aan die heilige Gudula gewy. Sy pragtige glasvensters dateer uit die 16de eeu. Sedert die jaar 1962 is dit die setel van die aartsbiskop van Mechelen-Brussel.
- Die bron met die bekende Manneken Pis staan sowat honderd meter agter die raadsaal in die Stoofstraat (Frans: Rue de l'Étuve) en simboliseer die eiesinnige karakter van die Brusselaars. Die bronsfiguur is in 1619 deur Jérôme Duquesnoy gegiet.
- Die elegante Koningsplein (Place Royale) is tussen 1774 en 1780 in die styl van Louis XVI (Lodewyk XVI) opgerig.
- Die Museum voor Oude Kunst (Musée d'Art ancien) toon skilderye van onder meer Brueghel en Rubens.
- Die Jubelpark (Parc du Cinquantenaire) lê sowat 2 500 meter oos van die stadsentrum en beslaan 'n oppervlak van 38 hektaar. Die park word in 1880 ter viering van België se vyftigste verjaardag opgerig en huisves onder meer een van die grootste Europese museumkomplekse. Die Koninklike Museum vir Kuns en Geskiedenis in die Palais du Cinquantenaire (Vijftigjarige Jubileumspaleis) toon kunswerke en antikwiteite; hier in die oostelike deel van Brussel is ook die meeste administratiewe geboue van die Europese Unie te vinde.
- Die Brusselse Atomium in die voorstad Laken (Laeken), simbool van die wêreldtentoonstelling van 1958, vorm met sy nege bolle 'n 165-biljoen-keer vergroting van 'n ystermolekuul. Die gebou van 102 meter hoogte met 'n gewig van 2 400 ton is deur die argitek André Waterkeyn aan die wetenskaplike vooruitgang gewy. Die Atomium ondergaan naastenby vyftig jaar na sy opening uitgebreide herstelwerk en opknapping. Die aluminium van die ystermolekuul en die struktuur is deur vlekvrye staal vervang. Teen die einde van die jaar 2005 is die Atomium heropen.
- Die stadswyk Marollen (Les Marolles) met sy bekende vlooimark word oorheers deur die reusagtige Justitiepaleis (Palais de Justice of Paleis van Justisie) en sy koepel van 103 meter. Hierdie gebou, wat tussen 1866 en 1883 volgens planne van die argitek Joseph Poelaert (1817-1879) in die boustyl van die eklektisisme opgerig is, oortref met sy afmetings en 'n oppervlakte van 26 000 vierkante meter selfs die Sint-Pieterskerk in Rome (15 600 vierkante meter). Die plato, waarop die paleis staan, is die ou galgheuwel van Brussel.
- Die Sint-Hubertusgalerijen (Galeries Saint-Hubert) is die eerste oordakte winkellaan in Europa en word in die jare 1846 tot 1847 opgerig.
[wysig] Vervoer
Brussel beskik oor 'n aantal groot spoorwegstasies (Brussel-Noord, Brussel-Sentraal en Brussel-Suid), wat deur 'n tonnellyn met mekaar verbind word. Die belangrikste stasie vir treine uit die buiteland is Brussel-Zuid (Bruxelles Midi), wat verbindings na Parys, Amsterdam, Keulen en Londen bied. Die sneltrein Thalys verbind die Brusselse hoofstad met Parys en Keulen, terwyl die Eurostar Londen as bestemming het.
[wysig] Feeste
Die skilderagtige historiese skouspel Ommegang vind op die eerste Donderdag van Julie op die Grote Markt plaas. Die tradisionele Meyboom word jaarliks op 9 Augustus geplant.
[wysig] Kookkuns
Brussel word as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld beskou. Die Grote Markt is die tuiste van die chocolatiers en ander winkels wat die gesogte soet kosse verkoop. Die Îlot sacré noordoos van die Grote Markt is 'n ou buurt met talle restourante. Tipiese spesialiteite is moules-frites (mosselen en frieten), Brusselse sigorei (witloof of chicorée) en spruitkool (spruitjes of chou de Bruxelles, Engels: Brussels sprouts).
België ken honderde soorte biere; Kriek-Lambic en Gueuze is tipies Brussels. As basis vir die suur Gueuze-bier dien Lambic, wat van koring, gemoute gars, hop en water gebrou word en in ou houtvate sonder gis fermenteer. Dikwels word verskillende soorte Lambic gemeng, om die skuimende Gueuze te verkry - 'n bier met 'n sterk geur van appelwyn. Die Belgiërs geniet hulle lambic ook met kerssap ("kriek") en ander vrugtesappe.
Gewilde Brusselse lekkernye is die bekende gaufres (wafels), wat ook as 'n warm nagereg met of sonder stroop geniet word, en sjokolade. Die apteker Jean Neuhaus, 'n immigrant uit die Switserse stad Neuchâtel, open in 1857 in die Galerie de la Reine 'n winkel, waar hy bitter pille met 'n ootreksel van suiker verkoop. Sy seun Frédéric begin ingevoerde kakaobone uit Afrika gebruik en bied omtrent 1900 die eerste pralinees aan wat van sjokolade gemaak is.
Alhoewel die Amerikaners hulle french fries noem, is die bekende frietes (Frans: frites, Nederlands: frieten) 'n egte Belgiese uitvinding. Sover bekend, word frietes reeds in die jaar 1781 in die stad Liège (Luik) as 'n tipiese wintermaaltyd geniet - die klein stafies vervang toe die visse, wat weens die dikke yslae op die mere en riviere nie meer gehengel kon word nie. In 'n tyd, wanneer aartappels in Frankryk nog feitlik onbekend is, word hulle in die noordelike buurland danksy die Belgiese vernuf ook buite die kookkuns gebruik: Tydens die Brabantse Rewolusie van 1789 is die Oostenrykse troepe met aartappels gebombardeer.
Die huidige vreedsame gebruik van hierdie Belgiese stapelvoedsel vereis dat hulle eers tien minute lank teen 120°C in diepolie geblansjeer word, 'n tyd lank mag afkoel en daarna nog eens 'n kort rukkie teen 180°C gebak word, wat hulle besonder bros maak en aan hulle die tipiese goue kleur verleen.