Satanisme
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Satanisme kan breedweg gedefinieer word as die verering van die "bose" in plaas van die "goeie", of die aanbidding van en diens aan Satan. Sataniste verskil heelwat oor presies wie of wat hulle as "Satan" vereer en die meeste voel sterk daaroor dat dit nie noodwendig die "duiwel" van die Christendom, Judaïsme en Islam is nie. Sommige waarnemers meen dat daar vandag onderskei moet word tussen Middeleeuse (Gotiese) Satanisme, Popkultuur-Satanisme en Religieuse Satanisme.
Inhoud |
[wysig] Middeleeuse Satanisme
Hoewel aktiwiteite wat as satanies beskou word moontlik net so oud is as die mensdom self, het die konsep van "duiwelsaanbidding" in die Middeleeue baie aandag in Europa gekry. Middeleeuse of Gotiese Satanisme kom neer op die aanbidding of verering van die duiwel (soos gedefinieer deur die Christendom) deur die gebruik van baie ou heidense praktyke of die "ontheiliging" van die Rooms-Katolieke Kerk se rituele. Dit het rituele ingesluit soos menslike offers, die breek van kruise, die uitspreek van vloeke, die swart mis (swart nagmaal) en om 'n mens se siel aan die duiwel te "verkoop" in ruil vir hulp. In reaksie op hierdie praktyke is letterlik duisende "duiwelsaanbidders" of hekse doodgemaak, hoofsaaklik deur hulle lewend te verbrand. Presies hoeveel van hierdie mense werklik skuldig was en hoeveel onskuldig deur kwaadwillige mense uitgewys is, is vandag debatteerbaar. 'n Vorm van Middeleeuse Satanisme wat vandag steeds beoefen word, is die sogenaamde Gotiese Satanisme, wat veral daarop konsentreer om Satan te vereer deur rituele wat gewild was onder hekse en towenaars tydens die Middeleeue.
[wysig] Popkultuur-Satanisme
In baie Westerse lande het daar aan die einde van die twintigste eeu 'n vorm van Satanisme ontwikkel wat amper meer 'n modegier of vorm van rebellie teen die bestaande Judaïsties-Christelike norme en waardes van die samelewing is. Omdat veral jongmense hierby betrokke raak, word dit ook "Adolessente Satanisme" genoem, en gaan dit dikwels gepaard met die dra van sataniese simbole as juweliersware, tatoeëermerke, swart of donker klere en spesifieke soorte musiek (dit is belangrik om daarop te let dat alle jongmense wat hierdie soort voorkoms as modegier navolg, nie noodwendig by Satanisme betrokke is nie).
Hierdie vorm van Satanisme word ook soms "dabbling" genoem omdat jongmense daarmee eksperimenteer uit nuuskierigheid of onder groepsdruk. Hoewel betrokkenes by Adolessente Satanisme hulself nie noodwendig as Sataniste beskou nie, word daar ook met sataniese rituele (wat dwelmmisbruik kan insluit) geëksperimenteer en is dit dikwels die eerste stap tot 'n verbintenis tot Religieuse Satanisme.
[wysig] Religieuse Satanisme
Sommige navorsers meen dat Alisteir Crowley (1875-1947) die "vader" was van die moderne Religieuse Satanisme, ook genoem georganiseerde Satanisme. Hoewel baie van Crowley se leerstellinge en rituele vandag deur Sataniste gevolg word, het hy hom nooit as 'n Satanis beskou nie. Daarom word aanvaar dat die Religieuse Satanisme amptelik op 30 April 1966 ontstaan het met die stigting van die Kerk van Satan deur Anton Szandor LaVey in die VSA.
Vandag bestaan talle onafhanklike Sataniese groepe of "kerke" wêreldwyd, waarvan die drie grootstes die Kerk van Satan, die Tempel van Set en die Kerk van Sataniese Vrywording ("Church of Satanic Liberation") is. Omdat hierdie groepe nie hul ledesyfers bekend maak nie en kleiner groepe nie deur 'n sentrale struktuur beheer word nie, is dit moeilik om te bepaal presies hoeveel mense deelneem aan georganiseerde Satanisme.
[wysig] Algemene leerstellings
Wanneer die meeste mense aan die Satanisme dink, kom beelde van demone, diere- en menslike offers en bisarre seksuele praktyke dikwels by hulle op. Dat sommige Satanistiese groepe by sulke aktiwiteite betrokke is, kan nie betwyfel word nie. Ander verklaar egter dat hulle "alle lewe respekteer" en slegs die bestaande status quo (stand van sake) en "trop-mentaliteit" van die samelewing teenstaan. Hier volg 'n paar basiese beginsels waaraan byna alle Sataniste glo:
- Satan word erken en vereer as 'n godheid of argetipe.
- Elke mens is sy eie verlosser en ten volle verantwoordelik vir sy of haar eie lewe.
- 'n Mens moet jou sinlike luste en begeertes vervul en veral die "sewe dodelike sondes" (hoogmoed, woede, jaloesie, onreinheid, vraatsug, luiheid en hebsug) van die Christendom beproef.
- Die klem word gelê op die mag en outoriteit van die individuele Satanis, eerder as op 'n god of godin.
- Sataniste wat glo dat Satan 'n lewende wese of godheid is, aanbid en volg hom nie soos Christene God byvoorbeeld aanbid nie.
- Uniekheid en kreatiwiteit word aangemoedig.
- Talle Satanistiese praktyke, rituele, gedragsreëls en oortuiginge is in direkte konflik met tradisionele Christenskap, maar Sataniste beskou hul geloof nie as die teenoorgestelde of "omgekeerde" van die Christelike leer nie.
- Die "Teken van Baphomet" word in die algemeen as embleem en belangrikste simbool beskou.
[wysig] Houding teenoor ander gelowe
Die meeste Satanistiese groepe en organisasies beskou ander gelowe en godsdienste as vals en bedrieglik. Hulle is veral openlik uitgesproke teen die Christelike Leer en Christelike waardes in die samelewing omdat dié hulle verhinder om "in vryheid" te kan leef. Hulle blameer Christene onder meer vir die onwettigheid van huwelike tussen mense van dieselfde geslag (in die meeste lande), die onwettigheid van prostitusie en aborsie (in sommige lande) en die algemene samelewing se eng morele waardestelsels. Sommige groepe, soos die 600 Club, het 'n "swartlys" waarop name van Christene en Christen-organisasies verskyn wat as vyande beskou word. Lede word aangemoedig om hulle teen hierdie organisasies en hul werksaamhede te verset en hulle daarvoor te beywer om 'n samelewing te skep waar elkeen sy eie waardes bepaal en besluite kan neem.
[wysig] Satanisme in Afrika
Hoewel die okkulte in verskillende vorms dwarsoor Afrika bedryf word, kon Religieuse Satanisme nog nooit werklik 'n houvas op hierdie vasteland kry nie. Die rede hiervoor hou moontlik verband met beskuldigings dat sommige Satanistiese groepe rassisme voorstaan, dat die groepe nog nooit werklik moeite gedoen het om lede in Afrika te werf nie of dat die meeste mense in Afrika redelik toegewyd is aan hul onderskeie religieë.
Die waarskynlikste rede is egter dat die Satanisme, as openlike "verering van die bose", 'n negatiewe beeld by die meeste mense van Afrika het en dat die meeste Afrika-lande se regerings ook nie amptelike registrasie van Satanistiese kerke toelaat nie.
[wysig] Ongeregistreerde groepe in Suid-Afrika
In Suid-Afrika is daar verskeie aktiewe Satanistiese groepe, maar nie een is amptelik in die land geregistreer nie. Die Satanic Bible van Anton LaVey word deur die meeste van hulle as handleiding gebruik en hul bedrywighede stem ooreen met dié van Sataniste in Amerika en Europa.
Van die bekendste Satanistiese groepe in Suid-Afrika is die Brotherhood of Ram, die Order of Darkness, die Sons of Satan en die Scorpions. Daar is ook verskeie kleiner vertakkinge van hierdie groepe en van buitelandse groepe in die land aktief, soos groepies Gotiese Sataniste.
Die Satanisme as sodanig is nie onwettig in Suid-Afrika nie, maar sommige bedrywighede wat met die Swart Toorkuns verband hou, is wel teen die wet. Diere- en selfs menslike offers, die beskadiging van eiendom, grafskendings en moorde of selfmoorde wat na bewering Satanies geïnspireer was, maak van tyd tot tyd groot opslae in die media. Omdat daar geen Satanistiese groepe in die land geregistreer is nie, kan hierdie misdrywe egter nie voor die deur van die Religieuse Satanisme gelê word nie.