Fins
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Finse taal behoort tot die Baltiese tak van die Fins-Oegriese tale en is nou verwant aan Esties. Dit is naas Sweeds een van die twee amptelike tale van Finland met sowat 4,7 miljoen moedertaalsprekers (92 persent van die totale bevolking) en ook een van die ampstale van die Europese Unie.
Fins is ook 'n amptelike minderheidstaal in Swede, wat deur sowat 300 000 inwoners gepraat word. Daar is ook klein Finstalige groepe in die Noord-Noorse gewes Finnmark, in die Russiese deel van Karelië en in Estland.
Fins verskil as 'n Fins-Oegriese taal net soos Hongaars in baie opsigte sterk van die Indo-Europese tale, wat in Europa oorwegend gepraat word. Sy kenmerke is die groot aantal naamvalle (15), agglutinasie, 'n ingewikkelde morfofonologie met onder meer vokaalharmonie en die afwesigheid van 'n grammatikale geslag (of genus).
As 'n Fins-Oegriese taal verskil Fins sterk van die meeste ander Europese tale, wat tot die Indo-Europese taalfamilie behoort. Oor die eeue heen het die kontak met Indo-Europese tale egter 'n groot invloed op byvoorbeeld die sinsbou en woordeskat van die Finse taal uitgeoefen. 'n Groot aantal Germaanse leenwoorde is reeds baie vroeg ontleen, en taalhistorici gebruik hierdie Finse woorde soos rengas ("ring") onder meer vir hulle ondersoeke oor die destydse Germaanse klanke.