George W. Bush
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
George Walker Bush | |
---|---|
![]() |
|
43ste President van die Verenigde State | |
Ampstermyn | 20 Januarie 2001 – |
Voorganger | Bill Clinton |
Opvolger | - |
Geboortedatum | 6 Julie 1946 |
Geboorteplek | New Haven, Connecticut |
Eerste Dame | Laura Bush |
Politieke party | Republikein |
Visepresident | Richard Bruce Cheney |
Handtekening | ![]() |
George Walker Bush (gebore op 6 Julie 1946) is die 43ste en huidige president van die Verenigde State, wat vir die eerste keer op 20 Januarie 2001 en vir sy tweede ampstermyn op 20 Januarie 2005 ingesweer is.
Bush is vir die eerste keer in 2000 gekies, met een van die kleinste en mees omstrede voorspronge in die Amerikaanse geskiedenis. Ná 'n maand se hertelling van stembriewe en betwistings van die verkiesingsresultate in Florida se geregshowe het die Amerikaanse Hooggeregshof uiteindelik George W. Bush as wenner van die presidentsverkiesing verklaar. [1]

In Maart 2003 het Bush die bevel vir die inval in Irak gegee, nadat hy verklaar het dat Irak die bepalings van die Resolusie 1441 van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad aangaande Irak se wapens van massavernietiging nie nagekom het nie. [3][4] Ná die inval in Irak het Bush sy beleid van demokratisering van die Midde-Ooste bekragtig, wat vir die eerste keer in Afghanistan en Irak toegepas is.[5]
In 2004 het hy in sy tweede verkiesingsveldtog getrek as self-verklaarde "oorlogspresident"[6] en uiteindelik teen die Demokratiese Senator John Kerry gewen[7]. Die verkiesingsveldtog se belangrikste temas was - naas morele waardes en ekonomiese vraagstukke - President Bush se handhawing van die "oorlog teen terrorisme" en die oorlog in Irak.[8][9]
Kwessies rondom die "oorlog teen terrorisme", Irak, die Amerikaanse gevangenekamp Guantánamobaai op die eiland Kuba, die marteling en misbruik van gevangenes in die Irakse gevangenis Abu Ghraib het net soos die geheimediens NSA se praktyke en federale noodhulpmaatreëls in verband met die Orkaan Katrina kontroversele onderwerpe gedurende sy tweede ampstermyn geword.
Inhoud |
[wysig] Biografie
Bush is as die eersteling-seun van George H. W. Bush en sy vrou Barbara Bush in New Haven (Connecticut) gebore. Sy vaderlike voorouers was afkomstig uit Somerset in die West Country (Engeland) en het in die 17de eeu na Amerika geëmigreer. Bush se ouers het van Connecticut na Texas verhuis toe hy twee jaar oud was. Hy is met sy drie broers Jeb, Neil en Marvin en sy suster Dorothy in Midland en Houston opgevoed. Sy tweede jonger suster, Robin, is in 1953 op die ouderdom van drie aan leukemie oorlede.[10] Bush se grootvader Prescott Bush was 'n Senator van Connecticut, en sy vader het tussen 1989 en 1993 as President van die VSA gedien.
Bush het die Phillips Academy in Andover (Massachusetts) besoek en is net soos sy vader ook deur die Yale-universiteit aanvaar, waar hy in 1968 'n B.A.-graad in Geskiedenis behaal het. Hy het tegelykertyd aan 'n aantal Republikeinse verkiesingsveldtogte deelgeneem, waaronder ook dié van sy vader as senatorskandidaat in Texas in die jare 1964 en 1970. As 'n college senior het Bush lid geword van die geheime vereniging Skull and Bones. Bush was, volgens sy eie beskrywing, 'n middelmatige student.[11]
In Mei 1968 is Bush op die hoogtepunt van die Viëtnam-oorlog deur die lugeenheid van die Texaanse Nasionale Garde aanvaar en het ná sy opleiding diens in Houston gedoen.[12] Tydens sy politieke loopbaan is die toedeling en duur van Bush se diensplig herhaaldelik gekritiseer. Daar word beweer dat Bush weens die politieke pos van sy vader 'n voorkeurbehandeling geniet en sy dienspligte onreëlmatig uitgevoer het. Bush het in 1972 vir 'n verplasing na die lugeenheid van Alabama se Nasionale Garde gevra om aan die verkiesingsveldtog van 'n plaaslike Republikeinse senatorskandidaat deel te neem en in 1974 verlof gekry om sy diensplig van ses jaar met ses maande te verkort sodat hy sy studies aan die Harvard Business School betyds kon begin. Hy is toegestaan om sy militêre loopbaan nogtans op 'n eervolle manier te kan beëindig.[13]
'n Aantal verslae aangande dwelmmisbruik en ander wanordelike gedrag dateer uit hierdie tydperk. Bush het erken dat hy gedurende daardie jare "te veel" gedrink het en dié periode van sy lewe as die "nomadiese" tydperk van sy "onverantwoordelike jeug" genoem.[14] Op 4 September 1976 is Bush op 30-jarige leeftyd in hegtenis geneem nadat hy in die buurt van die Bush-gesin se somerhuis in Kennebunkport (Maine) dronk bestuur het. Hy het skuldig gepleit, is 'n geldboete van VSA-$ 150 opgelê en sy bestuurderslisensie is tot by die jaar 1978 ingetrek[15] in Maine.[16]
Nadat hy 'n meestersgraad in bedryfsbestuur aan die Harvard-universiteit behaal het (hy is die enigste President van die VSA met 'n MBA-graad)[17], het Bush sy loopbaan in die Texaanse olienywerheid begin. In 1977 is hy deur vriende aan Laura Welch bekendgestel, 'n onderwyseres en bibliotekaresse. Drie maande later het hy met Laura getrou, en die egpaar het hulle in Midland gevestig. Hulle tweelingdogters, Jenna en Barbara, is in 1981 gebore.
In 1978 is Bush in Texas se 19de Kongres-kiesdistrik as Republikeinse kandidaat vir die Huis van Afgevaardigdes genomineer en het gedurende sy verkiesingsveldtog die klemtoon op sy groot ervaring in die energiebedryf en sy konserwatiewe waardes gelê. Hy is uiteindelik deur die Demokratiese kandidaat Kent Hance met 'n meerderheid van 6 000 van die uitgebragte stemme verslaan, nadat die meeste kiesers Hance se eie konserwatiewe standpunte, sy afkeuring van strenger wapenbeheer en sy nouer verbondenheid met die landelike Texas gewaardeer het. Hance het later na die Republikeinse Party oorgeloop en Bush se verkiesingsveldtog as goewerneurskandidaat met 'n donasie gesteun.[18]
Bush het sy loopbaan in die plaaslike olienywerheid voortgesit, wat in die 1980's as gevolg van 'n skerp prysdaling in moeilikhede beland het. Omtrent 1986 het Bush 'n geheelonthouer geword, Christelike filosofie begin studeer en begin om aan kerklike en gemeenskapsstudiegroepe deel te neem. Volgens sy eie woorde het Bush ná 'n persoonlike ontmoeting en gesprek met Eerwaarde Billy Graham 'n wedergebore Christen geword.[14]
In 1988 het Bush met sy gesin na Washington, D.C. verhuis om die presidensiële verkiesingsveldtog van sy vader te ondersteun.[19] Saam met sy kollega's Lee Atwater en Doug Wead was hy by die ontwikkelin en koördinering van 'n politieke strategie betrokke, wat veral op konserwatiewe en evangeliese Christene gemik was, aangesien hulle as die beslissende faktor vir die nominasie en verkiesing beskou is.[20]
Ná sy terugkeer na Texas het hy in April 1989 'n aandeel in die franchise van die Texas Rangers-bofbalspan gekoop en vyf jaar lank as besturende vennoot gedien.[21] Later het hy sy aandeel van oorspronklik VSA-$ 800 000 vir meer as $ 15 miljoen verkoop.[22]
[wysig] Politieke loopbaan
[wysig] Goewerneur van Texas
In 1994 is Bush as die Republikeine se goewerneurskandidaat vir Texas genomineer, ten spyte van sy gebrek aan politieke ervaring en die gewildheid van die destydse Demokratiese goewerneur Ann Richards, wat as algehele gunsteling van die Texaanse kiesers beskou is.
Bush se verkiesingsveldtog is deur 'n aantal eersterangse politieke raadgewers gekoördineer en het veral goewerneur Ann Richards se swak rekord van handhawing van wet en orde, haar politieke benoemings en haar steun vir liberale politieke eise aangespreek. Bush het van homself 'n positiewe beeld geskep met onderwerpe soos "persoonlike verantwoordelikheid" en "morele leierskap" en 'n aantal belangrike vraagstukke soos onderwys, misdaad, deregulering van die ekonomie en hervorming van die regstelsel aangespreek. Sy veldtog is gekritiseer vir die manier waarop Ann Richards neergehaal is, maar desondanks het Bush se gewildheid as gevolg van sy indrukwekkende debatsvoering toegeneem. Uiteindelik het hy Richards met 52 persent van die uitgebragte stemme geklop.[23]
As goewerneur het Bush met sukses wetgewing ingedien waardeur die regstelsel hervorm is, die befondsing van onderwys verhoog, hoër standaarde in Texas se skole daargestel en die kriminele regstelsel hervorm. Onder sy leierskap het Texas 152 gevangenes tereggestel - meer as onder enige ander goewerneur in die moderne geskiedenis van Amerika. Kritiese stemme soos Helen Prejean het egter geredeneer dat Bush nie ernstig oorweg het om aansoeke om grasieverlening te oorweeg nie.[24]
Skoolbefondsing is destyds deur die politikusse en media as 'n politiek gevoelige saak beskou. Die deelstaat Texas het sy onderwysstelsel deur eiendomsbelasting gefinansieer. Bush het gepoog om die hoë belastingtariewe ten gunste van huiseienaars te verlaag en gelyktydig die algemene befondsing van onderwys te verhoog en nuwe belasting op maatskappye in te voer. Maar hy het sterk opposisie van sy eie party en die privaatsektor gekry. Nadat geen konsensus oor hierdie saak bereik is nie, het Bush 'n oorskot op die begroting gebruik om 'n belastingverlaging van VSA-$ 2 miljard toe te staan - die hoogste in die Texaanse geskiedenis. Hierdie besluit het sy openbare beeld van 'n fiskalies konserwatiewe politikus en beskermer van besigheidsbelange gevestig.[25]
Bush het ook 'n pioniersrol by die instelling van godsdiensgebaseerde welsynsprogramme gespeel en die regering se steun en befondsing van nie-staatlike, godsdienstige organisasies verhoog, wat sosiale dienste soos opvoeding en onderwys, voorkoming van dwelm- en drankmisbruik en vermindering van huislike geweld verskaf. Goewerneur Bush het op 17 April 2000 'n memorandum geteken waarmee 10 Junie in Texas tot "Jesus-dag" verklaar en alle Texaners aangespoor is om hulp aan noodlydendes te verleen.[26] Alhoewel Bush vir sy skending van die konstitusionele skeiding van staat en kerk ("Congress shall make no law respecting an establishment of religion, or prohibiting the free exercise thereof...") gekritiseer is, het die meeste Texaners, veral godsdienstige en sosiaal-konserwatiewes, sy inisiatief gesteun.
In 1998 het Bush 'n beslissende oorwinning in die goewerneursverkiesing behaal met naastenby 69 persent van die uitgebragte stemme en sodoende die eerste Texaanse goewerneur geword wat vir twee opeenvolgende ampstermyne van vier jaar elk verkies is (voor 1975 was die goewerneur se ampstermyn net twee jaar).[27]
[wysig] Die presidensiële verkiesing van die jaar 2000
Tydens sy verkiesingsveldtog het Bush homself as 'n "medelydende konserwatiewe" ("compassionate conservative") voorgedoen - volgens 'n nuwe politieke term, wat deur die onafhanklike televisiepersoonlikheid en kommentator Michael Savage gemunt is - en belowe dat hy die "eer en waardigheid van die Wit Huis" sou herstel.[28]
[wysig] Voorverkiesing
Bush se verkiesingsveldtog is deur 'n aantal politieke vennote uit Texas beheer, en hy is deur 'n meerderheid van Republikeinse afgevaardigdes in die parlemente van 38 deelstate ondersteun. Maar nadat Bush die koukus in Iowa gewen het, het Senator John McCain uit Arizona 'n verrassende oorwinning in die voorverkiesing van New Hampshire behaal. Bush is onder meer gekritiseer vir die besoek wat hy by die omstrede Bob Jones-universiteit afgelê het, 'n instelling wat vir sy anti-Katolieke houding en sy verbod op gemengde verhoudings bekend gestaan het.[29]
Maar Bush het vervolgens daarin geslaag om die voorverkiesing in South Carolina te win, en McCain het sy momentum begin verloor. Nogtans het hy die voorverkiesing in Michigan gewen. Met sy kritiek op Pat Robertson en Jerry Falwell net voor die verkiesing in Virginia het McCain egter godsdienstige konserwatiewes woedend gemaak. Bush het in Virginia en 'n week later op "Super-Dinsdag" in nege van dertien voorverkiesings gewen en sodoende sy nominasie as Republikeinse kandidaat verseker. In 'n televisiedebat op 13 Desember 1999 in Des Moines (Iowa) het Bush in teenstelling met die ander kandidate nie 'n politieke figuur as sy voorbeeld genoem nie, maar Jesus Christus. Bush se gewildheid onder godsdienstige kiesers is as een van die beslissende faktore in die verkiesingsveldtog aangevoer. Weeklikse kerkgangers het volgens 'n Gallup-meningsopname in die 2000-verkiesing met 56 persent vir Bush gestem (en in die 2004-verkiesing selfs met 63 persent).[30]
[wysig] Algemene verkiesing
Bush het Dick Cheney, 'n voormalige lid van die Huis van Afgevaardigdes en Minister van Verdediging as sy visepresidentskandidaat of running mate gekies, en sy veldtog is deur prominente Republikeine soos Donald Rumsfeld en Colin Powell ondersteun, wat as raadgewers oor kwessies in verband met nasionale veiligheid en buitelandse betrekkinge gefungeer het. Terwyl Bush sy suksesvolle beleid as goewerneur van Texas beklemtoon het, het hy in sy veldtog die Demokratiese presidentskandidaat en destydse visepresident Al Gore veral vanweë die Demokratiese beleid ten opsigte van wapenbeheer en belasting aangeval. Bush het ook Gore se steun vir die Kyoto-protokol gekritiseer (alhoewel die Senaat in 1998 met 95 teen 0 stemme die Amerikaanse deelname aan die protokol verwerp het) en gelyktydig op die neergang van nywerhede in die Midweste, soos byvoorbeeld in West Virginia, en die daarmee gepaardgaande ekonomiese en sosiale vraagstukke gewys.
Op die verkiesingsdag (7 November 2000) het Bush 'n aantal sleutelstate in die Midweste gewen, soos byvoorbeeld Ohio, Missouri en Arkansas. Hy het ook 'n oorwinning in Gore se tuisstaat Tennessee, in New Hampshire en in die voormalige Demokratiese vesting West Virginia behaal. Die televisienetwerke het aanvanklik Gore as die wenner in die deelstaat Florida uitgeroep, maar het hierdie aankondiging later herroep en uiteindelik Bush tot wenner in sowel Florida asook op nasionale vlak verklaar. Aangesien Bush Florida net naelskraap gewen het, was daar sprake van onreëlmatighede by die stemtelling. Volgens Florida se wetgewing het 'n tweede telling ten opsigte van stemmasjiene plaasgevind. Bush se voorsprong het kleiner geword, maar hy was nogtans die wenner. Die Hooggeregshof van Florida het op 8 Desember bepaal dat distrikte met moontlike onreëlmatighede per hand hertel moes word.
Die Hooggeregshif van die Verenigde State het hierdie beslissing egter op 9 Desember herroep en die sodoende 'n einde an hierdie hertelling van stemme gemaak. Die hertelling van stemmasjiene het getoon dat Bush die deelstaat Florida met 'n meerderheid van 537 van die totale ses miljoen stemme gewen het - dit was die dertigste deelstaat waar Bush 'n oorwinning behaal het. [31] Alhoewel Bush op nasionale vlak 'n half miljoen stemme minder as Gore gekry het[32], het hy nogtans 271 stemme in die presidensiële kieserskollege behaal - teenoor Gore se 266. Dit het van George W. Bush die eerste president sedert Benjamin Harrison in 1888 gemaak, wat nie deur 'n meerderheid van die kiesers verkies is nie.[33]
[wysig] Benoeming van ministers
Bush het Andrew Card as die stafhoof van die Wit Huis, Karl Rove as sy politieke raadgewer en Karen Hughes as direkteur van kommunikasie in die Wit Huis benoem. Colin Powell is benoem as Minister van Buitelandse Sake, Paul O'Neill as Minister van Finansies en Donald Rumsfeld as Minister van Verdediging.[34]
Sy benoeming van die vroeëre Senator John Ashcroft as Prokureur-Generaal het skerp kritiek van Demokrate uitgelok, aangesien Ashcroft gekant was teen aborsie in die Verenigde State en verregse standpunte ten opsigte van burgerregte vir lesbiese en gay Amerikaners en die doodstraf ingeneem het.[35]
[wysig] Die presidensiële verkiesing van die jaar 2004
Bush se voorneme om vir 'n tweede ampstermyn te dien is in die Republikeinse Party wyd gesteun, en geen ander Republikeinse kandidaat het hom in die voorverkiesing uitgedaag nie. Bush het Kenneth Mehlman as bestuurder van sy verkiesingsveldtog benoem, terwyl die politieke strategie deur Karl Rove uitgewerk is.[36] Bush het hom in sy agenda vir 2004 verbind tot die oorloë in Irak en Afghanistan, 'n hernuwing van die USA PATRIOT-wet, die permanente deurvoering van die belastingverlagings van die jare 2001 en 2003, die halvering van die begrotingstekort, die bevordering van onderwys, asook hervormings ten opsigte van die regstelsel, die VSA se Sosiale Sekerheid en nasionale belasting.
Vir Bush se verkiesingsveldtog is landswyd gebruik gemaak van televisie- en radioadvertensies teen Demokratiese kandidate, waaronder Bush se hoofteenstander, Senator John Kerry uit Massachusetts. Kerry en ander Demokrate het Bush oor die oorlogvoering in Irak, die toepassing van die USA PATRIOT-wet en sy beweerde onvermoë om ekonomiese groei en die skepping van nuwe werkgeleenthede te bevorder aangeval, maar ook Bush se diensplig in die Nasionale Garde het geblyk om baie omstrede te wees. In Bush se veldtog is Kerry as 'n egte Amerikaanse liberaal beskrywe, wat belastingtariewe sou verhoog en die regering vergroot. Bush se veldtog het ook herhaaldelik Kerry se beweerde weersprekende verklarings ten opsigte van die oorlog in Irak gekritiseer en beweer dat Kerry nie oor die deursettingsvermoë en visie sou beskik om 'n oorwinning in die oorlog teen terrorisme te behaal. Bush het 31 van 50 deelstate en altesame 286 stemme in die VSA se kieskollege gewen.
[wysig] Verwysings
- ↑ George W. Bush, et al., Petitioners v. Albert Gore, Jr., et al., 531 U.S. 98 (2000).
- ↑ "President Bush's address to joint session of Congress." 20 September 2001.
- ↑ Presidential Letter to Congress (18 Maart 2003).
- ↑ Powell, Colin (5 Februarie 2003). "U.S. Secretary of State Colin Powell Addresses the U.N. Security Council." Whitehouse.gov. URL besoek op 2006-05-25.
- ↑ "President discusses freedom in Iraq and Middle East." 6 November 2003.
- ↑ "Transcript for Feb. 8th." MSNBC: 2004-02-08. URL besoek op 2006-09-09.
- ↑ 2004 Presidential Election Results
- ↑ 13 October 2004 "The Third Bush-Kerry Presidential Debate" transcript
- ↑ "CNN - U.S. President / National / Exit Poll / Election 2004"
- ↑ "George Walker Bush." Famous Texans. famoustexans.com: 2005-02-03. URL besoek op 2006-06-27.
- ↑ Associated Press. "Self-Deprecating Bush Talks to Yale Grads", FOXNews.com, 2001-05-21. URL accessed on 2006-06-27.
- ↑ York, Byron, "Bush's National Guard Years", The Hill, 2004-09-09. URL accessed on 2006-06-27.
- ↑ Brit Hume, Mara Liasson, Jeff Birnbaum, Charles Krauthammer, , "The All-Star Panel Discusses John Kerry's Shifting Positions on Iraq War Spending", Fox News Network (transcript), 09-07-2004.
- ↑ 14,0 14,1 Romano, Lois; George Lardner Jr, "Bush's Life-Changing Year", The Washington Post, 1999-07-25. URL accessed on 2006-06-27.
- ↑ "2000 Driving Record." Department of the Secretary of State of Maine: 2000-11-02. URL besoek op 2006-08-09.
- ↑ "Fallout From A Midnight Ride." Time Magazine. 2000-11-13. URL besoek op 2006-09-08.
- ↑ "GWB: HBS MBA." The American Thinker. www.americanthinker.com. URL besoek op 2006-10-16.
- ↑ "Bush Wasn't Always a Front-Runner", Associated Press, 1999-10-17. URL accessed on 2006-07-27.
- ↑ George W. Bush, Bill Adler (2004). The Quotable George W. Bush: A Portrait in His Own Words. Andrews McMeel Publishing. ISBN 0-7407-4154-3.
- ↑ Duffy, Michael; Gibbs, Nancy (08-07-2000). "The quiet dynasty" (in English). Time; Canadian edition (156). ISSN: 03158446.
- ↑ Farrey, Tom (1999-11-01). "A series of beneficial moves." ESPN. URL besoek op 2007-01-21.
- ↑ "Sale of baseball team." Make Them Accountable: 2002-08-19. URL besoek op 2007-01-21.
- ↑ Wayne Slater, James Moore (2003). Bush's Brain: How Karl Rove Made George W. Bush Presidential. USA: Wiley, 210.
- ↑ "The New York Review of Books: Death in Texas."
- ↑ Wayne Slater, James Moore (2003). Bush's Brain: How Karl Rove Made George W. Bush Presidential. USA: Wiley, 233-36.
- ↑ Texas State (2005-03-11). "Jesus Day." (JPEG) Texas State Archives. PBS. URL besoek op 2006-06-30.
- ↑ Associated Press. "Texas Gov. George W. Bush wins in landslide", CNN, 1998-11-03. URL accessed on 2006-06-30.
- ↑ George W. Bush Speaks at Send-Off in Orlando (September 23 2000).
- ↑ Jackson, Derrick. "At Bob Jones U., A Disturbing Lesson About The Real George W.", Common Dreams Newscenter, 2000-02-09. URL accessed on 2006-06-30.
- ↑ "How Americans Voted", The Gallup Organization, 2004-11-05. URL accessed on 2006-06-30.
- ↑ "2000 Official General Election Presidential Results." Federal Election Commission: December 2001. URL besoek op 2007-01-12.
- ↑ 2000 Presidential General Election Results
- ↑ "The Electoral College: How It Works" Grolier.com
- ↑ Bush decided to remove Saddam 'on day one' Julian Borger, The Guardian (January 12 2004).
- ↑ Bush Nominates John Ashcroft Attorney General US Newswire (December 27 2000).
- ↑ "An Interview With Karl Rove." NewsHour with Jim Lehrer. PBS: 2004-08-01. URL besoek op 2006-09-09.
Washington | J Adams | Jefferson | Madison | Monroe | JQ Adams | Jackson | Van Buren | W Harrison | Tyler | Polk | Taylor | Fillmore | Pierce | Buchanan | Lincoln | A Johnson | Grant | Hayes | Garfield | Arthur | Cleveland | B Harrison | Cleveland | McKinley | T Roosevelt | Taft | Wilson | Harding | Coolidge | Hoover | F Roosevelt | Truman | Eisenhower | Kennedy | L Johnson | Nixon | Ford | Carter | Reagan | GHW Bush | Clinton | GW Bush |