Luxemburgs (taal)
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Lëtzebuergesch of Luxemburgs, is die nasionale taal van die Groothertogdom Luxemburg en die moedertaal van sowat 300 000 mense wêreldwyd. Sowat tagtig persent van die inwoners van die groothertogdom praat Lëtzebuergesch as hulle huistaal.
Die taal word in die Duitse dialektologie as 'n Wes-Germaanse, Middelduitse kultuurdialek geklassifiseer, wat deel uitmaak van die Moeselfrankiese groep van dialekte. In die taalwetenskap word dit ook by die sogenaamde "uitboutale" gereken.
Lëtzebuergesch het 'n groot aantal woorde uit die Franse, Nederlandse, Duitse en Jeniese taal oorgeneem. Dikwels is daar sowel 'n Franse term asook 'n Duitse leenwoord wat naas mekaar gebruik word. Gewoonlik behoort die Franse term dan by die meer verhewe stylvlak.
Inhoud |
[wysig] Erkenning
In 1984 is Lëtzebuergesch naas Frans en Hoogduits tot een van die drie amptelike tale van Luxemburg verklaar en word nou uiteindelik as 'n selfstandige taal beskou.
Hierdie sienswyse word deur die feit gesteun dat mense met Hoogduits as hulle moedertaal dit nie sonder meer kan verstaan nie. Lëtzebuergesch word ook by meer geleenthede gepraat as wat dit by 'n dialek die geval sou wees.
Afgesien van hierdie meer "tegniese" kriteria is vir die Luxemburgers veral die simboliese karakter, wat die identifikasie met die eie taal inhou, van belang - wat hulle daagliks praat, moet ook as hulle eie taal beskou word.
Sedert die vyftigerjare van die twintigste eeu verskyn romans en 'n aantal strokiesprente soos Asterix en Die avonture van Kuifie in Lëtzebuergesch; die inheemse taal word nou ook meestal op die tonele en in die kabarette gebruik. Groot werke uit die wêreldliteratuur, wat in Lëtzebuergesch vertaal is, sluit William Shakespeare se Macbeth in, wat deur Jean-Michel Treinen vertaal is en as Mäcbess verskyn het.
Die Actioun Lëtzebuergesch bevorder die gebruik van die inheemse taal en gee die tydskrif Eis Sprooch (Ons Taal) uit.
[wysig] Taalgebied

Lëtzebuergesch word nie alleen in Luxemburg gepraat nie, maar ook in die grensgebiede van sy buurlande: In Duitsland in die omgewing van Béibrech (Duits: Bitburg) en in die Moeselvallei rondom Tréier (Duits: Trier), in België in die provinsie Luxembourg (in die gebied van Arel, wat Arelerland genoem word) en in Frankryk in 'n deel van die Lorraine (Lotaringe, in die omgewing van Diddenuewen (Frans: Thionville)). Ten ooste begin die taal geleidelik na die Moeselfrankiese dialekte van Duitsland oorgaan. Daar is ook klein groepe Luxemburgers in die VSA en in Transsilvanië (Roemenië) wat soms nog Lëtzebuergesch praat. Hulle is nakomelinge van emigrante wat daar in die 19de eeu 'n nuwe tuiste gevind het. In België en Frankryk het Lëtzebuergesch egter na die Tweede Wêreldoorlog 'n taal van die ouer generasies geword, terwyl die jonger generasies die taal nie meer aanleer nie. Pendelaars uit die twee lande - die sogenaamde Frontalierën - leer die taal nou weer in na-uurse kursusse, aangesien dit op die Luxemburgse arbeidsmark 'n gesogte kwalifikasie is.
Lëtzebuergesch kan in 'n aantal streekdialekte verdeel word: Die Areler, Eechternoocher, Kliärrwer, Minetter, Miseler, Stater (in Luxemburg-stad), Veiner, Weelzer en ander streektale. Vroeër kon een woord van dorp tot dorp verskil, en taalatlasse verwys na 'n reeks woorde wat net in 'n bepaalde streek voorkom, maar elders heeltemal onbekend is. Ingevolge die mobiliteit van die sprekers en die invloed van media soos radio en televisie is daar steeds minder verskille, en daar begin 'n soort Standaard-Lëtzebuergesch ontwikkel - iets wat die taalkunde koiné noem.
[wysig] Enkele woorde
LËTZEBUERGESCH | AFRIKAANS |
---|---|
Moiën | Goeiemiddag, Dagsê |
Äddi | Totsiens |
wann ech gelift | asseblief |
merci | dankie |
Lëtzebuerg | Luxemburg |
jo | ja |
neen | nee |
bicherbuttek | boekwinkel |
[wysig] Die inburgering van Franse woorde
Frans bly die belangrikste (geskrewe) saketaal en ook die taal van die regspraak en administrasie. Aangesien die meeste Luxemburgers die Franse taal magtig is (veral ook as 'n simbool van kulturele selfstandigheid teenoor Duitsland), kan 'n mens 'n Franse woord direk oorneem. Gewoonlik word dit egter by die Luxemburgse spelling en uitspraak aangepas.
FRANS | LËTZEBUERGESCH | AFRIKAANS |
---|---|---|
billet | Billjee | kaartjie |
saucisse | Zossiss | wors, worsie |
prison | Prisong | tronk, gevangenis |
valise | Wallis | koffer |
pompiers | Pompjeeën | brandweer |
merci beaucoup | villmools merci | baie dankie |
timbre(-poste) | Timber | posseël |
[wysig] Pers en media
Die Luxemburgse televisie- en radioprogramme van RTL Lëtzebuerg en T.TV gebruik Lëtzebuergesch en lewer sodoende 'n bydrae tot die standardisering en uitbou van die taal.
Luxemburgse koerante, soos byvoorbeeld Luxemburger Wort, Tageblatt en Lëtzebuerger Journal verskyn in Duits, bevat egter ook Franse artikels. Die twee Franstalige koerante La Voix du Luxembourg en Le Quotidien het Franstalige buitelanders in Luxemburg as hulle doelgroep.
[wysig] Eksterne skakel
Die Lëtzebuergesche televisie RTL-Télé Lëtzebuerg (Windows Media-speler)
Indo-Europese tale: Germaanse tale | ||
---|---|---|
Noord-Germaanse tale: | ||
Deens | Faroëes | Nynorsk en Bokmål (Noors) | Yslands | Sweeds | ||
Wes-Germaanse tale: | ||
Afrikaans | Duits | Engels | Fries | Jiddisj | Luxemburgs | Nederlands | Nedersaksies | Skots | ||
Oos-Germaanse tale: | ||
Boergondies | Goties | Vandaals |