Armeense volksmoord
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Armeense Volksmoord verwys na die massa-ontruiming en verwante sterftes van honderde duisende tot dalk meer as 'n miljoen Armene tydens die regering van die Jong Turke vanaf 1915 tot 1917 in die Ottomaanse Ryk.
Die Republiek van Turkye verwerp die idee dat die gebeure 'n volksmoord was en beweer dat die sterftes onder die Armene die gevolg was van inter-etniese geweld, siektes en hongersnood tydens die chaos van die Eerste Wêreldoorlog. Die meeste Armeense, Russiese, Westerse en 'n toenemende aantal Turkse geleerdes is dit eens dat dit wel 'n volksmoord of 'n veldtog van staatsgesteunde etniese suiwering en massa-uitwissing verteenwoordig. Sommige Westerse bronne wys op die groot getal sterftes as bewys van 'n sistematiese, georganiseerde plan om Armene uit te wis. Die gebeure is waarskynlik ook die tweede mees bestudeerde geval van 'n volksmoord[1] en word dikwels met die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog vergelyk. Tot op datum erken 21 lande amptelik die Armeense volksmoord.
[wysig] Ottomaanse Armeense Bevolking
Volgens bronne was daar in 1914 voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog by benadering sowat twee miljoen Armene in die Ottomaanse Ryk. Die oorgrote meerderheid Armene het aan die Armeense Apostoliese geloof behoort met 'n kleiner aantal tot die Armeense Katolieke en -Protestantse kerkverband. Die Armeense bevolking in Oostelike Anatolië (ook genoem Westelike Armenië) was groot en gekonsentreerd maar daar was ook groot getalle wat in die westelike deel van die Ottomaanse Ryk gewoon het. Baie van hulle het in die hoofstad Konstantinopel gewoon.
[wysig] Die status van die Ottomaanse Armene
Tot laat in die 19de eeu was daar na Armene verwys as millet-i sadika (lojale volk) deur die Ottomane.[2] Armene, Grieke en ander Christene, asook Jode en ander minderheidsgroepe was aan ander wette onderworpe en het minder regte onder die wet gehad as die moslem bevolking en is daar vele beperkinge op hul regte in die ryk geplaas: Armene was verbied om by die weermag aan te sluit, hul getuienis teen ander moslems in Islamitiese howe was as ongeldig beskou en hulle is nie toegelaat om wapens te dra nie.