Melkweg
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Melkweg ('n vertaling van die Latynse Via Lactea, wat self afgelei is van die Griekse term Γαλαξίας, Galaxias), is 'n spiraalbalk sterrestelsel, wat deel uitmaak van die Plaaslike Groep. Alhoewel die Melkweg slegs een van biljoene sterrestelsels in die heelal is, het dit 'n besondere betekenis vir die mensheid as die tuiste van ons sonnestelsel. Demokritos (460 v.C. tot 370 v.C.) is die eerste bekende geleerde wat beweer dat die Melkweg deur ver afgeleë sterre gevorm word.
Die tradisionele Sjinese, Japannese en Koreaanse benaming is "sterrestelsel van die silwerrivier".
Die vergelyking met "melk" is te danke aan die wasige band van wit lig, wat dwarsoor die nagtelike hemel, soos gesien vanuit die aarde, loop. Die band bestaan uit sterre en ander hemelliggame, wat binne die vlak van ons sterrestelsel lê. Die helderste gedeelte van die sterrestelsel lê in die rigting van die sterrebeeld Sagittarius, die middelpunt van die Melkweg.
Aangesien die Melkweg uit 'n groot aantal sterre met 'n swak ligsterke bestaan wat nie vir die blote oog sigbaar is nie, neem 'n mens hulle net as 'n helder melkagtige band langs die naghemel waar. Die Melkweg is slegs sigbaar in 'n helder naghemel en word moeilik waargeneem in stedelike gebiede waar oorvloedige kunsmatige lig en lugbesoedeling sigbaarheid belemmer. Ook die sowat 6 000 sterre, wat danksy hulle hoë ligsterkte duidelik sigbaar is vir die blote oog, maak deel uit van die Melkweg.
Die Melkweg het 'n deursnee van tussen 80 000 en 100 000 ligjare, 'n vertikale diepte van sowat 3 000 ligjare en 'n omvang van tussen 250 000 en 300 000 ligjare (die presiese afmetings is nog nie bepaal nie). 'n Eenvoudige vergelyking verduidelik die skaal van die Melkweg: As die deursnee van die hemelstraat verklein sou word tot 130 kilometer, sou ons sonnestelsel net 2 millimeter wyd wees. Die Melkweg bevat tussen 100 en 400 miljard sterre.
Die Melkweg se absolute ligsterkte, wat nie regstreeks gemeet kan word nie, word volgens sterrekundige konvensies geraam op -20,5.
[wysig] Geskiedenis en oorsprong van die naam
In die antieke tyd staan die Melkweg reeds as 'n helder smal strepie teen die naghemel bekend. Die meeste volke het hulle eie mitologie ten opsigte van die oorsprong van die Melkweg ontwikkel.
Volgens 'n ou Griekse legende was die godin Hera besig om haar stiefseun Herakles te borsvoed. Toe hy haar opeens hewig begin byt, het die melk oor die hele hemel gespat. Die Griekse woord gala (melk) is die wortel van die Griekse vakterm γαλαξίας (galaxías, "die melkagtige sternewel"), wat as 'n vreemde woord ook in Engels (galaxy) gebruik word.
Ander antieke Grieks-Romeinse legendes verwys na die Melkweg as die pad na die tuiste van Zeus en Jupiter of die pad waarop Phaeton met sy sonnewa gery het.
In die Noorse mitologie word die Melkweg as die pad beskou, waarop die siele van oorledenes na Valhalla toe gaan, terwyl die Kelties-Walliese legendes dit as die silwerpad na die kasteel van die elfkoningin Caer Groyden beskryf.
Ook enkele van die Suid-Amerikaanse Andes-Indianevolke beskou die Melkweg in hulle legendes as 'n soort bonatuurlike pad, wat deur die siele van die oorledenes gebruik word om besoek af te lê by die lewendes.
Die Polinesiërs van die Suidsee noem die Melkweg "die water van die lewe". Hulle legendes berig van 'n pragtige blou haai, 'n troeteldier van die gode wat daarvan hou om mense te vreet. Toe twee jong mans besluit om die haai te dood, verplaas die gode hom na die hemel, waar hy nou langs die Melkweg swem.
Die Boesmans van Suider-Afrika verwys na die Melkweg as die "ruggraat van die nag". Een van hulle legendes berig van 'n beroeme jagter, wat eens in die bosveld verdwaal het. Hy rus teen die oewer van 'n rivier en smeek die gode om bystand. Ure later het hy 'n stroom van skitterende sterre gewaar, wat duidelik in een rigting wys. Hy volg onmiddellik hierdie pad en bereik uiteindelik sy dorp. Sy eggenote vertel toe dat sy kole van die kampvuur na die hemel gegooi het om vir hom die pad tuis toe te wys.
Die Dogon van die noordelike Sentraal-Afrika glo dat hulle god Amma aardeballetjies na die hemel gegooi het om sodoende die Melkweg te skep.
In die jaar 1609 gee Galileo Galilei die erste wetenskaplike verklaring vir die Melkweg en verwys na die sterre wat die band van die Melkweg vorm. Die sterrekundige Wilhelm Herschel begin met die stelselmatige opname van sterre (stellare statistiek) in die Melkweg en kom in 1785 tot die slotsom dat dit die vorm van 'n skyf moet hê.
[wysig] Die struktuur van die Melkweg
Die Melkwegstelsel is 'n spiraalbalk-sterrestelsel met vier tot vyf arms, wat uit sowat 300 miljard sterre en 'n groot hoeveelheid interstellare materie van tussen 600 miljoen en 'n paar miljard sonmassas bestaan. Die sentrale deel van die Melkweg bevat materie wat gelykstaan aan sowat 3,6×1041 kg. Die galaktiese vlakte strek tot sowat 100 000 ligjare of 30 kpc, terwyl sy skyf sowat 3 000 ligjare (920 pc) en sy sentrale knop sowat 16 000 ligjare of 5 kpc dik is. Die beweging van die interstellare gas en die sterverdeling in die knop gee aan hom 'n gestrekte vorm. Hierdie balk vorm met die verbindingslyn vanaf ons sonnestelsel tot by die sentrum van die Melkweg 'n hoek van 45°. Die Melkweg kan dus as 'n spiraalbalk sterrestelsel van die Hubble-tipe SBc beskou word, waarby die uitbreiding van die balkestruktuur volgens die meting van die infrarooi-teleskoop Spitzer met sowat 27 000 ligjare opvallend groot is . Met 'n totale massa van sowat 1,9 biljoen sonmassas (in vergelyking met die Andromedanewel se 1,2 biljoen) is ons Melkweg die swaarste in die Plaaslike Groep.
[wysig] Bronne
- Geoffrey Cornelius: The Starlore Handbook. An Essential Guide to the Night Sky. San Francisco: Chronicle Books 1997
- Milton D. Heifetz en Wil Tirion: A Walk through the Heavens. A Guide to Stars and Constellations and their Legends. Cambridge University Press: Derde uitgawe 2004
- Dieter B. Herrmann: Entdecker des Himmels. Leipzig/Jena/Berlyn: Urania-Verlag 1978
- John Sanford: Observing the Constellations. The Mitchell Beazley Guide to the Stars. Londen: Mitchell Beazley Publishers 1989