Poësie
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Poësie (van die Griekse woord "poiesis" (ποίησις), "maak" of "skep") is 'n kunsvorm wat, benewens die oordra van 'n idee en die oordra van 'n woordbegrip, ook kwaliteite van skoonheid oordra. Dit word grootliks in mondelinge en letterkundige werk bedryf, en die luisteraar of leser, asook die skrywer of uitvoerder, voel dat dit nie gewoon prosa is nie. (Vir die res van die artikel word na die leser verwys, wanneer ook die luisteraar bedoel word.)
Dit kry dit reg deur die gebruik van verdigting, assonansie, alliterasie, metafoor en ander taalverskynsels, om 'n musikale of sang-agtige karakter te verkry. Gedigte maak dikwels staat op woordbeelding, woord-assosiasie en die musikale kwaliteit van die taalgebruik, om dit te vermag. Omdat dit die karakter is van poësie om die linguistieke vorm te beklemtoon, eerder as om taal te gebruik vir slegs die inhoud daarvan, is poësie berug vir die graad van moeilikheid om gedigte van een na 'n ander taal toe te vertaal. In poësie, is dit die verbintenisse en die gewig wat woorde dra wat van meeste belang is. Hierdie skakerings en betekenis-nuanses is moeilik om te interpreteer en veroorsaak dat verskillende lesers 'n spesifieke gedeelte van, of die hele, gedig verskillend "hoor." Daar is nooit een definitiewe verklaring nie.
Inhoud |
[wysig] Die karakter van poësie
Meestal kan poësie van prosa onderskei word, deurdat prosataal gemik is om inligting oor te dra deur middel van 'n logieser en meer rigiede verhaalstruktuur. Ongelukkig is dit nie altyd só maklik nie, aangesien prosa-poësie die karaktertrekke van poësie het, maar versteek is binne na wat oppervlakkig na prosa lyk. Verder is daar ook vertellingspoësie, en drama-poësie. Beide tipes word gebruik om 'n verhaal te vertel en lyk dus na die roman en toneelstuk.
Die woord poësie kom van die ou Griekse werkwoord poieo (Ek maak of skep), in sy vervoeging as selfstandige naamwoord: poiesis (die skeppingsdaad).
[wysig] Klank in poësie
Ritme is waarskynlik die allerbelangrikste deel van die klankelement van poësie. Die ritme van elke versreël word dikwels in 'n spesifieke meter geplaas. Verskillende soorte meter het sleutelrolle gespeel in die Klassieke, Vroeg-Europese, Oosterse en Moderne poësie. Wat vryvers aanbetref, is die versreëls se ritme meer dikwels 'n losser kadans.
Afrikaanse poësie gebruik gereeld rym. Versreëls wat aan die einde daarvan met een of meer ander versreëls in die gedig rym, meestal in 'n rympatroon, vorm die grondslag van 'n hele aantal algemene digvorme soos die ballades, die sonnette en rymende koeplette. Rym word egter nie regdeur in die kunsvorm gebruik nie. Talle van die moderne poësie vermy juis rympatrone. Rym is eintlik 'n "nuwe" Westerse verskynsel, sedert die Middeleeue, toe dit geleen is uit Arabies. Die Klassieke Grieks en Latyn het glad nie rym gebruik nie.
Alliterasie was sentraal tot die struktuur van die vroeë Germaanse en Engelse poësie. (Dit word alliteratiewe vers) genoem. Hierdie alliteratiewe patrone het ook meter gebruik: die leser verwag, as gevolg van die meter, dat alliterasie of rym gaan voorkom. Dit is in kontras met die hoofmetodiek van "parallelisme" in Hebreeuse of Bybelpoësie. Dié vorm het 'n retoriese struktuur: opeenvolgende versreëls stem ooreen met die vorige, deur hul grammatikale -, klank-, konsepstruktuur, of al drie. Dit is ook hierdie tipe poësie wat tot die antifoniese vertolking en gedigvorme gelei het.
Bo en behalwe rympatrone en alliterasie, help assonansie, konsonansie, dissonansie en binnerym om genotvolle elemente van die gedig te skep.
[wysig] Vorm in poësie
Siende dat poësie geskep word deur middel van taal, gebruik dit soos die prosa dieselfde taaleenhede soos frases, sinne en paragrawe. Maar dit gebruik ook organisasie-eenhede wat net in die poësie voorkom. Hierdie sluit die versreël, die koeplet, die strofe, die stanza en die versparagraaf in. Versreëls kan net so op hul eie staan, betreffende 'n begripseenheid. 'n Voorbeeld hiervan is: "Die vy die val dat sop so spat." Aan die ander kant kan 'n versreël in die middel van die frase of sin ophou: "Is kopstamp dan nie maar" en die res van die begripseenheid word dan gewoonlik in die volgende versreël voltooi: "net deel van wysword nie?" Hierdie tegniek word enjambement genoem, en word gebruik sodat die leser 'n sin van verwagting het oor wat nou gaan volg, of omdat die tegniek 'n sekere dinamika aan die vloei van die gedig verleen. Baie dikwels verkry 'n gedig die beste resultate deur 'n spanning tussen die taaleenhede en die vormeenhede te skep. Vandat die drukpers ontwikkel is, het digters al hoe meer beheer gekry oor hoe hul gedig op papier lyk. Witspasie en vorm het al hoe meer belangrik as instrumente in die digter se gereedskapkissie geword. In die modernistiese poësie is die proefneming tussen taal en vorm -- versreëls kan byvoorbeeld op verskillende areas van die bladsy voorkom -- soms waaroor die hele samestelling van die gedig gaan, soos in konkrete poësie.
[wysig] Poësie en retoriek
Vergelykings en metafore word dikwels in poësie gebruik. Reeds in die jaar 350 voor Christus het Aristoteles geskryf dat dit in poësie die belangrikste is om die metafoor te bemeester. Sommige digters verkies egter, veral sedert die opkoms van die Modernisme, om minder van hierdie tipe digtegnieke gebruik te maak, en verkies eerder om 'n direkte voorstelling van voorwerpe en ervarings neer te pen. Aan die ander kant, gebruik moderne digters, veral die Surrealiste, dié tegniek tot sover as wat dit kan gaan, en maak dikwels gebruik van katakrese.
[wysig] Die geskiedenis van poësie
Poësie het gedy nog lank voordat die geskrewe woord bestaan het. Dit het waarskynlik die doel gedien om die gemeenskap se geskiedenis te bewaar, om stories te vertel, om stambome te onthou of selfs wette neer te lê in die geheue. As sulks het dit 'n nabye verhouding gehad met die liturgie in hierdie gemeenskappe, aangesien dit makliker was in hierdie vorm om die profesieë, en die priesters of priesteresse se smeekgebede na die gode toe te onthou. Vandag nog is die oorgrote meerderheid van die wêreld se heilige geskrifte in die vorm van poësie eerder as in prosa-vorm. Die res van die bespreking van die geskiedenis van die poësie neem die leser op 'n pad deur die Engelse letterkunde, ter illustrasie van hoe poësie ontwikkel het. Soortgelyk kon die fokus ook vanaf die Germaanse, Chinese of Indiese oogpunt wees. Die eerste poësie is in die Angelsaksiese periode geskryf, in 'n voorloper van moderne Engels. Omdat daar geen drukpers was nie, en omdat die mense in toentertyd se gemeenskap meestal nog nie geletterd was nie, moes digters noodgedwonge komplekse rymsisteme, die herhaling van bekende frases en alliterasie gebruik. Só het hulle hul werk mooi, maar herhaalbaar gemaak. Die gedigte van die dag het basiese idees oorgedra, en het veldslae, gelowige- en droomvisioenmateriaal ingesluit. Daar was ook 'n hele paar stuitige raaisels. Uit hierdie tydperk het slegs 30,000 versreëls bly voortbestaan. Tog wys hierdie werke 'n diepe droefheid en 'n gevoel van vervreemding. (Die Angelsaksers het min godsdienstige sekerheid gehad. Hulle kultuur het tussen die heidendom en die opkoms van die Christendom verskeurd gestaan. Voorts was dit die tydperk van die onvoorspelbare en wrede invalle vanaf Skandinawië.) Die heel beroemdste gedig van daardie tydperk, Beowulf – wat waarskynlik laat in die agste eeu geskryf is – rou oor die verbygaan van die voorchristelike era (en monsters soos Grendel en die draak), maar doen dit binne 'n konteks van wysheid en insig oor hoe verbygaande alles is.