Static Wikipedia February 2008 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu

Web Analytics
Cookie Policy Terms and Conditions Bulgarye - Wikipedia

Bulgarye

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Република България
Republika Balgarija
Republiek van Bulgarye
{{{lien_drapeau}}} {{{lien_blason}}}
(Vlag van Bulgarye) (Wapen van Bulgarye)
Nasionale leuse : Съединението прави силата
(Eendrag Maak Mag)
Amptelike taal Bulgaars
Hoofstad Sofia
42°41' N, 23°19' O
Grootste stad Sofia
Regering
 - President
 - Eerste Minister
Parlementêre demokrasie
Georgi Parvanov (BSP)
Sergej Stanisjev (BSP)
Oppervlakte
 - Totaal
 - Water (%)
Gelys 104de
111 001,9 vk km
0,3
Bevolking
 - Totaal (2005 (skatting))
 - Digtheid
Gelys 93ste
7 726 000 inw.
67 inw./vk km
Onafhanklikheid
 - Gestig
 - Selfregering
 - Verklaar
Van Ottomaanse Ryk
681
3 Maart 1878
22 September 1908
BBP (KKP)
- Totaal
- Per capita
2005 (skatting)
62,292 miljard VSA-$
9 223 VSA-$ (66ste)
MOI 0,808 (55ste) - hoog
Geldeenheid Lev (BGN)
Tydsone Oos-Europese Tyd
(UTC +2 / Somertyd +3)
Volkslied Mila Rodino
Internet-domein .bg
Skakelkode +359
Die Mandrenskomeer naby Boergas
Die Mandrenskomeer naby Boergas

Bulgarye (Bulgaars: България, Balgarija) is 'n land in Suidoos-Europa. Dit word begrens deur die Swart See in die ooste, Griekeland en Turkye in die suide, Serwië en die Republiek van Masedonië in die weste, en Roemenië in die noorde.

Bulgarye is vernoem na 'n Turkse volk, wat die land tydens die 7de eeu verower en later met die inheemse Suid-Slawiese bevolking vermeng het. In die Middeleeue het Bulgarye tot 'n magtige ryk ontwikkel, wat oor groot dele van Suidoos-Europa gestrek het. In die 11de eeu word Bulgarye vir 'n tydperk van sowat 100 jaar by die Bisantynse Ryk ingelyf, en teen die einde van die 14de eeu kom die land onder Turkse heerskappy.

Die land vorm ten opsigte van sy landskappe en sy kultuur 'n oorgangsgebied tussen Europa en die Ooste, maar ook tussen die Mediterreense en vastelandse gebiede van Oos-Europa. Tydens die Middeleeue vertaal die sogenaamde Slaweapostels Kirillos en Methodios 'n aantal Christelike Griekse tekste na Oud-Bulgaars, wat in die Goue Tydperk onder die heerskappy van Tsaar Simeon die basis van 'n veelsydige godsdienstige en wêreldse literatuur vorm. Alhoewel die literêre bloeitydperk met die begin van die Turkse heerskappy tot 'n einde kom, het Oud-Bulgaars steeds die taal van die Slawies-Ortodokse Kerk gebly, en sy literêre werke word deur die Slawiese volke as 'n gemeenskaplike kulturele erfenis beskou.

Die Rilaklooster is een van die belangrikste historiese, kulturele en godsdienstige monumente van Bulgarye
Die Rilaklooster is een van die belangrikste historiese, kulturele en godsdienstige monumente van Bulgarye

Bulgarye het sy bevryding vyf eeue later veral aan Rusland te danke, en die noue politieke en kulturele bande tussen die twee lande bevorder in 1945 die inlywing van Bulgarye by die Sosialistiese Oosblok. Onder die bewind van die Kommunistiese Party ontwikkel die oorwegend agrariese land tot 'n moderne staat met 'n verskeidenheid nywerhede. Sy belangrikste uitvoere is egter nog steeds landbouprodukte, waaronder ook roosolie.

Die neergang van die Sosialisme en die oorgang na 'n vrye markekonomie het die lewensstandaard van groot dele van die bevolking swaar geraak. Na ramings het dit in die jare negentig met sowat veertig persent gedaal. Die Bulgaarse ekonomie het intussen oortuigend herstel, en die lewenstandaard het in 2004 weer die vlak van die tydperk voor die negentigerjare bereik.

Bulgarye het op 1 Januarie 2007 'n lidstaat van die Europese Unie geword.


Inhoud

[wysig] Geografie

Bulgarye beslaan dele van die historiese gebiede Thrasië, Moesia en Masedonië. Sy huidige grense is ná die einde van die Tweede Balkanoorlog in 1913 vasgelê, toe Bulgarye sy toegang tot die Egeïese See verloor het.

Die land word deur groot klimatiese verskille tussen die Donauvallei in die noorde met sy kleiagtige lössgrond en die beboste Rhodope-bergreeks in die suide gekenmerk. Die Balkan, 'n bergreeks, wat oor 'n lengte van sowat 600 kilometer in wes-oostelike rigting deur Bulgarye loop, vorm die sentrale landskap van die land. Hierdie gebergte het sy naam ook aan die hele skiereiland verleen.

In noord-suidelike rigting is daar vier groot landskappe:

  • die Donauvallei en die Donauplato in Donaubulgarye,
  • die Balkanbergreeks met die Sredna Gora-gebergte, wat parallel loop,
  • die vlaktes en heuwels van Roemelië en
  • die bergmassiewe van Rila, Pirin en die Rhodope.

Die sogenamde Donaubulgarye is 'n gebied van vlaktes en heuwels, wat deur 'n eskarp of platorand met steil wande en 'n hoogte van tussen 100 tot 150 meter bo die riviervallei begrens word. 'n Aantal valleie met steil hellings sny deur die plato. In die droë platolandskappe word veral mielies en koring verbou, terwyl die gras- en bosvelde in die noord-ooste geskik is vir skaapteelt. Die valleie kry meer reënval en is relatief dig bevolk; hier oorheers die wyn-, vrugte- en groentebedryf. Die hawestad Roese teen die Donau is die belangrikste binnelandse nywerheidsentrum in Donaubulgarye, terwyl Warna aan die Swart See die grootste van 'n hele reeks bekende vakansieoorde is, wat jaarliks miljoene besoekers uit ander dele van Europa lok.

Die hoofstad Sofia, met die Vitosja-bergspits in die agtergrond
Die hoofstad Sofia, met die Vitosja-bergspits in die agtergrond
'n Winterlandskap naby die Sjipka-bergpas
'n Winterlandskap naby die Sjipka-bergpas

Met die oorgangsgebied van die Voorbalkan begin die landskap geleidelik verrys na die Balkanbergreeks (Bulgaars: Stara Planina), wat met 'n wydte tussen dertig en vyftig kilometer dwarsdeur Bulgarye loop. Die Balkan het net soos die Alpe tydens die Tersiêr ontstaan, maar bereik net in sy sentrale gedeelte, die Hoë Balkan, waar ondergrondse gesteentes soos graniet na die oppervlak geskuif is, hoogtes van meer as 2 300 meter bo seevlak. Met sy talryke bergpasse en klein plato's verskil die Balkan se karakter duidelik van dié van die Alpe. Die Westelike Balkan, wat ook die grenslyn met Serwië vorm, word deur gesteentes uit die Trias- en Juratydperk oorheers en bereik 'n hoogte van maksimaal 2 168 meter. Die Oostelike Balkan, wat tot by die Kaap Emine aan die Swart See loop, is die laagste gedeelte van die bergreeks.

In die suide word die Balkan deur 'n steil eskarp begrens. Hier loop kleiner bergreekse parallel met die Balkan, met die Sredna Gora of Bulgaarse Middelgebergte suid van die Hoë Balkan as die bekendste. Tussen die Balkan en die laer bergreekse lê 'n aantal bekkens, wat van berge omring word en dus 'n baie gematigde klimaat het. Hier het van die oudste nedersettings in Bulgarye ontstaan, en ook die hoofstad Sofia is reeds in die antieke tydperk teen 'n hoogte van 550 meter in een van hierdie bekkens aangelê. Die bekkens speel 'n groot rol in die Bulgaarse landbou as belangrike verskaffers van roosolie en wyn.

'n Uitsig oor die dorp Vrata in die Rhodope
'n Uitsig oor die dorp Vrata in die Rhodope
'n Bergmeer in die Pirinberge
'n Bergmeer in die Pirinberge

Die Maritsarivier vloei deur die sentrale gedeelte van die Roemeelse landskap, wat hoofsaaklik uit vlaktes en heuwelagtige gebiede bestaan en tussen die Balkan en die Rhodopebergreeks lê; die gebied word dus dikwels ook Maritsabekken genoem. In een van die groter vlaktes lê Plovdiv, een van die oudste stede in Bulgarye, wat in die antieke tydperk as Philippolis bekend gestaan het. Ander bekende stede is Dimitrovgrad, 'n nywerheidsentrum, wat sedert 1947 teen die Maritsarivier ontwikkel is, en Boergas, 'n nywerheidstad, seehawe en vakansieoord aan die Swart See. Die digbevolkte vlaktes van Roemelië is geskik vir die verbouing van wyn, sonneblomme, tabak, katoen, groente, mielies en ander graangewasse, alhoewel die meeste aanplantings in teenstelling met die noorde van die land onder besproeiing is.

Die Thrasiese Massief in die suide word deur drie bergreekse gevorm - Rila, Pirin en die Rhodope. Die Rilaberge is 'n kristalliene bergreeks, wat veral bekend staan vir die Middeleeuse klooster Rila. Sy hoogste bergspits is die Moesala (2 925 meter bo seevlak). Ook die Pirinbergreeks, wat in die suide by Rila aansluit, verrys tot hoogtes van meer as 2 900 meter. Tussen die hoë bergspitse van albei reekse lê bekkens, wat geskik is vir die verbouing van graan en groente. Die beboste Rhodope, wat tot by 2 191 meter bo seevlak verrys, vorm 'n natuurlike grens met die suidelike buurstaat Griekeland en die Middellandse Seegebied, veral omdat bergpasse hier skaars is. Net die laer geleë oostelike gedeelte het danksy die invloed van die Middellandse See 'n gematigde bergklimaat. Die res van die Rhodope is 'n barre berglandskap, en die landbou is beperk tot veeteelt en die verbouing van aartappels, linne en klein hoeveelhede tabak. Damme in die Ardavallei lewer hidroelektriese krag op.

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Die antieke tydperk

Die oudste menslike nedersettings in Bulgarye het in die Balkanberge ontstaan. Die eerste staat in die gebied van die huidige Bulgarye word deur 'n Thrasiese stam gestig, wat hom omtrent 500 v.C. teen die Maritsarivier gevestig het. 'n Ryke kulturele erfenis dateer uit hierdie tydperk, soos byvoorbeeld die Goudskatte van Warna, Valtsji Tran en Panagjoerisjte, wat nou in die Argeologiese Museums van Sofia en Plovdiv vertoon word.

Filips II, die vader van Alexander die Grote, verower die Thrasiese gebiede op die Balkan in 342 v.C., en Griekse setlaars stig belangrike stede soos Philippolis (Plovdiv), Warna en Nesebar. Ook Keltiese stamme brei in Thrasië uit, maar dit is uiteindelik die Romeine wat die hele Balkanskiereiland verower en dit in 46 v.C. as Provincia Thracia by hulle ryk inlyf.

[wysig] Die Eerste Bulgaarse Ryk

Die Eerste Bulgaarse Ryk onder Tsaar Simeon I
Die Eerste Bulgaarse Ryk onder Tsaar Simeon I

Die eerste Slawiese stamme vestig hulle tydens die 6de eeu in Bulgarye, en sedert 680 begin ook die Bulgare, 'n Turkse volk, wat oorspronklik uit die gebiede langs die Swart en Kaspiese See kom, hier nedersettings te stig. Die Bulgare slaag daarin om hulle onafhanklikheid teen die magtige Bisantynse Ryk te bewaar en stig die Eerste Bulgaarse Ryk (680-1018), wat oor die hele Balkan strek, met Pliska en later Preslav as sy hoofstede. Onder die heerskappy van Boris I (852-889) neem die Bulgare die Christelike Grieks-Ortodokse geloof en die Suid-Slawiese taal aan, en die Slawiese apostels Kirillos en Methodios begin die Slawiese skrif en literatuur ontwikkel.

Die beduidendste Bulgaarse heerser tydens die Middeleeue is Simeon I (893-927). Hy staan as die stigter van die Bulgaarse Patriargaat bekend en bevorder ook die kunste. In 927 neem hy die titel tsaar aan. Die heerskappy van sy seun, tsaar Pieter, word deur boereopstande en die uitbreiding van die Bogomielse geloofsleer gekenmerk, wat 'n maatskaplike en teologiese dualisme tot die grondbeginsel van sy leerstellings maak en moontlik ook groot invloed uitgeoefen het op die Kathare van Wes-Europa.

In 969 word die Bulgaarse Ryk in Wes-Bulgarye (met Serwië, Albanië en Masedonië en die hoofstad Ohrid) en Oos-Bulgarye met die hoofstad Preslav verdeel. Die Eerste Bulgaarse Ryk ly in 972 'n neerlaag teen die strydmagte van die Bisantynse keiser Basileios II Bulgaroktonos ("die Bulgareslagter") en die Prins van Kiev. Oos-Bulgarye is onmiddellik by die Bisantynse Ryk ingelyf, terwyl Wes-Bulgarye eers in 1018 volledig verower is.

[wysig] Die Tweede Bulgaarse Ryk

Desislava, die eggenote van Kalojan. Fresko uit die kerk van Bojana (1259)
Desislava, die eggenote van Kalojan. Fresko uit die kerk van Bojana (1259)

Bulgarye is tydens die Kruistogte van die 11de en 12de eeu 'n belangrike deurgangsgebied vir 'n aantal Christelike leërs op pad na die Heilige Land. In hierdie tydperk slaag die bojare (adellikes) Pieter en Asen daarin om Bulgarye van die Bisantyne te bevry. In 1185 tig hulle die Tweede Bulgaarse Ryk, wat tot 1393 bestaan het, met Tirnovo (die huidige Weliko Tarnovo) as sy nuwe hoofstad. Tirnovo ontwikkel vinnig tot die sentrum van die Oud-Slawiese kuns en kultuur. Die belangrikste heerser van die Tweede Ryk is Kalojan, wat deur die Pous as koning gekroon is. In 1205 behaal hy naby Adrianopolis 'n oorwinning oor 'n kruisvaardersleër en neem Boudewyn van Vlaandere, die destydse heerser van die Latynse Koninkryk, gevange.

[wysig] Die Turkse heerskappy

Die Bulgaarse Ryk verbrokkel ná die dood van Iwan Asen II in 1241, en die Turkse leërs van die Ottomaanse Ryk, wat in Kleinasië tot 'n grootmoondheid ontwikkel het, begin geleidelik die Bulgaarse deelstate te verower. Die hoofstad Tirnovo is in 1393 deur die Turke ingeneem, en Bulgarye bly vyf eeue lank as Provinsie Roemelië (met die hoofstad Sofia) 'n deelgebied van die Ottomaanse Ryk, wat deur 'n Turkse stadhouder (beglerbeg) geregeer word. Die kloosters, veral Rila, bly egter die geestelike, kulturele en godsdienstige sentrums van die Bulgare, wat hulle taal, kultuur, tradisies en identiteit steeds met trots bewaar het. Die kloosters speel ook 'n belangrike rol by die ontwikkeling van die nasionale bewussyn van Bulgarye en 'n aantal opstande teen die Turkse heerskappy.

Die hergeboorte van die Bulgaarse nasie neem tydens die tweede helfte van die 18de eeu 'n aanvang. Met die stigting van 'n selfstandige Bulgaarse Eksargaat in Konstaninopel word die Ortodokse Kerk van Bulgarye onafhanklik van die Griekse Kerk. Die Eksargaat is in 1878 na Sofia verskuif.

[wysig] Die Vryheidsoorlog

Die grense van Bulgarye volgens die Verdrag van San Stefano (1878)
Die grense van Bulgarye volgens die Verdrag van San Stefano (1878)

Sedert die middel van die 18de eeu is ontwikkel Rusland tot een van die grootste teenstanders van die Turkse Osmaanse Ryk, en die land word met die Vrede van Kütsjük Kainardji in 1774 ook die beskermheer van die Balkanstate.

Die vryheidsbeginsels van die 18de eeu, wat in die Franse Rewolusie en die Vryheidsoorlog van die Verenigde State 'n groot rol speel, begin saam met die gedagtes van die liberalisme en romantiek van die 19de eeu ook die vryheidsstryd van kleiner volke soos die Bulgare beïnvloed.

Die meeste Europese grootmoondhede probeer voordeel uit die neergang van die Osmaanse Ryk te trek. Rusland is ten gunste van die stigting van 'n onafhanklike Grootbulgaarse Ryk. In die Slag van die Sjipkabergpas behaal Rusland in sy oorlog teen die Osmaanse Ryk (1877-1878) 'n oorwinning, en op die Berlynse Kongres van 1878 word die noordelike Bulgarye met die hoofstad Sofia as 'n selfstandige vorstedom erken, bly egter skatpligtig aan die Turkse Ryk.

Die Duitse Prins Alexander von Battenberg, 'n neef van die Russiese tsarin, word in 1879 vors van Bulgarye. Onder sy heerskappy raak Bulgarye Masedonië en Oos-Roemelië (Thrasië) kwyt. Die laasgenoemde, suidelike deel van Bulgarye word met die hoofstad Plovdiv weer 'n selfregerende gebied met 'n Turkse stadhouder. Oos-Roemelië word in 1885 weer deur Bulgarye verower, en in 1886 doen Prins Alexander afstand van die troon ten gunste van Ferdinand van Sakse-Coburg (1887-1918).

[wysig] Die Koninkryk Bulgarye

Ferdinand aanvaar in 1906 die titel "Tsaar van Bulgarye". Vier jaar later behaal Bulgarye in die Eerste Balkanoorlog saam met Serwië, Griekeland en Montenegro 'n oorwinning Turkye. Bulgarye en Serwië maak albei aanspraak op 'n aantal voormalige Turkse gebiede, wat tot die uitbreek van die Tweede Balkanoorlog tussen Serwië en Bulgarye in 1913 lei. In die Vrede van Boekarest moet Bulgarye Masedonië aan Griekeland en Dobroedja aan Roemenië afstaan.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog sluit Bulgarye hom by die Sentrale Moondhede Duitsland en Oostenryk-Hongarye aan en moet na die gemeenskaplike neerlaag in die Vredesverdrag van Neuilly in 1919 verdere gebiede afstaan: Suid-Thrasië aan Griekeland, Suid-Dobroedja aan Roemenië en 'n aantal gebiede aan die nuutgestigte Joegoslawië. Tsaar Ferdinand doen reeds in 1918 afstand van die troon, en sy seun regeer as Tsaar Boris III tot die jaar 1943.

Die tydperk tussen die twee wêreldoorloë word deur politieke instabiliteit en staatsgrepe gekenmerk. In 1941 word Bulgarye 'n geallieerde van die Duitse Ryk en annekseer met Duitse toestemming en volgens die sogenaamde Tweede Weense Ooreenkoms Nieu-Bulgarye, wat gebiede in die Joegoslawiese deelstaat Masedonië en die Griekse Thrasië insluit. Daarnaas word Roemenië deur die Asmoondhede Duitsland en Italië gedwing om Suid-Dobroedja aan Bulgarye af te staan.

Die minderjarige Simeon II volg in 1943 sy vader as Tsaar van Bulgarye op; die land word deur 'n regentskapsraad onder die leiding van Prins Kirill geregeer.

Die Sowjetunie verklaar op 5 September 1944 oorlog teen Bulgarye en beset die land, wat nou vinnig sy politieke bande met die Asmoondhede verbreek. Enkele dae later verklaar Bulgarye oorlog teen die Duitse Ryk. Die Vaderlandse Unie, 'n koalisie van die Bulgaarse Boerevereniging, die Sosiaal-Demokratiese Party, die Radikaal-Demokratiese Zveno-Bond en die Kommunistiese Party, wat as 'n ondergrondse beweging ontstaan het, slaag op 9 September 1944 daarin om die regering omver te werp en die monargie af te skaf.

[wysig] Die Volksrepubliek van Bulgarye

Die Volksrepubliek van Bulgarye is op 15 September 1946 uitgeroep, en in November word Georgi Dimitrov, die leier van die destydse Bulgaarse Arbeidersparty (wat in 1948 tot Kommunistiese Party van Bulgarye hernoem is), die Eerste Minister van die land. Ná sy afsterwe in 1949 word hy opgevolg deur W. Tsjervenkov, wat tydens sy regering (1950-1956) 'n onverdraagsame Stalinistiese beleid volg.

Ná die dood van Stalin in 1953 word Todor Sjivkov in 1954 die nuwe partyleier, en twee jaar later volg hy Tsjervenkov ook as Eerste Minister op. In 1971 word hy as Voorsitter van die Staatsraad ook die staatshoof van Bulgarye. Sjivkov maak 'n einde aan die isolasie van Bulgarye en soek nouer politieke bande met Westerse lande. Terselfdertyd is die dispute met sy buurstate Griekeland, Joegoslawië en Turkye oor gebiedsaansprake (Masedonië en Thrasië) vreedsaam opgelos. Bulgarye bly egter steeds 'n noue vennoot van die Sowjetunie. In 1949 word Bulgarye 'n lidstaat van die COMECON en in 1955 van die Verdrag van Warschau.

In 1981 word Bulgare van Turkse afkoms gedwing om Bulgaarse vanne aan te neem, en byna 400 000 van hulle verkies om liewer na Turkye te emigreer.

Die nuwe beleid van glasnost en perestrojka in die Sowjetunie raak in die tagtigerjare vinnig ook Bulgarye, en ná massabetogings in 1989 en 'n kortstondige ampstermyn van Sjivkov se opvolger Petar Mladenov bedank die Kommunistiese regering in Februarie 1990. Die eerste demokratiese verkiesing vind in Junie 1990 plaas.

[wysig] Die Republiek van Bulgarye

Volgens die nuwe grondwet, wat in Julie 1991 aanvaar is, is Bulgarye 'n demokratiese en parlementêre republiek met 'n verkose President en 'n Eerste Minister, wat aan die Parlement verantwoordelik is. Die politieke en ekonomomiese transformasie word soos elders in Oos-Europa as 'n moeilike proses ervaar. Die anti-Kommunistiese Unie van Demokratiese Magte (UDM) konsentreer as regeringsparty tussen 1992 en 1994 op die privatisering van die voormalige staatsbedrywe en landhervorming. Die meeste bedrywe was egter nie meer in staat om op die wêreldmark mee te ding nie, en ook die Bulgaarse infrastruktuur blyk te swak te wees vir 'n vinnige modernisering van die ekonomie. Die hervormings het dus tot grootskaalse werkloosheid gelei.

Nasionale Volkspelefees in Rosjen (2006)
Nasionale Volkspelefees in Rosjen (2006)

Die Bulgaarse Sosialistiese Party (BSP), wat veral deur werkers ondersteun word, het onder die leierskap van Djan Videnov in die tweede demokratiese verkiesing van 1995 'n oorwinning behaal. Die nuwe regering het met sy ekonomiese beleid toestande nog vererger, en in 1996 het die land onder 'n hiperinflasie van meer as 260 persent en die bankrotskap van groot dele van die bankesektor gebuk gegaan.

Die UDM het die verkiesing van 1997 gewen, tog blyk ook die nuwe regering onder die Eerste Minister Ivan Kostov nie in staat te wees om die ekonomiese vraagstukke aan te pak nie. Korrupsie het die aansien van die politieke partye verder ondermyn.

Die voormalige Tsaar Simeon II, wat Bulgarye as 'n negejarige moes verlaat, het in 1996 as 'n welvarende sakeman onder die burgerlike naam Simeon Sakskoburggotski (die Bulgaarse skryfwyse van die Huis Sakse-Coburg-Gotha) na sy geboorteland teruggekeer en met sy nuwe politieke party, die Nasionale Beweging Simeon II (NBS2), 'n oortuigende oorwinning in die verkiesing van Junie 2001 behaal. As Eerste Minister volg hy 'n vasbeslote Westerse beleid. Bulgarye het in 2004 die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) toegetree en beoog om in 2007 'n lidstaat van die Europese Unie te word. Alhoewel die ekonomie begin herstel het, bly werkloosheid, korrupsie, misdaad en die gebrekkige onderwysstelsel en gesondheidssorg die grootste vraagstukke. Honderdduisende goed opgeleide Bulgare het die land verlaat om 'n beter heenkome in Wes-Europa en oorsee te vind.

In die verkiesing van 2005 slaag geen van die partye daarin om 'n volstrekte meerderheid van setels in die parlement te win; die Sosialististe en NMB2 het die meeste stemme op hulle verenig. Ná sowat een maand van onderhandelinge is 'n koalisie gevorm, wat uit die BSP, NMB2 en die Beweging vir Regte en Vryheide bestaan. Ondanks hulle ideologiese verskille is die drie partye van plan om die hervormings aan te pak, wat vir die land se toetrede tot die Europese Unie in 2007 noodsaaklik is. Wanbestuur en korrupsie bly nogtans die grootste struikelblokke.

[wysig] Bevolking

Die dorp Momtsjilovtsi
Die dorp Momtsjilovtsi

Meer as 85 persent van die bevolking is etniese Bulgare. Die Turke is met sowat tien persent die grootste etniese minderheid in Bulgarye, alhoewel Bulgare en Turke nie altyd duidelik van mekaar onderskei kan word nie. Baie Islamse Bulgare, waaronder die Pomake in die Rhodope-berggebiede, beskou hulself as Turke. As gevolg van die twee Balkanoorloë en die Bulgariseringsbeleid van die Kommunistiese Party in die jare 1950, 1969 en 1981 het honderdduisende Turke na Turkye geëmigreer. Ook baie Joodse burgers het ná die Tweede Wêreldoorlog 'n nuwe heenkome in Israel gevind. Weens die moelike ekonomiese situasie in die land het ook honderdduisende Bulgare die land sedert die negentigerjare verlaat. Daarnaas het die lae geboortekoers die bevolking van Bulgarye van sowat 8,8 miljoen in 1980 tot 8,4 miljoen in 1995 en 7,7 miljoen in 2005 laat krimp.

Die ander belangrike minderhede is Roma (drie persent), Russe, Armeniërs, Roemene, Grieke en Walagyers.

Die meerderheid van die bevolking is Bulgaars-Ortodokse Christene. Die grootste godsdienstige minderhede is Moslems (vyftien persent), Rooms-Katolieke, Protestante en Jode.

Bulgaars is die amptelike taal van Bulgarye. Saam met Serwokroaties, Masedonies en Sloweens behoort Bulgaars tot die Suid-Slawiese groep van tale, maar net Bulgaars en Masedonies is nou verwant. Albei tale word deur nie-Slawiese, veral Roemeense, Albaanse, Griekse en Turkse invloede, gekenmerk en verskil nou duidelik van die ander Slawiese tale. Die hoofdialkte van Bulgaars is Wes- en Oos-Bulgaars, waarby die laasgenoemde die basis vir die huidige standaardtaal gevorm het. Bulgaars word met die Kirilliese skrif geskrywe.

Masedonies word in Bulgarye dikwels as 'n Bulgaarse dialek beskou; gevolglik is daar byna geen onderwys in dié taal nie. Turks is wél toegelaat as 'n skoolvak, maar mag sedert die amptelike Bulgariseringsveldtogte van die tagtigerjare nie meer as onderwystaal gebruik word nie.

[wysig] Ekonomie

Tot by die Tweede Wêreldoorlog was die landbou die belangrikste sektor van die Bulgaarse alhoewel, wat ook meer as 90 persent van die land se uitvoere opgelewer het. Die bewerkbare grond was oorwegend in die besit van mmer as een miljoen klein plasies met 'n gemiddelde oppervlak van vier hektaar. Byna vier vyfdes van die beroepsbevolking het op hierdie klein boerderye gewerk, wat weens die gebrek aan landboumasjiene en ander uitrusting nie baie produktief was nie.

Akkerbou en nywerhede in die Provinsie Boergas, met die petrochemiese aanleg Neftochim in die agtergrond
Akkerbou en nywerhede in die Provinsie Boergas, met die petrochemiese aanleg Neftochim in die agtergrond
Strand naby Dinev. Die vakansieoorde langs die Swart See is gewilde toeristebestemmings
Strand naby Dinev. Die vakansieoorde langs die Swart See is gewilde toeristebestemmings

Die hoofsaaklike landbouprodukte is koring, mielies, gars, aartappels, rys, groente, vrugte, sonneblome, wyn, beet, katoen en tabak. Die Toendjavallei naby Karlovo en Kasanlak staan bekend vir sy kosbare roosolie, wat veral in die parfuumbedryf, in fynbakkerye en vir likeure benodig word.

Danksy verbeterde metodes, die meganisering en besproeiing is die landbou se opbrengste duidelik verhoog. Ook die veeteelt is gemoderniseer; veetelers spits hulle toe op varkens, pluimvee, beeste, skape en bye. Akkerbou en veeteelt vorm die basis van 'n veelsydige voedselbedryf, wat die plaaslike produkte verwerk.

Ná die oorlog is landbesit van meer as twintig hektaar herverdeel, en in 1947 is die mynbou, nywerhede, bankbedryf en groothandel genasionaliseer.

Die belangrikste grondstowwe is steen- en bruinkool, lood, sink, yster, koper, mangaan, aardgas en ru-olie. Die sekundêre sektor verwerk naas die landbouprodukte ook die inheemse grondstowwe. Ander belangrike bedrywe is die masjienbou, chemie en tekstiele. Die hoofuitvoerprodukte is tekstiele, skoene, yster en staal, masjiene en toerusting en brandstowwe.

Die toerismebedryf is verlal langs die kuslyn van die Swart See goed ontwikkel en 'n belangrike bron van buitelandse valuta. Die landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk beloop tans 11,5 persent, terwyl die nywerheidsektor 30,1 persent en die dienstesektor 58,4 persent oplewer.

Die makroekonomiese beleid van die huidige Bulgaarse regering is veral daarop gemik om stabiliteit en ekonomiese groei te handhaaf. Die Lev, Bulgarye se geldeenheid, is in 1997 aan die Duitse Mark gekoppel, en die lae inflasiekoers het die vertroue in die land herstel. Met 'n gemiddelde jaarlikse groeikoers van vier persent sedert die jaar 2000 en grootskaalse buitelandse beleggings is die ekonomiese vooruitsigte gunstig. Nogtans is die groot vraagstukke van die land soos korrupsie, die swak regstelsel en georganiseerde misdaad nog nie werklik aangespreek nie.

[wysig] Kookkuns

Tarator is 'n koue sop, wat onder meer van jogurt en komkommers gemaak word
Tarator is 'n koue sop, wat onder meer van jogurt en komkommers gemaak word
Banitsa, 'n pastei van geklitste eiers, wit kaas en bladerdeeg
Banitsa, 'n pastei van geklitste eiers, wit kaas en bladerdeeg

Net soos die kookkuns in ander Balkanlande word ook Bulgarye se kulinêre tradisie deur Griekse, Turkse en Levantynse, maar ook Italiaanse, Mediterreense en Hongaarse invloede gekenmerk. Danksy die redelik warm klimaat word 'n groot verskeidenheid groentes, kruie en vrugte verbou, wat tot die veelsydigheid van die Bulgaarse kookkuns bydra.

Slaaie soos sopka salata (gemengde slaai met skaapkaas) word gedurende elke maaltyd bedien, net soos die groot verskeidenheid suiwelprodukte, inheemse wyne en plaaslike alkoholiese dranke soos rakia (brandewyn), mastika (anyslikeur) en menta (pepermentlikeur). Koue en warm soppe soos tarator, wat onder meer van komkommers gemaak word, is steeds gewild.

Pasteie soos banitsa of moessaka (met maalvleis, eiers, aartappels en eiervrugte), bredies soos gjoevetsj (met vleis en groente), piperki palneni (met rys en maalvleis gevulde rissies), sjisjtsjeta (stukkies vleis wat aan die spit gebraai word) en telesjko (kalfsvleis met groen boontjies, tamaties en sous) is bekende geregte.

Podkwassa (jogurt) is moontlik 'n Bulgaarse uitvinding, wat net soos melk, kwark (vars wit kaas) en kaas 'n groot rol in die plaaslike kookkuns speel. Ajrjan, met water vermengde jogurt, is 'n verfrissende drank.

[wysig] Sien ook



 
Europese Unie (EU)
Vlag van die Europese Unie
België | Bulgarye | Ciprus | Denemarke | Duitsland | Estland | Finland | Frankryk | Griekeland | Hongarye | Ierland | Italië | Letland | Litaue | Luxemburg | Malta | Nederland | Oostenryk |
Pole | Portugal | Roemenië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Tsjeggië | Verenigde Koninkryk
Static Wikipedia 2008 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -

Static Wikipedia 2007 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -

Static Wikipedia 2006 (no images)

aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu