Mikrogolfoond
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Mikrogolfoond is 'n oond waarin voedsel met mikrogolfstraling ontvries, (her)verhit en gekook kan word. Die eerste kommersiële mikrogolfoonde is deur Percy Spencer in die veertigerjare van die 20ste eeu ontwikkel. Die eerste model met die naam Radarange word deur die Amerikaanse maatskappy Raytheon aangebied. Weens hul gewig en afmetings - die watergekoelde Radarange, wat destyds 3 000 watt oplewer, weeg 340 kilogram en is 1,8 meter hoog - kom die eerste mikrogolfoonde slegs vir hotelle, restourante en ander instellings in aanmerking.
Omtrent 1980 word kompakte mikrogolfoonde as kombuistoerusting vir private verbruikers aangebied; hulle behoort nou tot die standaardinventaris van 'n moderne kombuis. Gekombineerde mikrogolfoonde met konveksie-oond, rooster-, outomatiese kookfunksies, ontvries- en kookprogramme verenig die voordele van 'n mikrogolf met konvensionele gaarmaakmetodes.
[wysig] Werking van die mikrogolfoond
Mikrogolfoonde lei die mikrogolfstraling, wat deur 'n magnetron opgelewer word, gewoonlik teen 'n frekwensie van 2,45 gigahertz , deur die voedsel en vloeistowwe wat in die oondruimte geplaas word. Water- en vetmolekules absorbeer die straling, sodat dit in warmte omgesit word. Elke watermolekuul is 'n elektriese dipool, d.w.s. die een uiteinde besit 'n positiewe lading, die ander 'n negatiewe. Deur die elektromagnetiese straling word die molekuul heen en weer gedraai en gelyk gerig aan die wisselende elektriese veld. Hierdie beweging lewer die warmte op waarmee kos in sy binneste verwarm kan word. In vergelyking met konvensionele elektriese stowe, wat eers die pot verhit en daarna die kos, bespaar die mikrogolfoond tussen 50% en 70% energie.
Die oondruimte, waarin die kos berei word, moet 'n kooi van Faraday wees om te voorkom dat die straling na buite ontsnap. Die glasdeure van mikrogolfoonde word met 'n geleidende metaalrooster voorsien wat as afskerming dien. Omdat die grootte van die gaatjies in die metaalrooster veel kleiner is as die 12cm golflengte van die mikrogolfstraling, kan die bestraling nie daardeur kom nie, terwyl sigbare lig, ook 'n vorm van elektromagnetiese straling, met sy heelwat kleiner golflengte wel kan.
Vanweë hulle afskermende eienskappe en die gevaar van vonke wat moontlik 'n brand kan veroorsaak, is potte of ander bakke, wat van metaal gemaak is, nie geskik om voedsel te mikrogolf nie. Glasbakke, porselein (sonder metaaldekor) en plastiek is daarenteen ideaal vir die gebruik in 'n mikrogolfoond.